Die effek van ryp op Nama-Karoobossies

Estimated reading time: 3 minutes

Sekere dele van die land is in die wintermaande bekend vir temperature wat onder vriespunt daal. Dit belemmer dikwels plantegroei en verhoog vee se energiebehoeftes. Dr Lisa Hebbelmann is ‘n weidingsekoloog wat in Middelburg in die Oos-Kaap woon. Sy is goed vertroud met die ysige winters daar en verstaan hoe rypbiome werk.

Ryp, sê sy, speel ‘n belangrike rol in hoe die grense tussen die Nama-Karoo en die omliggende sukkulente-, ruigtes- en savannabiome bepaal word. “Die oorgrote meerderheid Karoobossies wat in die Nama-Karoo voorkom is rypverdraagsaam. Om die waarheid te sê, die meeste Karoo-plantspesies is grotendeels rypverdraagsaam. Dit is ook bevind dat hierdie bossies in die koudste liggings bokant die grond kan groei. Daar kan wel ‘n paar uitsonderings op die bioomgrense voorkom.”

Die Nama-Karoo se boomlose vlaktes onderskei dit van die ander biome. Ryp is geneig om die vestiging van rypgevoelige, houtagtige spesies soos Acacia karoo te beperk. Klein akasias ryp dood of hul groei word belemmer en die plant kry dus nie kans om op die oop Karoovlaktes te vestig nie.

Lees ‘n artikel hier oor karoobossies as veevoeding in die Karoo.

Die effek van grondvog en ryp

“Gereelde ryp het nie ‘n skadelike uitwerking op Karoobossies se vermoë om in die winter aan te hou groei, blom en saad te vorm nie. Dit is wel so dat hierdie plante in warmer toestande floreer en dat hul groei gedurende die wintermaande afneem.

“In een van my gepubliseerde studies het 80% van die Eriocephalus ericoides-struike in die studiegebied regdeur die winter geblom, dít terwyl ryp algemeen voorgekom het. Dit was ook interessant dat die plant se saadproduksie op sy hoogste was gedurende die wintertydperk. Verskeie ander dwergstruikspesies het ook gedurende die koudste tyd van die jaar geblom. Dit is opmerklik dat ryp nie hul reproduksiesiklusse beïnvloed nie.”

Eriocephalus spinesence (doringkapok) met ‘n dik ryplaag op sy stam en blare.

Natuurlike biochemie

Plante gebruik sekere biochemiese strategieë om rypskade te vermy. Dit wil voorkom asof hulle die vermoë het om oplosbare stowwe op te hoop wat dan vriespunte verlaag en amper soos ‘n antivriesmiddel optree. Hierdie en ‘n paar ander strategieë verminder die kanse op sellulêre skade en ondersteun oorlewing in die koue. “Ons weet nog nie watter van hierdie strategieë deur Karoobossies aangewend word nie.”

Koue en temperature onder vriespunt vertraag verdampingsprosesse wat daartoe lei dat grondvog in die kouer maande langer behoue bly. Omdat Karoobossies gedurende die winter kan groei, het hulle toegang tot hierdie vog. Die meeste Karoo-grasse, daarenteen, kan nie in hierdie koue temperature groei nie. “Ek is nie daarvan bewus dat temperatuur Karoobossies se wortels beïnvloed nie en het nog nie literatuur gesien wat hierna verwys nie. Veeprodusente in die Nama-Karoo sal onwaarskynlik rypbeskadigde Karoobossies aantref, hoewel dit moontlik op die bioomgrens kan voorkom indien onverwagte koue sou voorkom.”

Veebestuur in hierdie koue tydperk behoort meer gerig te wees op die vermindering van stres in die diere en die bestuur van die wintervoedselbron wat die bossies bied. Deur byvoorbeeld vee elke jaar op dieselfde tyd in meer beskutte kampe te plaas, kan ‘n negatiewe uitwerking op daardie struikgemeenskappe hê. Dit is omdat die bossies jaarliks op dieselfde tyd weidingsdruk sal ervaar, juis in ‘n tyd wanneer sommige struike blom en saad vorm. Erge beweiding kan selfs die plante se vermoë om te reproduseer, ontwrig. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting oor haar navorsing, kontak dr Lisa Hebbelmann by 079 165 7131 of e-pos lisahebbelmann@gmail.com

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...