Estimated reading time: 7 minutes
Aangeplante weiding is ’n bate vir enige veeplaas, maar dit moet goed beplan en bestuur word om optimale produksie daaruit te kry. Soveel faktore is by die bemesting van aangeplante weiding betrokke, dat die proses met oorsig benader moet word.
Of jy nou ’n huis bou, ’n besigheid begin of nuwe gewasse plant – alles behoort op ’n stewige en sterk basis geskoei te wees, want as daardie basis nie sterk is nie, kan die hele produksiestruktuur op die ou end inmekaar tuimel.
Gesonde grond as basis
Dieselfde beginsel geld by die bemesting van aangeplante weiding. Soos met enige ander tipe gewas, is aangeplante weiding afhanklik van die gesondheid van die grond – dit is die basis waarop jy jou gewasse plant en waarvan die sukses van jou weiding afhanklik is. Daarom moet grondontleding heel bo-aan jou lysie van beplanning staan.
Alle gewasse is afhanklik van hoe doeltreffend dit kan fotosinteer. Daardie fotosintaat skakel om in biomassa, wat dan deur die diere verbruik word, maar dit skakel ook om in wortel-eksudate wat in die grond uitgeskei word om skadelike mikrobes te inhibeer, en die groei van die plant en verwante plante te bevorder. Dit voed dus die grondekostelsel, verbeter die vrugbaarheid van die grond en bevorder uiteindelik die lewensvatbaarheid van die aangeplante weiding.
Dit is die mening van Maret van Rensburg, landboukundige van AECI Plant Health. Hetsy dit weiding- of kontantgewasse is, sê sy dat die kuns daarin lê om eers die grond se fisiese, dan die chemiese en dan die biologiese fasette in optimale kondisie te kry, sodat so min as moontlik onderhoudsbemesting toegedien hoef te word.
Sy glo die dae waar slegs ’n bietjie stikstof en/of fosfaat op aangeplante weidings toegedien word, is verby. Produsente maak al hoe meer van holistiese beginsels gebruik om hoër produksie en laer veeartskoste te bewerkstellig.
“Alle fasette van aangeplante weiding moet deur voeding aandag kry. Dit begin by die regstelling van kalsium in die grond, wat belangrik is vir diere se been- en spierontwikkeling; magnesium wat vir energiemetabolisme en hoefgesondheid noodsaaklik is; en kalsium en fosfaat, wat weer nodig is om die energiestelsels van beide die plante en diere te ondersteun.”
Dit is nodig om die vrugbaarheid van die grond te bestudeer en seker te maak dat al die minerale en elemente wat die plante nodig gaan hê, beskikbaar is.
Beplan jou bemesting
Nadat bepaal is wat alles nodig gaan wees om die grond gesond en vrugbaar te kry, is dit tyd vir die volgende stap in die proses, naamlik beplanning. Hennie Langenhoven, grondkundige by Yara Fertilizer, sê verskeie faktore moet in ag geneem word in hierdie beplanningsproses. Die eerste is die rede waarom jy die weiding wil bemes. Reënval in die gebied sal ook ’n groot rol speel, asook watter tyd van die jaar geplant gaan word.
Maret stem hiermee saam en voeg by dat sekere addisionele aspekte by die beplanning ingereken moet word. “Indien dit baie koud is, is dit byvoorbeeld onnodig om ortofosfate soos mono-ammoniumfosfaat (MAP) en diammoniumfosfaat (DAP) toe te dien, en sal polifosfate ’n beter keuse wees om kouestres teen te werk en groei te verbeter. Indien dit baie warm is, is kaliumaanvullings weer ’n beter opsie.”
Die wetenskap van aanplanting wys ’n mens gou dat dit oor meer as net die konsentrasie van elemente wat in die grond moet wees, gaan. Die verhoudings van die elemente tot mekaar is ewe belangrik.
“Plantvoeding vind grotendeels plaas as gevolg van hierdie interaksie van verhoudings,” sê Maret. “Die effek van die verhoudings kan ten dele gelyk gemaak word deur die gebruik van toepaslike inokulante, maar ongelukkig is die gebruik van inokulante onderhewig aan sekere voorwaardes, wat meestal nie vóór toediening aandag kry nie en dus die sukses van die grondmikrobes benadeel.”
Daarbenewens sal die toestand van die grond en weidingsdruk ook bepaal of jy ’n volwaardige bemesting moet toedien of slegs blaarvoeding. Blaarvoeding dien bloot as ’n sein vir die plant om die voeding uit die grond te onttrek en kan nie bemesting vervang wanneer die situasie eerder deur onderhoudsbemesting opgelos moet word nie.
Sy sê dit hang ook af van die samestelling van die weidingspesies en verskillende tipes weidingspraktyke. “As ’n spesiemengsel gebruik word, is dit dikwels slegs nodig om goeie grondregstellings te doen. Monokulture benodig dikwels meer onderhoudsbemesting.”
Die implementeringsproses
Nog faktore speel ’n rol by die toediening van bemesting op weidings. Hennie sê hoewel verpakte bemestingmengsels beskikbaar is, beteken die uiteinde dikwels dat jy telkens alles wat die weidinggewas nie noodwendig nodig het nie, toedien. Die beste benadering is om grondontledings met blaarweefsel- of sapontledings te vergelyk om vas te stel watter elemente vir watter redes ontbreek.
Volgens Maret gebruik landboukundiges ontrekkingsyfers – met ander woorde, hoeveel ton per hektaar geproduseer word – om die verwydering van elemente te bepaal en sodoende vas te stel hoeveel van elke element nodig is.
“Ongelukkig, veral met die gebruik van bewaringsboerderybeginsels, word die afhanklikheid van stikstofkunsmis byvoorbeeld onderbestuur, deur net die gaswisseling en wortelgesondheid van die grond en weiding reg te stel. Praktyke soos ultrahoëdrukbeweiding kan baie suksesvol toegepas word om nie net die onkruiddruk te verlaag nie, maar ook om voedingstofsiklusse te verbeter.”
Die teenwoordigheid van die diere speel ’n belangrike rol in die implementeringsproses. Hennie wys daarop dat diere nie op die aangeplante weiding toegelaat moet word nadat bemesting toegedien is nie. Sy raad is om ’n voedingkundige in te roep, wat ’n aanduiding kan gee oor die tydperk waarin diere nie toegelaat moet word nie.
Maret sê die tipe diere wat op die weidings loop, moet ’n steil potensiële groei- of produksiekurwe hê, maar om die hoër produksie te ondersteun, moet die weiding sodanig wees dat die diere nie hoef te soek na voeding nie.
“Anders as met ekstensiewe stelsels, waarin die dier se vermoë om aktief kos te soek of om voedingstowwe uit minder smaaklike plante te kry, noodsaaklik is, is aangeplante weiding juis van so ’n aard dat gehalte voeding orals beskikbaar is. Op aangeplante weiding is dit dus uiters belangrik om aanvullings te bied wat hierdie hoë vlak van genetiese produksie kan ondersteun.”
Evaluering van bemesting
Soos met enige besigheidsproses, is dit belangrik om gereeld jou projek te evalueer om te sien of jy in al die doelwitte en verwagtinge wat jy gestel het, geslaag het. Maret stel voor dat aangeplante bestuursones geïdentifiseer en grondontledings gereeld gedoen word om vas te stel watter elemente gebruik en watter eerder weggelaat kan word.
“Die voordeel van presisie-ontledings is dat jy ’n duidelike prentjie kry van watter areas beter insette benodig. As jou finansies dit nie toelaat nie, kan jy bestuursones identifiseer en altyd op dieselfde plek grond- en blaarmonsters neem.
“Die doel van grondontleding is om vas te stel hoeveel van watter grondregstellende produkte benodig word, maar dit is ewe handig tydens die evaluasieproses, om te sien hoe die grond oor ’n bepaalde tyd verbeter of agteruitgaan. Dit kan slegs gedoen word as spesifieke geo-punte oor ’n tyd met mekaar vergelyk word,” sê sy.
Om te besluit of jy jou aangeplante weiding gaan bemes of nie, asook hoe die samestelling van die elemente behoort te lyk, is dit raadsaam om die proses sorgvuldig te beplan. Daarna moet jy die kennis wat uit gereelde, stelselmatige grondontledings verkry word, toepas vir die beste resultate. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Maret van Rensburg by 072 393 4492
of Hennie Langenhoven by 082 469 4142.