Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes

Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal in Potchefstroom. Polisiewoordvoerder, kolonel Adéle Myburgh, sê Robert Joubert (73) se saak kom weer eerskomende Donderdag (18 Desember) in die distrikshof in die stad voor.

Joubert word nou aangekla vir die dubbele moord op die Fourie-broers, Johnathan en Deon, albei direkteure van die Chubby Chick-hoenderonderneming. Dit kom nadat Deon, wat ernstig gewond is tydens die skietvoorval op Maandag, 10 November, by die maatskappy se hoofkantoor in die stad se nywerheidsgebied, Sondagoggend, (14 Desember) in ’n Gauteng-hospitaal oorlede is.

Johnathan is tydens die voorval noodlottig gewond. In ’n mediaverklaring, het die maatskappy bevestig dat die skietvoorval op ’n vergadering tussen die twee broers en Joubert gevolg het, rakende ’n eiendomsverwante aangeleentheid.

Komplikasies weens skietwonde

John-Henré Engels, waarnemende bestuurder van dié maatskappy, het later in ’n volgende mediaverklaring gesê Deon het aanvanklik noodchirurgie ondergaan, nadat hy per helikopter na ’n hospitaal in Johannesburg  geneem is. Hy is in die intensiewe hoësorgeenheid behandel.

Volgens Engels is ’n verdere operasie toe uitgevoer wat in daardie stadium volgens mediese personeel suksesvol was. Die sedasie sou daarna geleidelik verminder word soos ‘klinies verantwoordbaar’ was.

Deon het daarna verskeie operasies ondergaan. Volgens Johan van Zyl van Jake Media, was daar komplikasies as gevolg van Deon se skietwonde. Van Zyl het vroeg Sondagmiddag aan AgriOrbit bevestig dat Deon oorlede is.

Deon Fourie wat Sondagoggend oorlede is. (Foto verskaf deur Jake Media.)

Hofverskynings

Kol Myburgh sê Joubert het nog elke keer in absentia in die hof verskyn omdat hy nog behandeling ontvang, nadat hy tydens die voorval deur ’n sekuriteitswag gewond is.

Joubert se saak het op 12 November vir die eerste keer in die hof voorgekom, waarna dit op 19 November en op 11 Desember weer voorgekom het.  Joubert het aanvanklik tereggestaan op ’n aanklag van moord en poging tot moord.

’n Lewevieringsdiens is intussen verlede Maandag (8 Desember) in Potchefstroom vir Jonathan gehou.    

’n Eiendomstransaksie

Kol Myburgh, het aanvanklik gesê die skietvoorval het omstreeks 10:45 plaasgevind na ’n vergadering. Chubby Chick het daarna bevestig dat die vergadering oor ’n eiendomstransaksie gehandel het en na afloop van die vergadering het die verdagte die gebou verlaat, maar ongeveer 30 minute later teruggekeer.

Op daardie stadium was Deon steeds in die raadsaal toe die verdagte die gebou binnegekom en hom verskeie kere geskiet het. Deon het om hulp geroep, waarna Johnathan onmiddellik gereageer en die verdagte in die raadsaal ontmoet het, waar Johnathan ook verskeie kere geskiet is.

Kol Myburgh het gesê veiligheidspersoneel het vinnig op die skote gereageer.

Samewerking met polisie

Die maatskappy het daarna gesê daar kan nie kommentaar gelewer word op gerugte, spekulasie of ongeverifieerde bewerings oor motiewe, beweerde ooreenkomste of familiekwessies nie. Dit is omdat inligting van daardie aard deel van die polisieondersoek vorm en die maatskappy saam met die owerhede in hierdie verband werk. Die maatskappy het verder gesê Joubert was nie ’n werknemer, oud-werknemer of kontrakteur nie. Verdere gerugte dat dit ’n rasverwante voorval was, is ook ten sterkste veroordeel.

Die maatskappy het verder gesê sy sakekontinuïteitsplan het onmiddellik in werking getree na die voorval. Die welstand van werknemers is ook geprioritiseer. Omvattende beradings- en traumadienste is aan alle werknemers en hul gesinne beskikbaar gestel. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...