Estimated reading time: 6 minutes
Deon Fourie, mede-direkteur van Chubby Chick in Potchefstroom, is vanoggend (14 Desember) in ‘n Gauteng-hospitaal oorlede. Die nuus is deur Johan van Zyl van Jake Media bevestig.
Dit kom nadat Deon op Maandag, 10 November, ernstig gewond is tydens ’n skietvoorval by die maatskappy se hoofkantoor in die stad se nywerheidsgebied.
Sy broer, Johnathan, mede-direkteur, is tydens die voorval noodlottig gewond. Volgens John-Henré Engels, waarnemende bestuurder van dié maatskappy, het Deon noodchirurgie ondergaan nadat hy per helikopter na die hospitaal geneem is.
Verdagte bekend
Intussen het polisiewoordvoerder, kolonel Adéle Myburgh, bevestig dat die verdagte, Robert Joubert (73) se saak op 19 November, weer in sy afwesigheid, voor die landdroshof in Potchefstroom voorgekom het. Hy word van moord en poging tot moord aangekla. Dit kom nadat die saak op 12 November vir die eerste keer voorgekom het. Joubert was ook nie teenwoordig nie. Kol Myburgh sê hy is steeds onder polisiebewaking in ’n plaaslike hospitaal. Joubert se derde hofverskyning was op 11 Desember.

Chubby Chick reageer op spekulasie
Volgens Engels is daar in hierdie stadium geen bykomende inligting beskikbaar buiten wat in die amptelike mediaverklaring wat deur Chubby Chick uitgereik is, vervat is nie. Die voorval het gevolg op ’n vergadering tussen die twee broers en die verdagte, glo rakende ’n eiendomsverwante aangeleentheid.
Chubby Chick kan nie kommentaar lewer op gerugte, spekulasie of ongeverifieerde bewerings oor motiewe, beweerde ooreenkomste of familiekwessies nie. Inligting van daardie aard is deel van die polisieondersoek en die maatskappy werk saam met die owerhede in hierdie verband.
Daar word weer ’n ernstige beroep op die publiek en die media gedoen om slegs geverifieerde inligting te deel en nie ongegronde spekulasies te versprei nie.
Tydlyn
Kol Myburgh, het bevestig dat die voorval omstreeks 10:45 plaasgevind het. Die verdagte het na afloop van ’n besigheidsvergadering ’n vuurwapen uitgehaal en begin skiet.
Chubby Chick het in ‘n persverklaring bevestig dat die vergadering vermoedelik oor ‘n eiendomstransaksie gehandel het. Na afloop van die vergadering het die verdagte die gebou verlaat, maar ongeveer 30 minute later teruggekeer.
Op daardie stadium was Deon steeds in die raadsaal toe die verdagte die gebou binnegekom en hom verskeie kere geskiet het. Deon het om hulp geroep, waarna Johnathan onmiddellik gereageer en die verdagte in die raadsaal ontmoet het, waar hy ook verskeie kere geskiet is.
Kol Myburgh sê veiligheidspersoneel het vinnig op die skote gereageer. Die verdagte is gewond en word in ’n plaaslike hospitaal onder polisiebewaking gehou. Sy sê die polisie ondersoek in hierdie stadium ’n klag van moord asook poging tot moord. Na wat verneem word, is Deon in die intensiewe hoësorgeenheid van ’n hospitaal in Johannesburg opgeneem.
Gerugte weerlê
Chubby Chick het egter mediagerugte dat die verdagte ‘n formele verbintenis het ontken. Hy was dus nie ‘n werknemer, oud-werknemer of kontrakteur nie. Die maatskappy het verdere gerugte dat dit ‘n rasverwante voorval was ten sterkste veroordeel.
Gebeurlikheidsplan in werking
Die maatskappy se sakekontinuïteitsplan het onmiddellik in werking getree, en daarom gaan die maatskappy voort met sy bedrywighede soos normaalweg terwyl die welstand van sy mense geprioritiseer word.
Omvattende beradings- en traumadienste is aan alle werknemers en hul gesinne beskikbaar gestel. Hierdie sessies is tans aan die gang, en verdere ondersteuning sal voortgesit word waar nodig.
Chubby Chick het in ‘n verklaring ’n beroep op die publiek en media gedoen om nie ongeverifieerde inligting of gerugte te versprei nie, veral op sosiale media.
“Ons gedagtes en gebede is by die Fourie-familie, ons werknemers, en almal wat deur hierdie tragedie geraak is. Ons doen ‘n beroep op die publiek en die media om hul privaatheid in hierdie moeilike tyd te respekteer.”
‘n Verlies vir die bedryf
Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaikuikenorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging (SAPV), sê die organisasie het met groot skok van die voorval verneem. Hy sê dat Chubby Chick ná meer as 70 jaar in die bedryf beslis een van die mees gerekende en een van Suid-Afrika se min oorblywende, suksesvolle hoendermaatskappye in privaatbesit is. Johnathan en Deon het, ná die afsterwe van hul pa, John (voormalige besturende direkteur van Fourie’s Poultry, ook bekend as Chubby Chick), in Mei 2023, die leisels oorgeneem en hulle goed van hul taak gekwyt.
Volgens Breitenbach is die broers gerespekteerde figure in die bedryf en daar word met groot agting na hulle opgekyk. “Hierdie familiebesigheid is ’n juweel in die kroon van hoenderproduksie in Suid-Afrika, en die Fouries is vir dekades al ’n integrale deel van die bedryf,” sê Breitenbach. Hy beskryf die voorval as tragies en sê die SAPV betuig sy innige medelye jeens Johnathan se naasbestaandes, familie en vriende, en wens vir Deon ’n goeie herstel toe.
“Dit is ’n voorval wat nie in ons bedryf hoort nie. Dit is ’n groot tragedie wat nie net ’n impak op Chubby Chick as maatskappy sal hê nie, maar ook op die breër pluimveebedryf, veral gegewe die waardevolle bydrae wat die maatskappy oor die jare gelewer het,” sê hy.
’n Generasie van gehalte
In ’n artikel in Poultry Bulletin het Deon, landboudirekteur van Chubby Chick en lid van SAPV se braaikuikenraad, verduidelik dat hulle as Chubby Chick handel dryf – ’n naam wat sy pa, John, uitgedink het toe hy die onderneming oorgeneem het. Fourie’s Poultry Farms (Chubby Chick) is in 1955 gevestig. Chubby Chick verkoop egter nie baie produkte onder hierdie naam nie, aangesien ’n groot deel van hul besigheid met hul hoofkliënt, Woolworths, is – en daardie hoenders is ongemerk. Hulle verskaf ook braaikuikens aan hul eie franchise-kleinhandelaar en -groothandelaar, OBC, waarvan die produkte die OBC- en Chubby Chick-handelsmerke dra.
Deon se oupa en naamgenoot het die onderneming op ’n kleinhoewe buite Potchefstroom begin. Toe Deon se oupa in 1969 oorlede is, het sy seuns oorgeneem, elk met beheer oor ’n besigheidseenheid wat ’n braaikuikenuitgroei-komponent, ’n teelhoenderbesigheid, voermeulens, en abattoirs ingesluit het. Deon se pa, John, was egter die entoesiastiese pluimveeprodusent en het uiteindelik sy broers uitgekoop en al die afdelings geïntegreer.
Chubby Chick produseer meer as 650 000 kommersiële en 120 000 vrylopende hoenders per week en het sowat 3 000 werknemers in diens. Dit is een van die grootste werkgewers in die Potchefstroom-omgewing. Johnathan het die verwerkingsgedeelte van die maatskappy hanteer. Deon se seun, John jr, en Johnathan se seun, Robert, is reeds by die maatskappy betrokke.
Toekennings
Chubby Chick was vanjaar onder die land se voorste pluimveeprodusente wat deur Arbor Acres Suid-Afrika vereer is met die Arbor Acres Achievers-teel- en braaikuikenklubtoekennings. Produsente wat ’n teelprestasie van 140 of meer kuikens per hen op 60 weke ouderdom behaal het, het erkenning ontvang. Erkenning is ook gegee aan produsente wie se braaikuikens ’n Europese Produkdoeltreffendheidsfaktor (EPEF) van 400 of hoër bereik het.
Chubby Chick het 161,35 kuikens per hen op 60 weke behaal, terwyl hul topbraaikuikens ’n indrukwekkende EPEF van 498,34 aangeteken het. Hierdie uitsonderlike prestasie het aan die maatskappy goudlidmaatskap in beide die teel- en braaikuikenklubs besorg.
Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

