Estimated reading time: 7 minutes
’n Skaap uit die geskiedenis van Afrika, vir die toekoms in die Bosveld. Dit is hoe Theo Hoffman die Bosvelderskaap beskryf. Hartwater was vir lank die doodsteek van geslaagde skaapboerdery in die noordelike Bosveldgedeeltes van Suid-Afrika. Dié skaapras is nou die antwoord vir produsente wat skape in dié gebiede wil aanhou.
Theo, die voorsitter van die Bosvelder-studiegroep, sê hy wou altyd graag met skape boer, maar sy pa, Hoffie, ’n deurwinterde beesboer, wou nie eintlik die diere op hul werf hê nie. Vandag is die Bosvelders egter ’n integrale deel van hul boerdery op Mooiplaas naby Middelburg in Mpumalanga.
Hoffie het sowat 16 000ha in die ou Rhodesië bewerk, met 2 800 vleisbeeste geboer en 600 koeie gemelk totdat hy daar moes padgee. Daarna het hulle op die Loskop-besproeiingskema met tabak geboer en in 2011 het hulle Mooiplaas gekoop. Daar verbou hulle mielies en sojabone, en Hoffie boer met beeste en Theo met skape.
Die begin van ’n ding
In 2009 het skaapboere begin teel aan dié ras wat ideaal uit 50% Bapedi-, 25% Witdorper- en 25% Van Rooy-skaap bestaan. Die doel was om ’n dier te kry wat by die veeleisende toestande van die Bosveld kan aanpas, en veral weerstand teen hartwater en parasiete kan bied. In 2012 is die Bapedi-studiegroep na die Bosvelder-studiegroep verander.
Dié skape het Theo se aandag getrek, want hy het aan die begin van sy skaapboerdery 170 ooie van ’n bekende en gewilde skaapras gekoop, maar nadat die meeste hoofsaaklik aan hartwater gevrek het, was daar uiteindelik net 18 oor. Hy het ’n Bapedi-ram te leen gekry en dié nageslag het nuwe rigting aan sy onderneming gegee. Van toe af het hy slegs Bapedi-ooie aangeskaf.
Ontwikkeling van die ras
Die Bapedi-skape bestaan van die vroegste tye af en het saam met inheemse stamme deur Afrika na die suide van die vasteland beweeg, en só in die Bosveld van Suid-Afrika beland. Deur die eeue het natuurlike seleksie gesorg dat net die mees geharde skape wat by die wisselende toestande van die vasteland kon aanpas, oorleef en vermeerder het.
Dit maak dié skape baie aantreklik, maar die karkas wat hulle produseer voldoen nie aan die vereistes van die hedendaagse mededingende mark nie. Om beter slagdiere te probeer produseer, is Witdorper-ramme op Bapedi-ooie gebruik, en ’n merkwaardige verbetering het plaasgevind. Die nageslag het baie beter gegroei en in ’n netjiese slaglam ontwikkel.
Later is Van Rooy-skape ook in die teelprogram gebruik om die vleisgehalte, langslewendheid en moedereienskappe van die skape aan te vul. Die Van Rooy-skape is ook bekend daarvoor dat hulle droogtes goed deurstaan en uitstekend onder ekstensiewe toestande vaar.
Die skape is hoogs vrugbaar, het goeie moedereienskappe, ’n sterk tropinstink, is gehard en aangepas by die toestande in die Bosveldgebiede. Dié ras bied aan skaapboere in daardie streke die geleentheid om winsgewend met skape te boer.
Theo sê hulle het nou al tot F4-Bosvelders gevorder. Die meeste telers gebruik nou Bosvelder-ramme om verder te teel, en Van Rooy- en Witdorper-ramme word baie selektief vir korrektiewe teling gebruik.

Die weerstandbiedendheid teen hartwater waarvoor die Bapedi-skape sorg, is egter die grootste voordeel van die Bosvelders en hy waarsku telers om nie die Bapedi-komponent van die skaap te verminder, bloot om swaarder karkasse te teel nie. ’n Paar skape wat aan hartwater of as gevolg van swaar parasietbesmetting vrek, kanselleer dadelik die voordeel van swaarder karkasse uit.
Bemarking van Bosvelderskape
Bosvelderskape is mediumraamdiere met volwasse ooie wat gemiddeld 45kg, en ramme wat van 80 tot 90kg weeg. Daar is hoofsaaklik twee markte, naamlik die slagmark waarvoor lammers bemark word as hulle vyf tot ses maande oud is en tussen 40 en 45kg weeg, en lammers wat aan voerkrale gelewer word. Laasgenoemde word bemark as hulle sowat 100 dae oud is en tussen 25 en 30kg weeg.
Theo sê die produksie van stoorlammers is gewild omdat die lammers ná 100 dae van die veld af is en die produsent gevolglik meer ooie kan aanhou. Die gemiddelde prys vir stoorlammers is R45/kg lewende gewig. Voer is tans betreklik duur, wat dit moeilik maak om self die lammers winsgewend slaggereed te maak.
Daar is ook ’n goeie vraag na lewende skape en ’n groot deel van die lammeroes word jaarliks van plase af verkoop. Dié skape is baie gewild, omdat hulle ewe geslaagd ekstensief en intensief geboer kan word en lammers gee wat van die veld af bemark kan word.
Hy boer ekstensief met sy skape wat ’n winter- en somerlek kry op hartwaterveld. Die diere word nie voorkomend teen die siekte behandel nie. Dié wat hartwater kry, word behandel en uitgeskot om te verseker dat die weerstandbiedendheid van die kudde nie afgewater raak nie.
Twee wagters versorg die kudde van sowat 1 200 diere. Ooie wat gelam het word soggens in ’n tydelike kampie gesit totdat die lam sterk genoeg is om saam veld toe te gaan. Die kampies is altyd in die omgewing waar die groot trop wei en Anatoliese herdershonde verseker dat ongediertes nie ’n probleem raak nie.
Baie jakkalse en rooikatte kom in die omgewing voor en Theo het hom onlangs teen ’n luiperd vasgeloop wat uiteindelik deur die honde verwilder is. ’n Nagwag sorg dat veediewe nie toegang tot die skape kry nie.
Die Bosvelder-studiegroep
Hy sê die gewildheid van die Bosvelders het in die afgelope tyd baie toegeneem. Die Bosvelder-studiegroep het nou sowat 30 lede met nagenoeg 7 000 skape. Die lede is nou al wyd versprei en boer tot by Somerset-Oos, Piketberg, Plettenbergbaai en Potchefstroom.
Die studiegroep bied ’n jaarlikse veiling aan en op 5 Februarie 2022 vind hul tiende veiling op Bela-Bela plaas, waar sowat 200 gekeurde ooie en 25 gekeurde ramme aangebied gaan word. Net lede van die studiegroep bied diere op die veiling aan.
Daarby word gereelde boeredae gereël, waartydens kenners oor skaapboerdery en die Bosvelder in die besonder praat, en waar diere vertoon en bespreek word.

Die vraag na skape met ’n lae onderhoudsbehoefte is groot. Dit word bevestig deur die pryse wat op die jongste veiling van die studiegroep betaal is. Sy indruk is ook dat wildboere wat hul wild na oop plase verskuif het en teelkampe beskikbaar het, baie in die skape belangstel.
Ondanks die uitdagings van die Covid-19-pandemie, het ongeveer 60 kopers by die laaste veiling op Bela-Bela opgedaag en nog sowat tien kopers het elektronies aan die veiling deelgeneem. Veertien lede van die studiegroep het uitstekende diere aangebied.
Altesaam 19 Bosvelder-ramme is teen ’n gemiddelde prys van R9 875 verkoop en die hoogste prys vir ’n ram was R19 000. Ooie is teen ’n gemiddelde prys van R5 324 verkoop. Die duurste ooi met ’n lam is vir R12 500 verkoop en R10 000 is die hoogste prys wat vir ’n dragtige ooi betaal is. Die rekordprys vir ’n ram was R65 000 en vir ’n dragtige ooi R25 000.
Die skape is ook baie gewild by opkomende boere wat die voortreflike eienskappe van die Bapedi-skape reeds ken en nou skape met dieselfde voordele, maar ’n beter karkas kan kry. Theo sê hy is baie opgewonde oor die toekoms, want hy glo dié skaap is ideaal vir die toekoms van ’n skaapbedryf in die hartwatergebiede van die Bosveld.
Vir meer inligting, kontak Theo Hoffman by 084 313 7356 of theohoffman@yahoo.com.
