Estimated reading time: 7 minutes
Droogtes is ’n werklikheid in sekere dele van die land. In die Noord-Kaap spot die boere al en sê hulle het dekades se ondervinding in droogtes en jy kan hulle niks leer nie, maar wanneer jy ernstig begin gesels, spits almal hul ore om te hoor of daar nie iets nuuts is wat hulle deur die volgende droogte sal kan help nie. Hulle wéét daar gaan weer ’n droogte kom.
Tydens ’n NWKV-inligtingsdag op Fraserburg was dit een van die besprekingspunte wat heelwat belangstelling gelok het. Navorsing is reeds gedoen oor droogtehantering in veegebiede en die aanpassings wat boere moet maak.
Wêreldwyd word meer van boere verwag
Tydens die Verenigde Nasies se COP29-klimaatberaad het dit na vore gekom dat die wêreld van die boer verwag om klimaatsverandering te antisipeer, absorbeer, akkommodeer en herstel.
Die vraag is egter of boere in die Karoo weerbaar is om aan hierdie verwagtinge te voldoen. Een ding is seker: Die ou manier van boer, is nie meer volhoubaar nie en boere moet gedurig hul boerderymetodes aanpas om in lyn te bly met die vraag en aanbod aan die een kant, en ander dinge waaroor hulle geen beheer het nie, soos klimaatsverandering, aan die ander kant.
Navorsing oor droogtebestuur
Vorige navorsing het bevind dat gemengde boerdery ’n beter kans het op oorlewing. Daar word ook heelwat geredeneer of ’n boer in droogtetye sy kudde moet verminder en of hy moet voer. Volgens dié navorsing is dit beter om te voer, omdat veevermindering baie groter risiko’s inhou.
Wanneer al die punte op die tafel geplaas word, is die beste raad om droogtes beter te bestuur, beter boerdery en voorsorg vir ’n volgende droogte om so die risiko daarvan te absorbeer. Boere moet ook ’n plan hê om al die dinge waaroor hulle nie beheer het nie, in te reken, en wanneer die reën val en die veld dankbaar begin groen word, moet die produsent weer veerkragtig voortgaan om te boer.
Om beter te boer, is egter die probleem waarby baie boere dikwels vassteek. Daar is soveel idees in die media en op verhoë, maar hulle werk nie almal op die plaas nie.
Praktiese wenke
Charl Saunderson, die Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur vir 2024, was een van die sprekers op die inligtingsdag en hy het baie praktiese wenke en idees met die boere gedeel. Hy het dit ook baie duidelik gestel dat alle planne nie op alle plase werk nie en dat elke boer sy planne by die omstandighede moet aanpas.
Charl het al ’n lang, harde pad gestap om volhoubaar te boer, droogtes te antisipeer en voorbereidings te tref.
Van die praktiese idees wat hy met die boere gedeel het, was:
- Sorg dat die water in die grond kom: Charl sê op baie plase is droë, kaal kolle in die veld. Dit neem sowat 25 minute vir water om op so ’n kaal kol in die grond in te trek, terwyl dit 25 sekondes neem vir dieselfde hoeveelheid water om onder ’n bos in te trek. Hy sê as daar wortelgroei is, hou dit die water beter vas. Daarom doen hy ook moeite om ploegvore op die kaal kolle te trek.
- Goeie rekordhouding: Charl se uitgangspunt is om goeie rekord van jou diere te hou sodat jy kan weet watter diere is produseerders en watter is passasiers. “Haal die swak produseerders uit en pamperlang die goeies. Op dié manier gaan die vrugbaarheid in jou kudde styg en sal jy beter kan boer,” is sy mening.
- Vat hande met die abattoir: Charl verduidelik dat baie boere rondskarrel tussen agente en abattoirs om die beste prys vir hulle diere te kry, maar hy glo jy moet eerder ’n verhouding met ’n abattoir bou. As die abattoir weet hy kan op jou staatmaak en dat jy as ’n langtermynkliënt elke week/maand jou diere by hom sal bemark, is hy meer geneë om jou te ondersteun en dan kan julle oor premies gesels. Sy uitgangspunt is om nie die pennies te tel wat jy uit ’n agent of abattoir kan wurg nie, maar eerder te kyk na die ponde wat jy as ’n langtermynkliënt kan verdien.
- Leierskap op die plaas en verder: Volgens Charl is daar altyd leiers nodig en elke boer is ’n leier op sy plaas. Die manier hoe jy jou “onderdane” gaan bedien, gaan tot ’n groot mate bepaal hoe suksesvol julle as ’n span gaan saamwerk. Hy glo elke boer moet die personeel op sy plaas na die beste van elkeen se vermoë ontwikkel. Daar is egter ook in die gemeenskap en in die georganiseerde landbousektor leiers nodig en boere moenie terugstaan as daar van hulle verwag word om leiding te neem nie.
- Kry ’n permanente plan: Nog een van Charl se wenke is om ’n langtermynplan te kry. In sy geval het hy die plan van sy pa en sy oupa oorgeneem en gaan dit aan sy kinders en kleinkinders oordra. Hy vertel dat die plantegroei op sy plaas, Nooitgedacht, in die Kenhardt-omgewing nie so volop is nie, maar sy langtermynplan is om meer plante te vestig en meer water in die grond te behou. Hy sê daar is baie maniere om dit te doen en op elke plaas kan dit op ’n ander manier gedoen word, maar daardie plan moet elke oggend in jou kop wees as jy opstaan en jou hele boerdery moet daarom wentel.
- Beskerming teen die son: Charl vertel ook van die bloedige hitte waarmee hulle vir ’n groot deel van die jaar op Kenhardt te kampe het. Omdat daar nie baie bome in die veld groei nie, doen hy moeite om skerms vir die skape naby aan die water te bou sodat hulle ook ’n rusplek kan hê. Hy het ook ’n rietbos aangeplant om vir hom materiaal vir die skerms te bied. Oor die afgelope paar jaar het hy ook begin om Doringboompeule met sy diere se voeding te meng sodat hulle oral op die plaas vir hom doringbome kan plant.
- Moenie wegskram van uitdagings nie: Hy sê die meeste mense hou van uitdagings en boerdery is ook ’n groot uitdaging wat van tyd tot tyd verander. Die hedendaagse uitdagings is om onder moeilike omstandighede (as gevolg van klimaatsverandering) meer te produseer op dieselfde grootte grond as waarop jou voorouers geboer het. Sy raad is om die drakrag van die plaas te verhoog en sodoende jou plaas te vergroot sonder om meer grond aan te koop. Jy kan ook grond aankoop of huur sodat jy groter kan boer. Nog ’n wenk is om waarde toe te voeg tot jou plaas. Hy sê daar is soveel nismarkte wat ontgin kan word. Elkeen het die talente en vermoëns om waardetoevoeging toe te pas.
- Werk volgens ’n program: Charl glo dat alles volgens ’n struktuur en ’n stelsel werk en daarom moet daar op die plaas ook ’n program wees waarvolgens jy boer. Dit is die maklikste manier om die dissipline op die plaas hoog te hou en toe te sien dat alles volgens plan verloop.
- Verbeter jou kudde: Charl beklemtoon dat dit noodsaaklik is om altyd jou kudde te verbeter. Hy sê sentiment moenie deel van jou boerderymetodes wees nie. Die enigste bewese manier om ’n kudde te verbeter, is om jou genetika te verbeter. Daarom is dit belangrik om na die genotipe-eienskappe te kyk wanneer jy ramme koop. Om die mooiste ramme te koop, gaan jou nie noodwendig ’n hupstoot gee nie. Doen moeite om die regte genetiese materiaal aan te skaf.
- Kort lamseisoene. Charl sê een van die groot probleme in die kleinveebedryf is roofdiere en daarom het hy al geleer om kort lamseisoene te gebruik. Dit is ook ’n goeie manier om die jakkalse en rooikatte in toom te hou.
- Brei kennis uit. Charl het sy praatjie afgesluit met die gedagte dat elke produsent wat vooruit wil boer, moeite moet doen om sy kennis uit te brei deur inligtingsdae te ondersteun, meer te lees, kursusse te doen en dies meer. Hy sê egter dit is ook ’n goeie manier om te netwerk en mense te leer ken wat jou weer later kan help. Die belangrikste is egter om vir jouself ’n reputasie te bou sodat medetelers of abattoirs graag by jou wil koop.
Dit was net ’n paar van die wenke wat hy met medeprodusente gedeel het. Sy boodskap is dat daar baie maniere is om jou boerdery volhoubaar te hou. Daar is nie slegs een bloudruk wat jy kan gebruik nie, maar ’n klomp klein dingetjies wat alles lei na daardie een droom wat jy het.
Vir meer inligting, kontak Charl Saunderson by 082 414 6146. – Koos du Pisanie, Plaas Media






