Tuesday, December 17, 2024
HomeMagazinesBewaar eenvoudig, maar doen dit goed

Bewaar eenvoudig, maar doen dit goed

Estimated reading time: 7 minutes

  • Hendrik Odendaal boer al 44 jaar saam met die natuur en probeer dinge reg doen.
  • Klimaatsverandering skep uitdagings, soos midsomerdroogtes, uiterste temperature, en vloedskade.
  • Die boerdery is gediversifiseer met gewasse, kommersiële beeste en ’n braaikuikenonderneming wat mekaar ondersteun.
  • Hoëdrukbeweiding en dekgewasse help om hulpbronne effektief te bestuur en die grond se gesondheid te verbeter.
  • Finansiële volhoubaarheid is belangrik, en die boerdery hou noodfondse beskikbaar om krisisse te hanteer.

Hou dit eenvoudig en doen dit eenvoudig goed. Dit is die belangrikste les wat ’n mens by Hendrik Odendaal en sy seun, Hendrik (jr), se boerdery buite Standerton in Mpumalanga kan leer.

Hoewel die Odendaal-naam gereeld in herlewingsboerderygeledere genoem word, voel Hendrik (sr) nie gemaklik om homself ’n klimaatkenner te noem nie. “Ek is maar net ’n boer wat vir 44 jaar al probeer om saam met die natuur te boer en dinge so reg te doen,” sê hy. Sy kennis oor grondbestuur het hy opgedoen toe hy jare gelede as landboustudent aan die Universiteit van die Vrystaat in Weidingkunde gespesialiseer het. En natuurlik ook waar hy van kindsbeen af saam met sy pa, ook Hendrik, geboer het.

Lees meer oor veldverbetering is ’n 100-jaar wedloop.

Klimaat verander oral

Natuurlik is klimaatslim boerdery makliker gesê as gedaan. Dit klink idillies om grond op die bolope van die Vaalrivier te besit, waar ’n produsent op ’n jaarlikse gemiddelde reënval van tussen 550 en 600mm kan staatmaak. Maar selfs in dié wêreld spring produsente nie die ongenaakbare kloue van klimaatsverandering vry nie.

“Soms kry ons vir twee weke heerlike geelperskereën, maar daarna kry ons maklik vir ses tot sewe weke niks. Dit het weer vanjaar gebeur dat ons vir twee maande geen reën ontvang het nie,” vertel Hendrik. Hierdie tipe midsomerdroogte is veral vir hul kontantgewasse ’n nagmerrie, spesifiek die mielies en sojabone. Weiding kan swaar kry as dit nie fyn bestuur word onder sulke omstandighede nie. “Sedert 2010 het ons die laagste én hoogste reënvalseisoene op rekord beleef.”

Ryp was al drie keer in vier dekades ’n ongewenste Kersgeskenk en verder sukkel boere deesdae met geweldige hoë en lae temperatuuruiterstes. “Vanjaar was die warmste Februarie wat ons nog aangeteken het. Die koue kan ons nog hanteer, maar hierdie hitte is iets anders.”

Om op ’n rivier se oewer te boer is ook nie aldag so hemels soos dit klink nie. Wanneer die Vaalrivier in vloed is, is daar dikwels hektare se weiding wat skielik versuip en wanneer die water uiteindelik begin terugtrek, is dit ’n broeiplek vir muskiete, muggies en ander parasiete, wat weer tot die uitbreek van allerlei siektes kan lei. Dis nou as die beeste nie ontsnap het Vrystaat toe danksy platgespoelde grensdrade nie.

Die goeie nuus van ’n rivier in vloed is natuurlik dat dit riool kan wegspoel, want weens wanfunksionele munisipale riooldienste is E. coli en visvrektes ’n konstante bekommernis vir die distrik se produsente.

Lees meer oor kuilvoerprodusent wen deur te waag.

Bestuur hulpbronne

Die Mpumalanga-hoëveld is bekend as ’n uiters mineraalryke deel van die land en daarom bedreig nywerhede soos steenkoolmyne dikwels die voortbestaan van landbouers. Hendrik sê hulle was tot dusver gelukkig, omdat daar nog nie mynboubedrywighede naby hul plaas is nie. Net ’n klipgooi verder – in die Bethal-, Secunda-, Standerton-omgewing – vind heelwat mynboubedrywighede plaas.

Munisipale afvalwater, veral rioolwater, is tans die enkel grootste bedreiging vir watergehalte in die distrik. “Die watergehalte is nie baie goed nie en ons sukkel baie met alge, omdat die munisipale rioolwerke nie behoorlik funksioneer nie.”

Energiebestuur is op enige plaas baie belangrik en nadat frustrasies oor Eskom se kragonderbrekings te veel geraak het, het hulle besluit om na sonkrag oor te skakel. Gevolglik gebruik die meeste van hul boorgate en elektriese kampdrade nou sonkrag.

Sonkrag word ingespan om die elektriese drade lewendig te hou, sodat hoëdrukbeweiding kan plaasvind.

Die elektriese heinings word spesifiek ingespan om dekgewasse, nog ’n belangrike hulpbron, te bestuur. Die beestroppe word tussen 11:00 en 16:00 in die lande toegelaat om na hartelus te wei. Hendrik het spesifiek hierdie tye gekies, want dit is wanneer plante se chlorofilproduksie optimaal is en die plant gevolglik die minste skade sal ly.

Kalwers kan wyer wei

Die kampdrade word ook hoog genoeg gespan sodat koeie in die kamp sal bly, maar kalwers onderdeur kan kruip om ander weiplek op te soek. “Nie dat hulle eintlik vreeslik ver dwaal nie, want hul ma’s produseer genoeg melk en dit is baie voedsaam.”

Hendrik glo daaraan om sy veld en diere in goeie kondisie te hou. “Diere hou byvoorbeeld nie van suurder veld nie en verswakte veld kan tot die oorname van indringerspesies lei. Ons probeer dit verhoed,” noem hy en sê hoekom hulle hard gewerk het om ’n einde aan erosie op die plaas te maak.

“Hoewel ons nog nie die weiveld se koolstofvlakke meet nie, meet ons dit wel wanneer gesaai word. My seun meet alles, en al het ons daaroor gesels om die weidings se vlakke te meet, het ons net nog nie daarmee begin nie.”

Al hierdie metings en veldbestuur beteken egter nie dat byvoeding nooit gegee word nie. “Ons glo in produksielek omdat dit die rumen moet stimuleer. Verder sal ons ook grasbale inkoop om ons in droogtetye met ’n voerbank te help.”

Diverse sekerheid

Die gediversifiseerde boerdery rus op drie integrale bene: gewasse (droëland en besproeiing), kommersiële beeste en ’n braaikuikenonderneming. Hoewel Hendrik (sr) in beheer van die veekomponent van die boerdery is en Hendrik (jr) die saaiery bestuur, is al die vertakkings onderling van mekaar afhanklik en dit is ’n groot rede vir die boerdery se sukses.

Die hoendermis word byvoorbeeld vir lekke, kompos en kompostee ingespan, terwyl die beeste dekgewasse bemes en plantmateriaal binne die hoëdrukbeweidingsituasie in die grond intrap. Die saaiery help dat die diere op oesreste of dekgewasse kan wei.

Die verskillende komponente van die boerdery vul mekaar mooi aan, soos die beeste wat in die winter op die mielie-oesreste wei.

Toe Hendrik aanvanklik op die grond begin boer het, was sowat 80% van die vee skape. Omdat skape egter selektief wei, het hy besluit om eerder na beeste oor te skakel.

Die hoëdrukbeweiding behels dat diere tussen drie en vier dae in ’n kamp wei en dan oorgeskuif word na ’n volgende kamp. Sodoende word sowat 1 100 koeie, wat in troppe van 200 tot 300 diere verdeel word, in 210 verskillende kampe rondgeskuif. Hendrik maak dus van ’n meerkampstelsel gebruik, waar elke trop tussen ten minste tien kampe geskuif word.

Waterbakke word strategies geplaas sodat vee van vier verskillende kampe af daar kan gaan suip.

Die plaaswerkers het vroeër almal hul eie beeste gehad, wat by hul huise in krale gestaan het. Vandag is dié diere egter almal in een trop wat deel is van die hoëdrukbeweidingstelsel.

Finansiële sekerheid

“Ons is bewus van die feit dat volhoubaarheid in die landbou nie net op natuurlike volhoubaarheid geskoei is nie. Die geldsake moet ook klop,” sê Hendrik. Daarom word kontantbegrotings jaarliks opgestel om te bepaal hoe die finansies waarskynlik vir die jaar sal verloop. Hierdie staat word deur ’n bankbestuurder nagegaan, omdat hy besef sy kundigheidsvlak lê in die natuurwetenskaplike veld, nié boekhouding nie.

“Sou dit gebeur dat die nood tref, is ruim voorsiening gemaak want ons sal slegs 60% van ons oortrokke bankgeriewe vir die boerdery gebruik. Die res word bewaar vir ingeval ’n krisis ons tref.” Nie dat ’n krisis iemand wat vir 44 jaar al die reënval- en ander klimatologiese data van sy grond versamel, so maklik sal tref nie. Hy leer baie uit die verlede en dit rig hom vir die toekoms.

Vir meer inligting, kontak Hendrik Odendaal by hendrikod@gmail.com.

Must Read

SSA – 2024 was ‘n jaar van veerkragtigheid

Die Suiwelstandaardagentskap het in 2024 'n hele paar hoogtes bereik en kan volgens besturende direkteur, Jompie Burger, met die woord "veerkragtigheid" opgesom word. In die onderstaande...