Tuesday, December 16, 2025
HomeMagazinesVeldverbetering is ’n 100-jaar wedloop

Veldverbetering is ’n 100-jaar wedloop

-

Estimated reading time: 7 minutes

  • Charl, 2024 se Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur, sê dit is vir hom ’n lewenslange uitdaging om sy veld te verbeter.
  • Vir Charl is veldverbetering nie ’n 100m-resies nie, maar eerder ’n 100-jaar resies.
  • Tydens my nagraadse landboustudies het ek besef ek moet my op grondbestuur toespits, want dit is wat skaapboerdery in hierdie omgewing volhoubaar gaan maak.
  • Hy en sy plaaswerkers versamel selfs die as van braaivleisvure en plekke waar hulle kosmaak, wat hulle dan saam met die beenmeel gebruik om saad te vestig.
  • Sowat 10% van die diere op Nooitgedacht is Boerbokke wat gebruik word om die groot bosse te ‘snoei’.

Vir Charl Saunderson en sy vrou, Isabel, is hul plaas, Nooitgedacht, ’n stukkie hemel waar Dorpers, Witdorpers en Boerbokke op karige veld moddervet word. Hulle boer in die Kenhardt-distrik in die Boesmanland.

Op Nooitgedacht word die skape moddervet op die karige weiding.

Charl, 2024 se Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur, sê dit is vir hom ’n lewenslange uitdaging om sy veld te verbeter. Sy oupa het geglo veldverbetering is die beste geskenk wat ’n boer aan homself kan gee. Sy pa, wat die boerdery oorgeneem het, het hierdie passie gedeel en sy bydrae was om al die prosopisbome op die plaas uit te haal. Vandag pluk Charl die vrugte van hul harde werk.

“As jy nie die prosopisse uithaal nie, gaan hulle jou van die plaas afhaal. Ek sien nie kans om my plaas sonder vergoeding te laat onteien aan ’n prosopis nie,” sê hy. Vandag haal hy elke jaar tussen vyf en 100 bome uit – sommige nog so klein dat hy dit sommer met ’n tang uittrek. 

Charl het by sy pa geleer hoe om ploegvoere in die veld te maak om saad te hervestig.

Dit neem tyd

Charl se pa en oupa het vir hom ’n wonderlike plaas nagelaat en hy glo dit is sy plig om die plaas in ’n selfs beter toestand aan sy seuns en kleinseuns oor te gee. Vir hom is veldverbetering nie ’n 100m-resies nie, maar eerder ’n 100-jaar resies. “So ’n projek word later deel van jou daaglikse roetine, jou jaarlikse beplanning en jou langtermynvisie, maar as jy eers die resultate sien, raak dit lekker en opwindend om te boer.”

Kyk gerus na die onderhoud met Charl: https://youtu.be/zw3jpTU5r00?si=7SSE1Tgrqq01Aq29

Nadat die prosopisbome en ander indringers onder beheer gekom het, het hy met veldhervestiging begin deur die kaal kolle om te ploeg en saad te saai. Sy sukses is veral duidelik wanneer jy sy reënvalsyfers opweeg teen die hoeveelheid weiding wat op die veld beskikbaar is.

Die afgelope reënseisoen het die plaas sowat 70mm reën gekry. Dit is die helfte van die normale gemiddeld van 140mm. Ry jy egter deur die plaas, kan jy nie glo hoeveel weiding is beskikbaar nie en dan is dit nie meer so ondenkbaar dat die skape se kondisie so goed is nie.

“Dit maak nie saak hoeveel reën jou plaas kry nie; dit maak saak hoeveel reën jy kan behou. Tydens my nagraadse landboustudies het ek besef ek moet my op grondbestuur toespits, want dit is wat skaapboerdery in hierdie omgewing volhoubaar gaan maak,” vertel Charl.

Gee die veld ’n hupstoot

Hy het, wat hy noem, ’n stinkdam, waarin alle dooie diere gegooi word. So elke twee of drie jaar steek hy dit aan die brand en daardie beenmeel word saam met die as en kraalmis in die ploegvore gestrooi om nuwe saad te hervestig. Hy en sy plaaswerkers versamel selfs die as van braaivleisvure en plekke waar hulle kosmaak, wat hulle dan saam met die beenmeel gebruik om saad te vestig.

“Dit is lekker om te sien hoe die saad ontkiem en groei. Met die beenmeel kry die nuwe plantjies ’n hupstoot wat op die lang duur vir my goeie weiding besorg. Ons oes in die saadseisoen die nuttige saad wat ek graag op die plaas wil vestig, en saai dit in die ploegvore.”

Hy het begin om die sogenaamde ‘vyfsterplante’ se saad te oes en dit op soortgelyke grond op die plaas, hetsy in die vlaktes of teen die koppe, te hervestig sodat sy weiding ook vyfsterstatus kan kry. “Grondbedekking is fantasties, maar bedekking met hoë-waarde plante is nog beter.”

Planne met skaduwee

Omdat skaduwee in die Boesmanland maar skaars is, het Charl ook begin om kameeldoringbome op ’n unieke manier aan te plant. Hy het in die droogtetyd tien ton kameeldoringpeule in die lek gegooi en vir die skape gevoer. Hulle mis op verskillende plekke en so word die kameeldoringbome geplant. 

Dit is ’n deurlopende praktyk wat hy elke jaar sal herhaal en hoewel hy dalk nie self die resultate daarvan gaan sien nie, gaan sy seuns en kleinseuns die vrugte pluk. “Op dié manier koel ons die grond af, stop erosie, en verbeter die grond.”

Hulle versamel die mis in die skaduplekke en ry dit uit na die kaal dele en ploegvore om die grond te voed en ’n koel saadbed te skep vir optimale resultate. “Ek het ’n groot bos Spaanse riet geplant en gebruik dit om dakke by die suipings op te sit. Die skaduwees het ons speenpersentasie met 5,6% verbeter.”

Droogtes gaan nooit ophou nie

In die Boesmanland is droogtes ’n gegewe waaroor jy nie beheer het nie. Jy moet droogtefiks raak en vrede maak daarmee. Die droogte hoort op die veld, maar as dit eers tussen jou ore kom vassteek en jy nie meer planne het nie, het jy ’n probleem, sê Charl.

Skaapboere kan produkpryse ook nie beheer nie. Daarom moet jy vir die volgende droogte beplan. Jy kan jou veld snoei, maar nie totaal benut nie. Jy kan jou veegetalle verminder sodat jy genoeg hooi vir die diere het. Charl glo ’n mens moet elke jaar aanvaar dat jy ’n droogte kan hê en jy moet daarvoor beplan, maar jy moet ook na die mark kyk en besluit wat jy anders doen om jou produkprys op te stoot. Hy poog om sy lamseisoen so te bestuur dat hy lammers kan bemark wanneer daar nie ’n oorskot lammers is nie.

Boer saam met die natuur

Charl glo ’n goeie produsent sal altyd saam met die natuur boer. “Ons het die natuur verwoes en daarom moet ons hom weer doelbewus genees en sorg dat ons die plante wat in sekere plekke sal groei, weer in dieselfde omstandighede plant.”

Dieselfde geld vir sy kuddeverbetering. Hy het met stoetboerdery begin om die opbrengs van die plaas te verhoog. Sy diere moet in hierdie uiterste weersomstandighede aard. Elke ooi moet ten minste vier of vyf ooie se waarde kan inbring, anders is dit nie goed genoeg nie en word daardie ooie vir die slagpale gemerk. Daarom samel hy baie inligting van elke ooi in om seker te maak hy hou die beste van die bestes. Hy selekteer vir hoë produksie, lamgemak, ’n tussenlamtydperk van minstens 270 dae, en elke ooi moet minstens 1,5 lammers per jaar speen.

Hulle boer met Dorpers omdat lammers reeds van vier tot vyf maande markgereed is en die koolstofvoetspoor daarom soveel kleiner is. Sowat 10% van die diere op Nooitgedacht is Boerbokke wat gebruik word om die groot bosse te ‘snoei’. Dit is veld wat onbenut sou bly sonder die Boerbok-komponent, omdat skape nie so hoog wei nie.

Charl raadpleeg graag kundiges soos sy veearts, boekhouer en stoetveekonsultant om seker te maak die stappe wat hy neem is reg en hoe hy dit kan verbeter om uiteindelik die beste besluit te neem en volhoubaar te boer. “Wees voorbereid as die droogte toeslaan. Dit is waarom ek gedurig my veld, kudde en infrastruktuur verbeter en waarom ek my stoorkapasiteit verbeter. Ek moet genoeg voorraad hê wat nie met die volgende seisoen se droogte uitgeput gaan raak nie,” sê hy. – Koos du Pisane, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Charl Saunderson by 082 414 6146.

Must Read

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...