Estimated reading time: 4 minutes

  • Lammers in voerkrale kan spanning en gesondheidsprobleme ervaar, met tekens soos swak eetlus, depressie, en abnormale gedrag.
  • Immunisering teen siektes soos respiratoriese patogene en klostridiale siektes is noodsaaklik vir gesondheid en immuunondersteuning.
  • Goeie bestuur, insluitend higiëne, misverwydering, en waterkwaliteit, beperk gesondheidsrisiko’s en verbeter groeitempo’s.
  • Biosekuriteit voorkom die insleep en verspreiding van siektes deur protokolle soos kwarantyn en ontsmetting.
  • Effektiewe gesondheidsbestuur verhoog diereprestasie en verbeter winsgewendheid in voerkrale.

Die borge van hierdie jaar se UP Agric-voerkraaluitdaging was: Kyron Agri, Molatek, Vet 2 Farm, Octavoscene, RMIS, Cavalier, DataMars en Plaas Media (Veeplaas en Stockfarm).

Top Tjops is een van die spanne wat aan die jaarlikse UP Agric-voerkraaluitdaging deelgeneem het en hulle deel hier hulle indrukke oor gesondheid in ‘n voerkraal.

Om ’n voerkraal te bestuur is nie kinderspeletjies nie, veral nie wanneer lammers onder spanning verkeer as gevolg van die nuwe omgewing nie. Dit is dan wanneer hul gesondheid ‘n knou kry.

Olike lammers sal kliniese tekens toon, soos ’n skielike afname in hul normale eetpatrone, eenkant-gedrag, koppe wat hang, depressie, abnormale mis, en stadige reaksie.

Waak teen belangrike siektes

Daar is talle siektes wat in skaapvoerkrale kan voorkom, waaronder haarwurm, polio-enkefalomalasie (vitamien B1-tekort), klem-in-die-kaak, lamsiekte, bloednier, en dies meer. In ‘n paar gevalle is immunisering die enigste manier om hierdie siektes vry te spring. Respiratoriese siektes is die algemeenste bydraer tot gesondheidsprobleme in ’n voerkraal en moet daarom intensief gemonitor word.

Wanneer lammers by ’n voerkraal aankom, moet hulle rus, en vars water en goeie ruvoer kry. Die duimreël is een uur se rus vir elke uur wat hulle vervoer is. Daarna moet hulle geprosesseer word. Dit behels implantate, inenting, dosering met vitamiene en minerale, en behandeling teen parasiete. Deur lammers met vitamiene en minerale te doseer, word die moontlike uitwerking van stres op die lam verminder en die dier se immuunstelsel word ondersteun. Inentings is belangrik aangesien dit die diere se immuunstelsels versterk teen die siektes waarteen ingeënt is.

’n Tipiese inentingsprogram vir voerkraallammers sluit inenting teen respiratoriese patogene en ‘n multivalente klostridiale entstof in. Dit is belangrik dat die inentingsprogram by die produksiestelsel pas. So ‘n program bevat verpligte en noodsaaklike inentings.

Goeie bestuur

Die meeste faktore wat die gesondheid van lammers in ’n skaapvoerkraal affekteer, kan deur goeie bestuurspraktyke beheer word. Dit sluit higiëne, misbestuur, waterbeskikbaarheid, veehantering, aanpassing en veelading in.

Higiëne en mis kan bestuur word deur hokke gereeld skoon te maak en die afval te verwyder. Dit sal omgewingsbesmetting weens afloop-miswater asook gesondheidsrisiko’s verminder. Skoon waterbakke met beskikbare skoon, koel water sal die risiko van bakteriese groei verminder, en ’n konstante voerinname en groeitempo verseker.

Die aanpassingstydperk in die eerste paar dae in ’n voerkraal is belangrik, aangesien dit die rumenmikrobes in staat stel om by die nuwe voer aan te pas. As hierdie aanpassing nie plaasvind nie, of as die aanpassingstydperk te kort is, kan dit toestande soos suurpens veroorsaak wat tot laer innames en groei kan lei.

Die veelading moet ook goed bestuur word, want te veel lammers sal meebring dat die diere gespanne is en meer vatbaar vir respiratoriese siektes word.

Lees meer oor die bestuur van stres in ’n skaapvoerkraal.

Biosekuriteit is koning

Nog ’n belangrike aspek van gesondheidsbestuur in die voerkraal is die daarstelling van ’n streng biosekuriteitsprotokol. Biosekuriteit verlaag die risiko dat siektes of ongewenste peste die voerkraal binnekom, verder ontwikkel en versprei.

Goeie biosekuriteitsbestuur sluit in:

  • Teken alle veebeweging, vee-aankope, -verkope en -behandelings aan.
  • Koop vee vanaf betroubare bronne.
  • Sorg dat alle ingekoopte diere van ’n dieregesondheidsertifikaat vergesel word.
  • Plaas alle nuutgekoopte diere onder kwarantyn.
  • Stel ’n behandelingsprogram vir nuwe vee op.
  • Hou besoekers weg van voerkraalhokke. Indien hulle die gebied moet betree, moet hul skoene en toerusting eers ontsmet word. (Sien Figuur 1 vir ‘n voorbeeld van ‘n skoenontsmettingsprosedure.)

Figuur 1: Ontsmetting van skoene voor voerkraal betree word.

Swak gesondheid beteken dat diere nie sal groei en presteer nie. Dit beteken weer minder inkomste per kilogram vleis. Goeie gesondheidsbestuur is dus uiters belangrik vir voerkraalsukses en groter winste.

Vir meer inligting, kontak die uitdaging se studieleier, dr Lindeque du Toit, by epos linde.dutoit@up.ac.za.

– Larissa Kroon and Martie Diederiks, Top Tjops