Estimated reading time: 4 minutes
- Wanneer skielike vrektes onder jou skape voorkom, is die eerste gedagte gewoonlik bloednier.
- Die oorsaak van die siekte is die bakterie, Clostridium perfringens tipe D, wat op elke plaas voorkom.
- Die probleem ontstaan wanneer dit teen ’n vinnige tempo begin verdeel en dan ‘n gifstof in die dier produseer.
- Hoewel daar geen behandeling vir die siekte is nie, kan dit wel voorkom word.
- Die inenting van lammers is baie belangrik.
Wanneer skielike vrektes onder jou skape voorkom, is die eerste gedagte gewoonlik bloednier. Daar kan verskeie redes wees vir die skielike vrektes, maar bloednier is die mees algemene oorsaak en kom veral onder lammers tussen die ouderdom van drie weke en drie maande of tussen ses en twaalf maande voor.
Dr Danie Odendaal van Veearts Netwerk (V-Net) sê bloednier is nie ’n siekte wat van een plaas na ’n ander oorgedra word, of vanaf skape wat nuut aangekoop is en jou kudde kom besmet nie. Dit is eerder ’n siekte wat op elke plaas teenwoordig is. Die oorsaak van die siekte is die bakterie, Clostridium perfringens tipe D, wat op elke plaas voorkom. Dit is nie uniek aan ’n plaas nie en kom oral in die grond voor. Dit is dus reeds teenwoordig.C. perfringens word deur die dier ingeneem en oorleef in sy/haar dermkanaal, maar onder normale veldomstandighede veroorsaak dit nie noodwendig siekte nie. Daar is eerder faktore wat aanleiding gee tot die siekte:
- Die vinnige verandering van ’n laestysel- na ’n hoëstyseldieet.
- Die vinnige verandering van droë weiding na groen, sappige weiding.
- Die ontwurming van skape met ’n hoë inwendige parasietlading.
Die bakterie bly dus binne die dier sonder dat dit noodwendig enige invloed het. Die probleem ontstaan wanneer dit teen ’n vinnige tempo begin verdeel en dan ‘n gifstof in die dier produseer.
Bloednier ontwikkel vinnig
Dr Odendaal sê elke Clostridium ontwikkel in ’n gifstof as dit te vinnig vermeerder. In die geval van bloednier is dit die epsilon-gifstof (ook bekend as ETX) wat ontwikkel. Dit word in die bloed opgeneem en versprei na die res van die dier se liggaam. Die gevolg is dat dit na die belangrikste organe, soos die lewer, niere, longe en brein beweeg en die selle van daardie orgaan vernietig. Dis ’n baie vinnige proses wat die rede is waarom die dier binne enkele ure kan vrek.
Hy sê die enigste siekteteken wat sigbaar is, is dat die dier dood is. Daar is enkele gevalle waar die gifstoflading nie te hoog is nie en siektetekens moontlik sigbaar is, maar dit gebeur selde. Daar is boonop geen doeltreffende behandeling nie, aangesien die gifstof wat reeds in bloed opgeneem is, die oorsaak van die sterfte is.
Hoewel daar geen behandeling vir die siekte is nie, kan dit wel voorkom word. ’n Entstof is jare gelede al vir hierdie probleem ontwikkel. Dit is belangrik om te onthou dat die siekte ontwikkel sodra die dier se voeding verander en ekstra voeding gegee word. Die enigste manier om die siekte te voorkom, is deur inenting.
Inenting van lammers
Omdat dit ’n ernstige siekte is en op enige plek kan voorkom, is dit belangrik om die regte beplanning te doen. So ’n plan moet ten doel hê om siektes oor ’n tydperk van ’n jaar te voorkom. Voorafbeplanning sal ook verseker dat jy genoeg entstof betyds kan aanskaf.
Die inenting van lammers is baie belangrik, aangesien hulle vinnig na geboorte hierdie organisme vanuit die omgewing of die ma se uitskeidings kan inkry. Al wat hierdie lam binne die eerste ses tot agt weke na geboorte beskerm, is die biesmelk wat vanaf die ma verkry word en wat immuniteit verleen.
Die beplanning moet voorsiening maak dat ooie ses tot agt weke voordat hulle lam, reeds ingeënt is. Die doel is nie noodwendig om die ooi te beskerm nie, want ooie wat vier of vyf jaar oud is het reeds goeie weerstand teen bloednier. Die doel van die inenting is eerder om seker te maak daar is meer teenliggaampies in die ooi, wat hul weg sal vind na die biesmelk wat deur die lam ingeneem word.
Biesmelk gee immuniteit
Onthou dat ‘n lam sonder enige immuniteit gebore word, want teenliggaampies word nie in die baarmoeder oorgedra nie. Eers as die lam biesmelk inneem, begin hy/sy immuniteit opbou.
Indien die ooi nié ingeënt was nie, moet die lam op ’n baie vroeë ouderdom ingeënt word. So ‘n lam sal dus vir twee tot drie maande beskerm word teen die organisme wat bloednier veroorsaak. Daarna kan die lam weer ingeënt word, afhangend van die situasie op die plaas. Op sekere plase waar siektes nie so dikwels voorkom nie, soos in die Karoo, is net een inenting per jaar nodig. By meer intensiewe boerderye waar meer byvoeding gegee word, moet die lammers een keer in ses maande ingeënt word. Aktiewe beskerming moet dus plaasvind deur die teenliggaampies voortdurend aktief te hou. – Koos du Pisanie
Vir meer inligting skakel dr Danie Odendaal by 082 454 0532.