Friday, December 5, 2025

Graan SA-strukture in plek vir die pad vorentoe

Estimated reading time: 5 minutes

Daar sal geen groot denkrigtingsverandering in Graan SA (GSA) wees nie, nadat die nuutverkose voorsitter vir die eerste keer in die geskiedenis ’n produsent uit die Wes-Kaap is. Richard Krige, ’n koringprodusent van Caledon in die Wes-Kaap, is tydens GSA se jaarkongres op Nampopark tot voorsitter van die uitvoerende komitee verkies. Hy neem die leisels oor by Derek Mathews, wat na vier jaar uittree. Danie Minnaar, ’n graanprodusent van Bothaville, wat voorheen ’n lid van die uitvoerende komitee was, is as nuwe visevoorsitter verkies, terwyl Jeremia Mathebula van Amsterdam in Mpumalanga voortgaan in sy rol as die ander visevoorsitter.  

Voormalige voorsitters van die organisasie het almal uit grotendeels mieliegebiede gekom. Hulle is Jaco Minnaar (2016–2020), Louw Steytler (2012–2016) van ’n wintergraan-gebied, Neels Ferreira (2006–2012), Boelie Botma (2000–2006), en Japie Grobler (1999–2000). Nuwe lede van die uitvoerende komitee, is Cobus van Zyl van Flamwood en Tom van Rooyen van Potchefstroom, wat Jaco Breytenbach en Minnaar vervang. Ramoso Pholo van Radithuso en Willem Groothoof van Settlers dien weer op die komitee.

Ervaring as ’n voordeel

Dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van GSA, sê dit is ’n voordeel om Krige, ’n ervare lid wat al die afgelope paar jaar aktief aan verskeie fokusareas deelgeneem het, aan boord te hê. Alhoewel Krige, wat voorheen ’n visevoorsitter was, se kundigheid hoofsaaklik by wintergewasse lê, het hy ook groot insig en ervaring in ander dimensies van GSA. Dr Doyer glo daar sal nie groot verandering in die organisasie se denkrigting wees nie, maar Krige se ervaring is tot voordeel van die organisasie gegewe die krisis in die koringbedryf. “GSA sal die hele waardeketting, van genetika tot bakkers, saam met die regering moet verenig om ’n fondasie te bou waarop die koringbedryf winsgewend en volhoubaar kan groei.” 

Hy meen Krige se ervaring in die koringbedryf en -politiek, veral met die verval van die Wintergraantrust en die heropbou van die Suid-Afrikaanse Wintergraan-bedryfsvereniging, het hom goed geposisioneer om ’n sterk rol in georganiseerde landbou te speel. As koringprodusent, wat onder uitdagende omstandighede werk, het hy empatie en insig wat die GSA-span sal help om fokus op belangrike impakkwessies te plaas. Dr Doyer beklemtoon dat GSA se werklike impak in die deelname van die raad en lede aan verskeie werk- en fokusgroepe lê, wat aktief interaksie en samewerking met die groter graanwaardeketting dryf. “Hierdie netwerkorganisasie het Krige juis gekies omdat hy die waardes van samewerking, bemagtiging en fokus op resultate, uitleef. GSA se kultuur en waardes is deur uitnemende leiers oor ’n lang tyd sterk gevestig en is diep in ons DNS ingebou.”  

Die pad vorentoe

Krige het hom daartoe verbind om saam met Minnaar en Mathebula die bedryf vorentoe te neem. Hy is opgewonde oor die toekoms van die bedryf in sy geheel en veral GSA. Hy meen dat hierdie organisasie goed geposisioneer is om die toekoms in te gaan, veral met die herstrukturering van die onderneming, wat afgehandel is. Die winsgewendheid van kommoditeite is egter ’n bekommernis, en daar sal hard gewerk moet word om te verseker dat die strategie van GSA, wat die winsgewendheid en volhoubaarheid van produksie insluitend lede op grondvlak, kan vervul. Hy doen ’n beroep op die landboubedryf om saam te staan om winsgewendheid te verseker. Dit behels samewerking met die hele waardeketting en insetverskaffers om die land se ekonomie ’n hupstoot te gee.

Veranderinge aan die GSA-raad

In streek 2 neem Koos Bezuidenhout die leisels by Jozeph du Plessis oor. Ewald Klingenberg neem by Ralf Kusel oor in streek 14, en Pieter-Albert Botha neem by Marius Groenewald in streek 20 oor.  Gerdus Bester neem by Pierre van Zyl in streek 21 oor, Danie Minaar se posisie word deur Jacques van der Merwe in streek 24 oorgeneem. Koos Blankenberg vervang Andre Kirsten in streek 26, en Ramoso Pholo wat verkies is as addisionele lid van die uitvoerende komittee van die raad, word deur William Raphoto in streek 28 vervang. Shadrack Mbela vervang Clifford Mthimkulu in Streek 31.

Die ander raadslede bly onveranderd. Hulle is Gert Pretorius in streek 1, Cobus van Zyl in streek 3, Francois Geldenhuys in streek 4, Will Grobler in streek 5, Dirk Laas in streek 6, Pietman Botha in streek 7, Joseph Swanepoel in streek 8, Andries Groesbeek in streek 9, Ryk Pretorius in streek 10, Gerrit Roos in streek 11, Ebert du Plessis in streek 12, Willem Groothoof in streek 13, Paul Zietsman in streek 15, Wessel Hattingh in streek 16, Hendri Jansen van Rensburg in streek 17, Neil Claassen in streek 18, Jaco Breytenbach in streek 19, Willie Marais in streek 22, Tom van Rooyen in streek 23, Dissie Kruger in streek 25, Jose de Kock in streek 27, Mussa Thomas Sibiya in streek 29, Rossouw Swart in streek 32, en Thobani Ntonga in streek 33.

Strukture in plek

Dr Doyer sê Mathews het groot strukturele veranderinge in GSA bewerkstellig, wat deels deur belastingvoldoening afgeskop is, maar dit was ook nodig omdat dié organisasie ’n groter en komplekser liggaam geword het. Die doelwit om ’n omgewing te skep waarin graanprodusente winsgewend en volhoubaar ’n bydrae tot Suid-Afrika kan lewer, verander nie, maar die bestuur en bemagtiging van prosesse is doeltreffend en in plek. GSA is bevoorreg om ’n ervare en dinamiese span te hê wat die produsentebelange bevorder.

Die organisasie gaan naby aan sy strategiese fokusareas bly en meer effektief die produksieomgewing, produktiwiteitsmoontlikhede, markuitbreiding, inklusiwiteit en bewaringslandbou-omgewings aanspreek. As ’n vrywillige organisasie moet daar gefokus word op lidmaatskapgroei in alle kategorieë van boere – groot, klein en nuut – om die volle belange van alle graanprodusente te verteenwoordig. Doyer sê GSA bly ’n ernstige en deelnemende vennoot tot die staat, waardeketting, en ander graanrolspelers, en sal voortgaan om druk uit te oefen vir resultate, terwyl tydsvermorsing en politiek vermy sal word. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Must read

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie...

LandbouRadio: 5 Desember 2025

In Vrydag, 5 Desember se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Vars landbounuus. ⁠Johan Gunter hoor van Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, wat besoekers...

Oilseeds Focus December 2025 

The December issue of Oilseeds Focus explores South Africa’s fertiliser use, smart cultivar choices for profitable sunflower production, and the rising challenge of herbicide resistance – plus emerging solutions that...
meteorology water meter rain gauge

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou....

RSG Landbou: 4 Desember 2025 – geborg deur Husqvarna

In vandag se RSG Landbou is daar meer oor 'n risiko-ontledingstudie vir die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf, aspekte wat in ag geneem moet word met die...