Monday, February 3, 2025

Benut biologie in graanboerdery

Estimated reading time: 5 minutes

Bewaringslandbou en die biologiese benadering tot droëlandgraanverbouing, is onlangs tydens NexusAG se Graanprodusentedag op Eensgezind naby Durbanville in die Wes-Kaap, bespreek. Meer as 250 graanboere en ander rolspelers het die dag bygewoon.

Kevin Snyman, hoof uitvoerende beampte van NexusAG Ekstern, het gesê die geheim van grondgesondheid is ’n balans tussen die chemie, fisika en die biologie van grond. “Ons verstaan die chemie van grond goed en kan dit maklik meet, monitor en bestuur. Ons begryp die fisika van grond en weet wat verdigting, kompaksie en waterhouvermoë is. Die biologie van grond was egter tot nou ’n grys area, maar dit is besig om te verander. Ons verstaan dit nou beter en dit raak al hoe makliker om dit te meet.”

Dit is belangrik om te onthou dat biologiese produkte ’n spesifieke werking het. “Jy moet weet wat jy met biologiese produkte wil bereik en seker maak die produkte is geregistreer vir die doel waarvoor jy dit wil gebruik. Daar moet ook data wees wat dit ondersteun,” het Snyman gesê.

Lees meer oor Graan SA se landbouseminaar hier.

Kleiner impak op natuur

Volgens dr Johann Strauss, senior wetenskaplike by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het altesaam 51% van Wes-Kaapse graanprodusente bewaringslandbou ten volle aanvaar. Dit sluit minimale grondversteuring, die behoud van plantmateriaal op die grond vir solank as moontlik, en wisselbou in.

Buiten dat bewaringsbewerkingspraktyke ’n beter netto inkomste as konvensionele bewerking lewer, het navorsing in die Wes-Kaap ook getoon dat bewaringswerking ’n kleiner impak op die natuur het. Konvensionele bewerking se omgewingskade beloop R4 671/ha koring geproduseer, teenoor bewaringsbewerkingspraktyke se impak op die natuur wat wissel van R2 108 tot R3 039/ha.

“Bewaringslandbou het uitdagings, maar daar is geen rede om dit nié bewaringsbewerking te beoefen nie,” het hy gesê.

Regte produkte en strategie

Dr Ronél Hendriks, hoof van navorsing by Microbika, het gesê mikrobes is slim, maak die heeltyd planne en het die vermoë om weerstand teen enige chemie of molekule op te bou wat ’n produsent gereeld op sy plaas gebruik. ’n Goeie voorbeeld is die gereelde gebruik van glifosaat wat daartoe gelei het dat fusarium die vermoë ontwikkel het om glifosaat as fosfaatbron te gebruik. “Glifosaat is soos Red Bull vir fusarium.”

“As jy met biologiese boerdery begin, moet jy die regte produkte gebruik en jou biologiese strategie oor meer as een seisoen volhou. Elke jaar raak ander mikrobe-eienskappe duidelik en kan jy jou strategie aanpas om die grootste voordeel uit biologie te kry.”

Invoortoediening is ’n moet

Wessel Cloete, kommersiële bestuurder, NexNutri, het gesê invoortoediening van plantvoeding gee jou die geleentheid om die regte voedingstowwe op die regte plek teen die regte hoeveelhede neer te sit. Voordele van dié praktyk is onder meer dat dit opbrengspotensiaal maksimeer, vinniger en eenvormige opkoms verseker, wortelontwikkeling aanhelp, grondstruktuur verbeter, en die jong plant teen abiotiese en die plant teen biotiese stres beskerm.

“Proewe wat in 2022 en 2023 deur NexusAG gedoen is, het getoon dat die netto opbrengs op jou belegging 708% kan beloop as jy die praktyk reg toepas. Die gemiddelde resultate van agt behandelings, het ’n netto-inkomste van R2 125/ha bo die netto-inkomste van konvensionele bewerking gegee. In Amerika, Australië en Kanada is invoortoediening al ’n praktyk en iets wat ons nou in die Wes-Kaap moet begin doen,” het Cloete gesê.

Voordele van kolbespuiting

Volgens Francois Janse van Rensburg, bemarkingsbestuurder van Cerealis Precision, kan ’n produsent deur die regte gebruik van kolbespuiting (spot spraying) tot soveel as 95% per bespuiting op chemiese koste bespaar. Hierdie praktyk, waar slegs die onkruide selektief bespuit word, het ’n doodspuitkoers van 96%.

Kolbespuiting kan onkruidweerstandigheid teen chemikalieë beperk. Tydige bespuiting bring besparings in vog en voedingstowwe mee, en verminder byvoorbeeld fusarium in die grond as gevolg van verminderde gebruik van glifosaat. – Hugo Lochner, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak NexuxAG by 021 860 8040 of besoek hul webtuiste by www.nexusag.net.

Must read

Katoen-verwysingsprys: Week van 27 tot 31 Januarie

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...

LandbouRadio: 3 Februarie 2025

Welkom by 'n splinternuwe LandbouRadio met 'n effense ander baadjie aan. Ons groet vandag ons jarelange omroeper, Gerda le Roux. Aanbieder LiMari gesels met haar oor haar LandbouRadio-reis. Luisteraars kan ook uitsien na die...

RSG Landbou: 3 Februarie 2025 – geborg deur Plaas Media

Senwes het in Januarie aangekondig dat Debbie Bester vanaf 1 April die leisels as uitvoerende hoof van dié landboumaatskappy by Francois Strydom sal oorneem. Ons vind meer uit oor haar loopbaan in landbou. Staatsbeheerde siektes...

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie kleinhandelpryse is nie, maar wel plaashekpryse wat BTW uitsluit. Get the...

A New Era of Mobility: Say Hello to Flexibility with KINTO ONE

Estimated reading time: 3 minutes Imagine the freedom of subscribing to your favourite music, movies, or even gym services. Toyota has introduced this concept to mobility with its innovative KINTO ONE subscription platform. Say hello...