Sukses beteken goeie bestuur en die regte kultivar vir jóú plaas

Estimated reading time: 6 minutes

Die bestuur van weerstandigheid en korrekte mielie- en sojaboonkultivarkeuses was die hoof besprekingspunte tydens vanjaar se Pannar Extravaganza. Die geleentheid het onlangs op die Waterval-boereverenigingterrein op Val in Mpumalanga plaasgevind.

Volgens Nico Barnard, Pannar se landboukundige vir Gauteng, Suid-Mpumalanga en die Oos-Vrystaat, is daar heelwat vals gerugte oor opbrengssukses wat die rondte doen. “Talle produsente glo dat goeie plantestand tot hoër opbrengs lei, terwyl ander weer glo dat omgewingsfaktore die grootste invloed het. Dis egter nie waar nie. Uiteindelik is bestuursbesluite die belangrikste kwessie wanneer dit by opbrengs kom.”

Barnard sê bestuur is ook ‘n baie persoonlike kwessie en word grootliks bepaal deur produsente se aptyt vir risiko, hulle grond se opbrengspotensiaal en die betrokke basters wat hulle kies om te plant.

‘n Studie oor mielieverbouing

Ter ondersteuning van Barnard se standpunt dat plantestand nie die belangrikste sukses faktor is nie, het hy verwys na ‘n Amerikaanse studie, wat in 2016 in ‘n joernaalartikel getiteld: “Yield responses to planting density for US modern corn hybrids: A synthesis-analysis” opgesom is.

Amerikaanse navorsers het vir 14 jaar lank inligting by 124 374 datapunte ingevorder. Hulle het uitsluitlik 0,76m rye bestudeer en die betrokke lande is in vier verskillende opbrengspotensiaal-kategorieë verdeel:

  • 4 tot 7 ton/ha
  • 7 tot 10 ton/ha
  • 10 tot 13 ton/ha
  • > 13 ton/ha

Die meerderheid van Suid-Afrikaanse mielies (63%), KwaZulu-Natal uitgesluit, word op grond met ‘n opbrengspotensiaal van minder as 7 ton/ha verbou.

Barnard sê hoewel die Amerikaanse navorsing nie lukraak op Suid-Afrika toegepas kan word nie, is daar belangrike ooreenkomste wat wel plaaslik van toepassing is. Plantestand is een van dié kwessies. 

Die kwessie van plantestand by mielies

Navorsing het aangedui dat grond met ‘n opbrengspotensiaal van 4 tot 7 ton/ha nié baat vind by ‘n hoër plantestand nie. “Soos die stand toegeneem het, het opbrengs gedaal,” sê Barnard. Hy voeg by dat dié patroon nie by elke opbrengskategorie gevind word nie. Trouens, by die teenoorgestelde kant van die spektrum het die opbrengs deurgaans verhoog soos die plantestand verhoog het.

Die studie het nogmaals getoon dat die opbrengs per plant afneem namate die stand toeneem, en dit is ’n belangrike oorweging vir produsente wat ’n kultivar moet kies. Uiteindelik moet elke land se algehele omstandighede in oënskou geneem word. Dit is ook ‘n goeie idee om nie slegs een kultivar te plant nie, want dít dra by tot die beskerming van ’n produsent teen risiko. Produsente moet egter weet dat sommige kultivars uitstekend in hoë potensiaal grond presteer, maar swak in lae potensiaal grond, terwyl ander presies die teenoorgestelde prestasie lewer.

Daarom glo Barnard dat produsente hulle opbrengs kan verbeter met meer oordeelkundige bestuurskeuses.

“Weersomstandighede is wel ‘n faktor wat produsente binne berekening moet bring. Dit maak nie saak hoe jy jou langtermyn gemiddelde opbrengs bepaal nie, maar dit is belangrik dat dit realisties moet wees.” Produsente moet ook ‘n duidelike, realistiese opbrengsmikpunt voor oë hê. “Dit help nie jy wil nege ton/ha stroop in ‘n area waar die grond slegs ‘n potensiaal van 3 ton/ha het nie.”

Produsente moet ook weet wat hulle lande se opbrengspotensiaal is en daarvolgens plant. Die opbrengspotensiaalgroepe se indeling lyk breedweg soos volg:

  • 3 tot 6 ton/ha is grond met lae potensiaal.
  • 7 tot 8 ton/ha is grond met medium potensiaal.
  • 9 ton 12 ton/ha is grond met hoë potensiaal (aanvullende besproeiing).
  • Meer as 13 ton/ha is besproeiingsgrond.   

“Hou in gedagte dat vogstremming gewoonlik die grootste opbrengsbepalende faktor by laer opbrengspotensiale is,” sê Barnard. Daarom moet alle bestuursbesluite die vog in die grond in gedagte hou. “Verder moet voeding en grondgehalte vir alle opbrengspotensiaalvlakke optimaal wees.”

Sojabone

Produsente maak dikwels ’n fout met sojabone deur net die jongste kultivar, wat in ’n proef presteer het, te plant. “Nuwer is nie altyd beter nie en net omdat ‘n kultivar goed in iemand anders se proef presteer het, beteken nie dat dit by jóú gaan presteer nie,” sê Barnard. Produsente in die koeler Val-produksiegebied moet besef dat die wye reeks kultivarmoontlikhede nie noodwendig ‘n voordeel is nie.

“Vir dié omgewing is daar amper 70 potensiële kultivars beskikbaar, maar kultivarkeuse moet eerder oordeelkundig gemaak word op grond van jou spesifieke produksiegebied, rywydte, opbrengsdoelwit en plantdatum.  Plantdatum is een van die belangrikste faktore en dis baie belangrik dat produsente ‘n verskeidenheid soorte groeiers in hul pakket neem. Só versprei hulle risiko,” sê Barnard. Hy noem ook dat daar nie met sekerheid voorspel kan word of ‘n kort- of langtermyngroeier in ‘n spesifieke jaar beter gaan presteer nie.

Pannar-verteenwoordiger, Charles Matlou (voor regs), maak dié groep Bronkhorstspruit-produsente touwys oor die eienskappe van een van die nuwe Pannar-kultivars. Die produsente is (van links na regs) Maria Matshidiso, Moses Eric, Willem Mahlangu en Sarah Mahlangu.

Weerstandigheid

Gerhard Engelbrecht, Pannar se landboukundige vir die oostelike Hoëveld en Limpopo, sê dis van kritiese belang dat produsente behoorlik rekord moet hou van alle landbouchemikalieë wat op hul grond neergesit is en deurgaans vir weerstandigheid moet monitor. “Onkruidweerstandigheid word ‘n werklikheid as meer as 30% van die onkruid in ‘n bepaalde area weerstandig tot ‘n onkruiddoder is.”

Daar is verskeie redes waarom onkruid na bespuiting sou oorleef. Die onkruiddoder het dalk nie die onkruid bereik nie, ontkieming het moontlik eers ná spuiting plaasgevind óf die onkruid was in die verkeerde groeifase toe die onkruiddoder aangewend is.

“Wêreldwyd is onkruidweerstandigheid egter besig om toe te neem,” sê Engelbrecht. “Dit is baie belangrik om in gedagte te hou, omdat die middels tot ons beskikking beperk is.”

Indien ‘n produsent egter onkruiddoder spuit en alle onkruid op die land daarna vrek, kan die produsent rustig slaap, omdat dít beteken dat die onkruidbestuursprogram steeds doeltreffend is. – Susan Marais, Plaas Media  

Strategieë vir die voerkraalvoorbereiding van kalwers

Estimated reading time: 7 minutes Voerkraalvoorbereiding, beter bekend as backgrounding, verwys na ’n fase...

Veediefstal: Omgewingskriminologie en misdaadanalise

Estimated reading time: 5 minutes Veediefstal is ‘n misdaad wat ouer as die berge...

Amendments in respect of tenure on farms

Estimated reading time: 4 minutes The Extension of Security of Tenure Amendment Act, 2018...

Behou hoë reproduksiesyfers met behulp van prulfout-identifisering

Estimated reading time: 4 minutes Produsente moet weet watter aspekte van veeboerdery uiteindelik tot...