Graan SA landbouseminaar: Produsente moet op hul werk gefokus bly

Estimated reading time: 3 minutes

Die landbouseminaar wat Graan SA tydens die Swartland-skou in Moorreesburg aangebied het was een van die skou se hoogtepunte. Bykans 500 belangstellendes uit die landbousektor het dié geleentheid bygewoon om meer van die nuutste tendense en uitdagings in die bedryf te leer. Die Swartland-skou, wat reeds vir die 89ste keer aangebied is, het ook uitgeblink met sy verskeidenheid van vleisbees-, kleinvee-, skaap- en perdekompetisies.

  • Prof Theo Venter (links), professor in praktyk aan die Universiteit van Johannesburg, was die gasspreker. Saam met hom is, van links, Ian Koch, voormalige bestuurder van die Swartland-skou, Jacques Bester, voorsitter van die Swartland-skou, en MJ Swart van Graan SA.
    Prof Theo Venter (links), professor in praktyk aan die Universiteit van Johannesburg, was die gasspreker. Saam met hom is, van links, Ian Koch, voormalige bestuurder van die Swartland-skou, Jacques Bester, voorsitter van die Swartland-skou, en MJ Swart van Graan SA.

Graan SA, Kaap Agri en Nedbank het die seminaar geborg en Plaas Media was die mediaborg.

Vanjaar het prof Theo Venter, professor in praktyk aan die Universiteit van Johannesburg, as gasspreker opgetree. Hy het die politieke landskap en die vooruitsigte vir die 2024-verkiesing ontleed. Die seminaar het ook ʼn rugbygesprek deur die voormalige Springbokrugbyspelers, Naas Botha en Os du Randt en afrigter, Loffie Eloff, ingesluit. Hulle het hul insigte oor die 2023 Rugbywêreldbeker-toernooi gedeel.

Moenie jou aan die politieke lawaai steur nie

Prof Venter het die teenwoordiges gewaarsku dat volgende jaar se verkiesing baie spannend kan wees. Hy het gesê dat daar meer emosionele en dramatiese uitsprake gemaak gaan word. “Moenie julle aandag deur die politieke lawaai laat aflei nie, maar bly fokus op jul werk. Julle doen dit ondanks die regering, nie danksy die regering nie”.

Hy meen dat die verkiesing en die deelname daaraan die kernsaak is. Die ANC gaan voor ʼn groot uitdaging te staan kom, want hulle gaan nie noodwendig ʼn oorweldigende meerderheid stemme kry nie. Hulle gaan met ander partye in ʼn koalisie moet saamwerk. Die positiewe sy daarvan is dat dit hulle radikale besluitneming inperk.

Waardering vir die Wes-Kaapse regering

Prof Venter het sy waardering uitgespreek teenoor die Wes-Kaapse regering en veral die Departement van Landbou, vir hul uitstekende werk in dié provinsie. “Die Wes-Kaapse Departement van Landbou is die voorloper onder alle landboudepartemente in hierdie land. Hulle kan selfs die nasionale Departement van Landbou oortref.”

Hy het ander provinsies aangemoedig om hul sake in orde te kry. “Kry julle plaaslike regerings reg, herstel infrastruktuur, kry dienslewering weer op dreef en bekamp misdaad, dan sal beleggers vanself terugkom. Jy hoef hulle nie te gaan soek of jouself te bemark nie. As jy hierdie vier dinge doen, sal beleggers weet hier is ʼn plek waar hulle sake kan doen en hul geld kan belê”. – Hugo Lochner, Plaas Media