Estimated reading time: 9 minutes
Die nuwe jaar het aangebreek en in ‘n onlangse persverklaring het die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) elke produsent ‘n voorspoedige 2026 toegewens. ‘n Nuwe jaar, lui die skrywe, beteken ook dikwels nuwe dinge, maar ongelukkig sit ons aan die begin van die jaar steeds met bek-en-klouseer (BEK) wat oorgespoel het vanaf verlede jaar.
Lees die Engelse persverklaring hier.
Sekere dinge bly dieselfde
‘n Groot deel van die situasie rondom BEK is nog dieselfde. Die siekte versprei steeds soos ‘n veldbrand en ons is steeds sonder entstof. Die Ministeriële Taakspan oor Dieresiektes hou steeds vergaderings en maak planne, wat nie met die bedryf gedeel word nie.
Daar word steeds vermeld, maar nie bevestig nie, dat die Botswana Vaccine Institute (BVI) entstof teen einde Januarie 2026 hier sal wees, en dat daar na ander verskaffers ook gekyk word. Die bal is glo aan die rol om die Dollvet (Turkse) entstof in te voer, maar wanneer dit hier gaan wees weet ons nie, want daar moet eers aan ‘n ketting van aansoeke en handtekeninge voldoen word. Al die gesprekke om entstowwe in te voer gaan glo voort, maar dit gebeur steeds sonder dat ons BEK-veldstamme na die Pirbright Instituut gestuur is om effektiwiteit van entstowwe te verseker.
Die plan is steeds om die hele land te ent, maar hoe die plan lyk weet nugter alleen. Intussen sit rooivleisprodusente met positiewe of aangrensende plase steeds sonder ‘n mark, sonder inkomste, met hoër as normale kostes aangesien hulle nie hulle speenkalwers kan verkoop nie. KwaZulu-Natal het steeds ‘n siektebeheergebied met strenger reëls, terwyl die res van die provinsie, en ander provinsies, deurtrek is met BEK. Die produsente is besig om katastrofiese verliese te ly. Hulle is moedeloos, en daar kom nie antwoorde of konkrete oplossings op die tafel nie.
Wat het verander?
Wat nuut is aan die situasie is dat ons nou vrektes van jong kalwers sien weens tiger heart syndrome, waar die virus die hartspier aantas, terwyl ekstensiewe vee voorheen baie ligte simptome gewys het. Dit is nie net die kalfvrektes wat kommerwekkend is nie, maar lakterende ekstensiewe koeie ontwikkel erge mastitis en volwasse diere bly lê want hulle is so kruppel dat hulle nie kan staan of loop nie.
Lees hier ‘n berig oor kalwers in die Noordwes wat gevrek het weens Tiger Heart Syndrome.
Die Nasionale RPO ontvang berigte dat melkerye waarvan die beeste ses weke terug ingeënt was, nou die virus opgetel het en ondanks die inenting steeds met reuseverliese ten opsigte van produksie, morbiditeite en mortaliteite sit. Daar is bevestigde gevalle by varkplase, terwyl daar nie ‘n goedgekeurde entstof vir varke in Suid-Afrika bestaan nie.
Al hoe meer vrae word gevra rondom hoe die virus versprei, want beeste wat meer as ‘n kilometer vanaf die naaste vee is, het positief getoets. Die virus het varkplase met uitstekende biosekuriteitsmaatreëls binnegedring. Daar is vrae rondom die effektiwiteit van die entstof, aangesien ingeënte diere erge simptome wys. Spekulasie oor die virus wat drasties muteer het doen die rondte, want wat nou besig is om te gebeur het ons nog nie vantevore gesien nie.
Wat nou?
Die feit is dat BEK steeds ‘n staatsbeheerde siekte is, maar ongelukkig is dit beslis nie op die oomblik beheerd nie. Ons kan onomwonde sê dat die situasie buite beheer is. Drastiese ingryping met betrekking tot entstofvervaardiging op grond van ons veldstamme, entstofbeskikbaarheid en verkryging, en regerings- en privaatsektor-samewerking vir die toediening van entstof is onontbeerlik.
Die oorhoofse plan om die hele land se vee in te ent is ‘n stap in die regte rigting, maar tans is daar geen werkbare plan bekend oor hoe dit gedoen gaan word nie. Volgens die Ministeriële Taakspan is daar ‘n plan, maar daar was nog geen konsultasie met die bedryf nie en voordat daardie plan nie vir kommentaar beskikbaar is nie, is die algemene gevoel dat die plan nie bestaan nie. Die taakspan bestaan uit ‘n klomp uiters kundige mense, maar die inligting vloei nie uit die taakspan uit nie en dit voel of geen vordering gemaak word nie. Ons weet nie of die probleem by die taakspan lê, of by die implementering van besluite wat deur die taakspan geneem word nie, want tans gebeur dinge onder ‘n spreekwoordelike dekmantel.
BEK is besig om die grootste landboubedryf in SA (gesplete hoef diere in geheel) op sy knieë te dwing, maar dit voel of die oplossings net te stadig kom.
Intussen is die bedryf oorgelaat aan gerugte, hoorsê, berigte, en persverklarings. Dit skep verdeeldheid oor wat ons te doen staan. Sommige stem saam dat die hele land se diere ingeënt moet word, ander is daarteen. Sommige probeer hard om biosekuriteit toe te pas, ander voel dat die virus maar sy gang moet gaan, want alle diere gaan in elke geval ingeënt word. Daar is oproepe om hande te vat met die regering en oplossings te kry; daar is die wat voel dat dit niks gaan help nie en dat die regering eerder hof te gesleep moet word sodat hulle gedwing kan word om in te gryp.
Elkeen is beslis geregtig op sy/haar eie opinie en niemand gaan oor alles saamstem nie, maar die gemene deler is dat elke produsent van mening is dat ons nie langer op die huidige trajek kan voortploeter nie.
Wat staan die produsent te doen?
Alhoewel ons nie produsente kan voorskryf oor hoe om hulle boerderye te bestuur nie, wil ons graag die volgende versoek:
- Pas biosekuriteitsmaatreëls so streng as moontlik toe. Alhoewel die plan is om die hele land se beeste in te ent, gaan dit nie vinnig gebeur nie. Ons sien toenemend hoe die virus erger simptome meebring. Doen dus alles in jou vermoë om dit van jou plaas af te hou.
- Meld kliniese tekens aan. Daar is ‘n gevoel dat dit nie meer nodig is om kliniese tekens aan te meld nie, aangesien dit tans jou marktoegang benadeel en die hele land se beeste in elk geval ingeënt gaan word. Neem kennis dat huidige aanduidings is dat “hot spots”, waar die virus voorkom, eerste entstof gaan ontvang. Die enigste manier om te verseker dat jou area, wat positief is, bo-aan die lys kom, is om die virus aan te meld.
Wat doen die RPO?
Die Nasionale RPO word dikwels gevra wat hulle aan die situasie doen. In kort is daar basies twee paaie, die een is om saam met die regering te probeer werk om oplossings vir hierdie staatsbeheerde siekte te kry, en die ander is om die departement hof toe te sleep en sodoende te probeer bewys dat daar nie genoeg gedoen word nie en die hof hulle dus moet dwing om op te tree.
Die Nasionale RPO het besluit om die pad van samewerking te loop. Dit beteken nie dat hulle nie druk toepas en die nodige vrae vra nie; dit beteken eerder dat hulle bereidwillig is om saam te werk – dus word na hulle geluister en kry hulle dit tog reg om suksesse te behaal. Die mening word gehuldig dat verskeie probleme gaan ontstaan indien ‘n hofsaak hangend gemaak word, waarvan die belangrikste die volgende is:
- Eerstens sal daar geen verdere gesprek tussen die bedryf en die Departement plaasvind nie, aangesien die saak sub judice gaan wees en enige gesprekke en vloei van inligting onmiddellik gestaak sal word.
- Tweedens is daar die tydsduur van ‘n hofsaak. Die gevoel is dat dit te laat is daarvoor. Ons kort nou oplossings. Indien ‘n saak hangend gemaak word kan alle vordering stop. Die tydsverloop van ‘n hofsaak kan baie lank wees en ons het nie die luukse om nóg tyd by die huidige probleem te voeg nie.
- Derdens het die verlede bewys dat ‘n bedryfshofsaak teen die Departement die hele bedryf se briek aandraai. Alhoewel BEK ‘n enorme probleem is, is daar verskeie ander funksies wat die staat verrig en waarvoor ons hulle nodig het. Indien die Nasionale RPO hulle hof toe sou vat oor een probleem, gaan hulle so besig raak met daardie hofsaak dat daar nie meer “tyd” sal wees om ander funksies te verrig nie.
- Vierdens is die algemene beweegrede waarom die Departement hof te gevat moet word, die aanmaning dat daar iets drasties aan BEK gedoen moet word. Indien litigasie oorweeg word moet dit egter baie meer spesifiek wees. Nie eens die hof kan die Departement dwing om iets te doen wat nie prakties uitvoerbaar is nie. Die dringendheid van die aansoek vir ‘n spesifieke saak moet bewys word, nalatigheid om op te tree moet bewys word, die saak moet prakties uitvoerbaar wees en dringendheid van die aansoek moet voor die hand liggend wees.
Die Nasionale RPO is van mening dat hulle tans meer kan bereik deur saam te werk. Saam na oplossings te soek, voorstelle te maak, en aanhoudend die vrae te vra. Ja, daar is beslis probleme. Die vloei van inligting is een. Die beskikbaarstelling van konkrete planne met tydlyne is nog een. Hulle probeer om hierdie inligting te bekom en sal dit versprei soos wat hulle dit ontvang, maar hulle kan nie tans sien dat ‘n hofsaak hierdie uitdagings gaan bespoedig nie. Dit beteken nie dat litigasie van die baan af is vir die toekoms nie, maar dit is nie tans op die tafel nie.
Die RPO is ook deel van die Rooivleis Primêre Groepering (Red Meat Primary Cluster – RMPC) en Rooivleisbedryfsdieste (RMIS). Dewald Olivier en sy span werk hard aan oplossings, voorstelle en navorsing aangesien BEK ‘n baie goeie voorbeeld is van iets wat die hele primêre bedryf (produsente, voerkrale en abattoirs) raak. Dus word die rooivleis statutêre heffing en dienste onder die heffing so vêr as moontlik aangewend om oplossings vir die probleem te kry.
Die ander lede van die RMPC is ook aktief betrokke. Die Voerkraalvereniging het aansoek gedoen om ‘n skema by die regering te registreer om beeste wat voerkrale ingaan te mag inent, wat beteken dat marktoegang vir produsente herstel sal word. Dr Gerhard Neethling van die Rooivleis-abattoirvereniging is ‘n lid van die Ministeriële Taakspan, maar is ook namens die bedryf besig om die nodige planne, permitte en ooreenkomste met die regering te beding om plaaslike en internasionale marktoegang te bevorder.
Ten slotte
Die RPO is ‘n organisasie wat uit produsente bestaan. Aan die stuur van die organisasie is produsente en die organisasie kan produsente dus verseker dat hulle julle frustrasie, verliese en pyn eerstehands ervaar. Dit wat julle ervaar, ervaar die RPO se bestuur ook. Hulle neem besluite en probeer na die beste van hul vermoë om oplossings te vind wat al hulle lede se belange bevorder.
Indien jy voel dat daar meer is wat gedoen moet word, of jy wil help met wat die RPO doen, of selfs indien jy verskil en ‘n ander rigting wil voorstel, raak asseblief betrokke. Daar is in elke provinsie ‘n provinsiale RPO-struktuur wat gesamentlik die nasionale struktuur opmaak. Raak betrokke by die organisasie wat deur produsente, vir produsente werk. – Dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte, Nasionale RPO




