BEK: Veeartse en produsente staan saam

Estimated reading time: 6 minutes

By die eerste bek-en-klouseer (BEK)-werksessie van sy soort is meer as net blote inligting gedeel. Daar is op praktiese, uitvoerbare oplossings gefokus. Die sessie in Potchefstroom het veeartse, bedryfskenners en produsente byeengebring en is deur dr Bastiaan Fouché van Parys Dierehospitaal geïnisieer ná BEK-uitbrekings in die Parys/Vredefort-gebied. Dit is onder die vaandel van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVasa) aangebied.

Volgens dr Fouché was die doel om die algehele impak van BEK in beespopulasies veral op die suiwelbedryf te bespreek, met spesifieke fokus op buffels – ’n hoë risiko-spesie wat dikwels misgekyk word. Danksy aktiewe deelname en doelgerigte gesprekke kon die werksessie tekortkominge in siektebeheer uitlig, waaronder biosekuriteit, dierbewegings, die rol van die staat en onderrapportering van BEK-gevalle.

Gesamentlike verklaring

’n Belangrike uitkoms van die werksessie was ’n gesamentlike verklaring waarin bedryfsrolspelers, insluitend RuVasa, hulle verbind het tot aktiewe deelname aan voorstelle aan die ministeriële BEK-taakspan, wat as skakel met die regering dien. Dr Dave Midgley, uitvoerende hoof van RuVasa, het gesê daar is op grondvlak ’n gevoel dat daar baie oor BEK gepraat word, maar min gedoen word. Die verklaring bevestig egter dat die proses nie by die werksessie eindig nie, maar die begin van volgehoue aksie is. Volgens hom het hierdie sessie, wat doelwitte gestel het vir beter samewerking met staatsveeartse, en tussen private veeartse (medekollegas) en ander bedryfsrolspelers, in sy doel geslaag en ’n opvolgwerksessie word vir vroeg volgende jaar beplan.

Veeartse en ander rolspelers wat die werksessie bygewoon het is van links, Dr Norman Datnow van Stokkiesdraai Dierekliniek, Vanderbijlpark, Craig Robinson, ’n Kokstad-melkboer, Riaan Calitz, seksiebestuurder van African Parks – Rhino Rewild, Klerksdorp, dr JW Eksteen van Kroonstad Dierehospitaal en Janus Hennop, seksiebestuurder van African Parks – Rhino Rewild.

Volgens dr Fouché spruit die verklaring uit ’n tekort aan inligting, veral op grondvlak. Dit behels ’n verbintenis deur elke lid om ten volle beskikbaar te wees vir besluitneming sou dit moontlik as ’n voorstel op die tafel geplaas kan word om saam met die taakspan te dien in terme van besluitneming oor BEK-kwessies. Die voorstel van ’n verklaring het ontstaan uit besprekings oor entstofinvoer, aangesien entstofbeskikbaarheid tans een van die grootste BEK-uitdagings in Suid-Afrika is.

Entstowwe en BEK-veldstamme

Dr David Gerber, uitvoerende hoof en voorsitter van Dunevax Biotech, het in sy aanbieding uitgelig dat daar wêreldwyd voldoende BEK-entstowwe vervaardig word wat moontlik teen Suid-Afrikaanse stamme gebruik kan word. Die grootste struikelblok bly egter die stadige invoer- en registrasieprosesse. Dunevax Biotech beoog om ’n entstof uit Turkye in te voer, maar die registrasie sloer. Dr Fouché het in hierdie verband verduidelik dat dit noodsaaklik is dat Suid-Afrikaanse BEK-veldstamme genetiese ontleed word deur die Pirbright-instituut in Engeland om te bepaal of entstowwe teen plaaslike stamme doeltreffend is. Hierdie ontledings vorm deel van enige invoeraansoek.

Dr Midgley het daarby aangesluit en gesê inenting is een van die belangrikste wapens teen BEK, en alle beskikbare entstowwe moet spoedig teen Suid-Afrikaanse stamme getoets word om die mees doeltreffende en kostedoeltreffende opsie te identifiseer. Gesonde kompetisie is noodsaaklik, maar tans is daar onvoldoende mededinging vir entstowwe wat vir plaaslike stamme geskik is. Suid-Afrikaanse veldstamme moet dringend na die Pirbright-instituut gestuur word vir ontleding – ’n proses wat reeds deur John Steenhuisen, minister van landbou, ondersteun word, maar steeds nie uitgevoer is nie.

Van links is Charlene Willemse, hoofbestuurder by Buffalo Analytics, Christal-Lize Muller, joernalis en streekverteenwoordiger van Plaas Media, dr Mark Chimes van Milk SA (spreker) en dr Baptiste “Baty” Dungu, lid van die wetenskaplike kommissie van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH).

Fokus op buffels

Dr Lin-Mari de Klerk Lorist, staatsveearts in Skukuza, het die implikasies van BEK in buffels toegelig. Volgens dr Fouché het dr Lorist se bydrae goed aangesluit by die werksessie se fokus op buffels as ’n hoë risiko-spesie en onderhoudende draers van BEK. Buffels is draers van die virus maar toon geen sigbare simptome nie weens langdurige blootstelling en aanpassing, veral in en rondom die Krugerwildtuin. Hulle kan die virus na beeste oordra. Hier val die fokus op BEK-vrye buffelpopulasies op kommersiële plase wat groot ekonomiese waarde het. Indien BEK hier sou vestig, kan dit volgehoue virusreservoirs skep en Suid-Afrika se BEK-vrye status bedreig.

Prioritisering en beheer

Volgens dr Midgley is buffels ’n belangrike inkomstebron vir Suid-Afrika deur die toerismebedryf en indirek ook, en daarom moet dit beskerm word. Hy het gesê voerkrale sal die eerste linie vir inenting wees wanneer entstof weer beskikbaar raak, as gevolg van die hoë konsentrasie diere. Die suiwelbedryf volg tweede, aangesien melkbeeste ernstig deur BEK geraak word.

Dr Mark Chimes, bestuurder van Melk SA se Dieregesondheid- en Welsynsprogram, het in sy aanbieding bevestig dat BEK tans buite beheer is in die suiwelbedryf, terwyl entstoftekorte voortduur. Die derde linie is die stoetbedryf, waar waardevolle genetika geteel word. Buffels bly egter die “afskeepkind” in terme van entstofbeskikbaarheid. Dr Midgley het beklemtoon dat voorkomende en ringinenting rondom buffelplase krities is, en dat RuVasa hiervoor sal bly veg.

In hierdie konteks is dr David Pretorius, wildveearts en eienaar van Buffalo Analytics, se data-integrasiestelsel van besondere waarde. Die stelsel bepaal BEK-risiko op ’n wetenskaplike wyse en integreer data oor die hele rooivleisbedryf om beter, ingeligte besluitneming moontlik te maak.

Dr Fouché het gesê die beespopulasie met BEK bedreig tans die buffelbedryf. Indien dit nie gemonitor word nie, kan die siekte terugvloei en die buffelbedryf beïnvloed wat ’n direkte impak sal hê op alle sektore – die suiwelbedryf, voerkrale, rooivleis-, stoet- en kommersiële beesbedrywe.

Aangesien daar geen entstowwe vir buffels is nie en inenting draertoestande kan verdoesel, word die inenting van beespopulasies op en rondom buffelplase des te meer belangriker. Sou BEK in buffels vestig en voortbestaan, sal Suid-Afrika tegnies nie sy BEK-vrye status kan herwin nie. Die bestuur van BEK in buffels is dus ’n onmiddellike prioriteit.

Naspeurbaarheid is krities

Dr Midgley het beklemtoon dat naspeurbaarheid dringend en nie onderhandelbaar is nie. Die beste stelsels moet gebruik word en met mekaar kan integreer, terwyl inligting vrylik tussen staatsveeartse, private veeartse en produsente gedeel word. Hy het bygevoeg dat sonering en kompartementalisering noodsaaklik is om provinsies as BEK-vry te verklaar, met Namibië as ’n suksesvolle voorbeeld sonder inenting, mits dit deur betroubare data ondersteun word.

Dr Fouché het daarop gewys dat BEK wel ’n kuddesiekte is, maar individueel oorgedra word. Effektiewe beheer vereis dus naspeurbaarheid op die vlak van die individuele dier, met volledige regulering en beheer deur die hele waardeketting, veral in uitbrekingsgebiede. Hierdie beginsels word tans nie konsekwent toegepas nie. In sommige gebiede waar uitbrekings voorkom, soos Parys/Vredefort, is formele siektebeheergebiede selfs nog nie afgekondig nie.

Dr Midgley het verder uitgelig dat die huidige BEK-virus aggressief is en vinnig versprei, soos ook deur dr Dirk Verwoerd, senior voerkraalveearts van Karan Beef, beklemtoon is. Hoewel die inenting van die nasionale kudde aangekondig is, bly entstof onbeskikbaar en dringende, gekoördineerde optrede is nou noodsaaklik. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...