BEK-oorwinning laat Wes-Kaap juig

Estimated reading time: 3 minutes

Wes-Kaap kan BEK-beeste begin slag

Agri Wes-Kaap (AWK) en die Rooivleisprodusente-organisasie Wes-Kaap (RPOWK) bevestig dat daar geen verdere uitbreking van bek-en-klouseer (BEK) sedert die aanvanklike geval op die plaas in Gouda aangemeld is nie. Alle ondersoeke dui daarop dat die siekte steeds beperk bly tot daardie plaas en die beheermaatreëls wat toegepas is, werk doeltreffend.

Beheerde slag begin

Die Nasionale Departement van Landbou (NDL) se veeartsenykunde-afdeling span het bevestig dat 25 November 2025 as die amptelike Dag 0 vasgestel is. Die bepaling van Dag 0 beteken dat die uitslag van die besmette kudde op die indeksplaas nou volgens die voorgeskrewe protokol kan begin, onder toesig van die Departement en met streng biosekuriteitsmaatreëls.

Kwarantyn steeds in plek

Plase binne die aangewese kwarantyngebied bly onder dieselfde beperkings totdat die tweede stel laboratoriumtoetse ontvang is. Hierdie toets is kritiek voordat enige opheffing van kwarantyn oorweeg kan word. Totdat die uitslae bevestig dat geen verdere risiko bestaan nie, bly alle plase binne die kwarantynsone dus onder kwarantyn.

Abattoir-registrasie sloer

Die akkreditasie van die geïdentifiseerde abattoir vir beheerde slagtings word reeds deur die NDL oorweeg. Die fasiliteit moet aan streng vereistes voldoen voordat amptelike goedkeuring verleen kan word. Verdere koördinering vind plaas tussen die verantwoordelike regeringsdepartemente en ander rolspelers. Registrasie van ’n geakkrediteerde abattoir is tans een van die hoofprioriteite.

Verkeer gemonitor, maar geen padblokkades

Provinsiale verkeer en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sal voortgaan om die gebied aktief te monitor. Alhoewel daar geen formele kontrolepunte ingestel gaan word nie, sal beide agentskappe sigbaar en operasioneel in die gebied bly. Die nakoming van BEK-protokol word as deel van hul breër feesseisoen-operasionele plan geïntegreer.

Biosekuriteit, biosekuriteit, biosekuriteit

AWK en RPOWK doen ’n ernstige beroep op alle produsente, veevervoerders en rolspelers om nie hul waaksaamheid te verslap nie. Biosekuriteit moet op elke plaas, elke voertuig en by elke beweging van diere gehandhaaf word. Die behoud van streng biosekuriteitsmaatreëls bly die doeltreffendste manier om te voorkom dat BEK versprei en om die Wes-Kaap se waardevolle rooivleisbedryf te beskerm.

  • Elke plaas se biosekuriteit verskil en daarom is dit belangrik om met jou buurman te kommunikeer oor wat elkeen doen om jul omgewing te beveilig.
  • Behalwe trokke wat plase betree, moet produsente ook die bakkies wat op die plaas rondry ontsmet.
  • Dit is belangrik dat die arbeiders van die plaas ook ingelig en opgelei word oor die moontlike verspreiding van die siekte.
  • Dit is belangrik dat daar gereelde kommunikasie met die Departementele veeartsenydienste in jou omgewing, sowel as met private veeartse is.
  • Maak gebruik van die vraelys om die regte dokumentasie in plek te kry – klik op die skakel vir die vraelys: https://tinyurl.com/AnimalMovementApp.

“Ons is dankbaar dat die situasie stabiel bly en dat geen verdere verspreiding plaasgevind het nie. Die beskerming van die Wes-Kaap se veesektor bly ons hoogste prioriteit. Ons sal aanhou saamwerk met die NDL, wetstoepassingsagentskappe en die bedryf om die uitbreking te beperk, te bestuur en te beëindig. Biosekuriteit is nou belangrikker as ooit,” sê Louis Wessels, regsbestuurder van Agri Wes-Kaap. – RPO en Agri Wes-Kaap persverklaring verwerk deur Plaas Media

Popular stories