BEK: Hordes kalwers vrek in Noordwes

Estimated reading time: 5 minutes

Noordwes-boere het sedert Desember verskeie gevalle aangemeld van beeskalwers wat skielik weens bek-en-klouseer (BEK) gevrek het, sonder dat enige noemenswaardige siektetekens vooraf bespeur is. Lichtenburg, Ventersdorp, Swartruggens en Coligny is van die dorpe waar gevalle aangemeld is.

Kobus Bester, ’n stoetboer van Ventersdorp en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Stoettelersfederasie asook ‘n direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie, sê baie diere, veral kalwers van drie maande en jonger, het reeds in die Ventersdorp-distrik gevrek. Terwyl dit op die oog af lyk asof die kalwers gesond en in ’n goeie kondisie is, gee hulle harte in en so kom skielike vrektes voor. In hierdie stadium word die oorsaak van die vrektes nog ondersoek.

Lees dit in Engels: Hordes of calves dying in North West.

Sosiale media-spekulasie weerlê

Intussen gons sosiale media met bewerings dat hierdie gevalle die resultaat van inentings in volwasse diere is. Dr Danie Odendaal, direkteur van die Veearts Netwerk (V-Net), en dr Shaun Morris, direkteur van Octavoscene, het dié sosiale media bewerings egter as loutere snert afgemaak. Beide veeartse is lede van die Ministeriële BEK-taakspan. Die rede waarom hulle nie ag slaan op die gerugte nie, is omdat die regering nog nie inentingsprogramme teen die staatsbeheerde siekte in daardie gebiede van stapel gestuur het nie.

Bester sê BEK het nou sy hoogste vlak in baie jare bereik, gemeet aan die aantal uitbrekings, hoeveel diere geraak word en die grondoppervlakte waarop uitbrekings voorkom. Die siekte affekteer diere in so ’n mate dat vrektes onder jong kalwers asook koeie, swaar diere en veral bulle, voorkom. Produsente ly gevolglik groot produksieverliese. Besmette bulle raak onvrugbaar, wat op sigself ’n beduidende negatiewe impak op produksie het.

Terwyl volwasse diere en selfs ouer kalwers net geringe letsels in die bek gehad het, het jong kalwers skielik begin vrek weens hartversaking.

Entstofvertragings

Hoewel die Ministeriële BEK-taakspan oor die nodige kundigheid beskik en die regte voorstelle maak, kan die bedryf nie sien dat daar tasbare uitvoering aan hierdie voorstelle gegee word nie, sê Bester. Daar is ’n dringende behoefte aan ’n goeie gehalte, langtermyn DIVA-entstof (‘n entstof wat toelaat dat ‘n immunologiese onderskeid tussen besmette en ingeënte diere getref kan word). So ‘n entstof kan na verwagting die probleem onder beheer bring, veral indien dit voorkomend toegedien word.

Dit is daarom uiters noodsaaklik dat virusmateriaal so gou as moontlik na die wêreld-erkende Pirbright-instituut gestuur word. Dit sal verseker dat daar met sekerheid opgetree kan word ten opsigte van die ontleding van Suid-Afrikaanse BEK-veldstamme, sodat doeltreffende entstowwe teen plaaslike stamme beskikbaar gestel kan word.

Dr Odendaal sê die invoerpermitte vir BEK-entstof is steeds nie maklik verkrygbaar nie. Burokratiese prosesse is die grootste rede vir hierdie oponthoud. Na verwagting sal entstof teen die einde van die maand ingevoer kan word. Die stadige invoerproses is volgens hom die grootste rede waarom die land sukkel om die siekte doeltreffend te beheer.

“Hierdie uitbreking het al vier en half jaar gelede begin en noudat die siekte tot so ’n mate toegeneem het dat dit nie meer gestop kan word nie, is daar uiteindelik lig in die tonnel. Ons sal nie meer die siekte kan stop nie; al wat ons nou nog kan probeer doen, is om produksieverliese op individuele plase te probeer verminder deur inenting.”

Nuwe BEK-sindroom

Dr Odendaal het met verskeie veeartse in die areas waar kalwers gevrek het, gesels. Hulle het bevestig dat volwasse diere en selfs ouer kalwers net geringe letsels in die bek gehad het, maar dat jong kalwers skielik begin vrek het weens hartversaking. Die nadoodse ondersoeke het bevind dat die virus die jong kalwers se longe en hartspiere aangetas het, sonder die tipiese BEK-siektetekens, behalwe vir enkele letsels in die bek.

Dr Odendaal beskryf dit as ’n nuwe BEK-sindroom wat in die land voorkom. “Die gevalle het eerstens voorgekom in kuddes wat nog nooit voorkomend teen BEK ingeënt is nie. Hierdie kuddes toon geen assosiasie van ‘n sindroom van kalwervrektes weens inenting nie. Ons het wel monsters na Onderstepoort se laboratorium gestuur vir bevestiging,” sê hy.

Lees hier meer oor onwettige enstof wat deur owerhede gekonfiskeer is.

BEK is orals

Dr Morris sê dis belangrik om te aanvaar dat BEK nou endemies tot die hele Suid-Afrika is. Dit is egter nonsens om te beweer dat daar algemene kieme op die veld voorkom wat kalwers met BEK kan besmet. “Die besmetting van kalwers is van die ouer diere afkomstig, maar omdat dit die jong kalf se hart aantas, kan skielike vrektes voorkom.”

Hierdie voorvalle het al voorgekom in melkerye en voerkrale waar baie diere in ’n klein area saamgehok word. Dit is weliswaar die eerste gevalle in Suid-Afrika waar vleisbeeste in die veld tot so ’n mate besmet word, dat jong kalwers in groot getalle vrek.

Dr Morris verduidelik verder dat die siekte reeds verskeie stamme en sindrome geproduseer het. Dit maak dit moeilik om die siekte te beheer, maar hy verwag dat daar teen die einde van hierdie maand deurbrake sal wees met entstowwe wat ingevoer kan word en dat die siekte onder beheer gebring kan word.

Bydraende en ondersteunende faktore

Dr Paul Reynolds, ‘n veearts by die Warden- en Vrede-dierehospitale, sê BEK versprei in sekere gebiede vinniger as in ander, maar die verloop van die siekte binne ’n kudde is redelik soortgelyk. Hy wys op drie belangrike aspekte waarop gelet moet word:

  • Die ouderdom van kalwers.
  • Die immuniteit van koeie en veral kalwers.
  • Die diere se mineraalstatus en kondisie.

Volgens hom is vrektes van tussen 5 en 20% onder kalwers jonger as drie maande aangeteken. Stres en hantering is die grootste bydraende faktore. Koeie waarvan die inentings op datum is, hoef nie terselfdertyd ander siektes te beveg nie. Kalwers van hierdie koeie het gevolglik ’n goeie immuniteit, byvoorbeeld teen longontsteking, wat onder normale omstandighede en stresvolle weersomstandighede weer kan toeslaan.

Hy meen dat voldoende minerale en goeie kondisie diere twee faktore is wat help om enige siekte beter te beveg, insluitend BEK. – Koos du Pisanie en Christal-Lize Muller, Plaas Media

Related

Overberg Agri voeg waarde toe met ’n voorplant-inligtingsdag

Estimated reading time: 3 minutes Overberg Agri het onlangs ’n voorplant-inligtingsdag by Rietpoel, naby Caledon en Riviersonderend, aangebied. Onderwerpe soos kultivar-evaluasies en analise vir aanplantings, wisselboupraktyke, peste en plae, die ekonomie, asook klimaat en risikobestuur het aandag geniet.  ’n Minder...

Pronkerige perde en pluimvee in die kollig by Swellendam se skou

Estimated reading time: 7 minutes “Lekker kos, lekker musiek, en ’n lekker atmosfeer.” – Ivan Meyer, die Wes-Kaap se minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en...

Overberg-jongooiklub streef na ’n meer effektiewe Merino-skaap

Estimated reading time: 4 minutes Die Overberg-jongooiklub se klublede het verlede Donderdagaand, 5 Maart, vir hul prysuitdeling en die bekendmaking van hul tweede groep kudde-ooie...