Estimated reading time: 4 minutes
Die een werkie op die plaas wat ek verpes, is om ’n halfbevrore lam met glukose in te spuit om dit by te bring. Soos die meeste mense hou ek nie van lang naalde nie en my tone krul behoorlik om wanneer ek een in ’n ure-oue lam se magie moet steek. Dis wel ‘n lekker gevoel wanneer die glukose inskop en die slap diertjie begin roer en my stewels natpiepie. Dit is die sekerste teken dat die lammetjie waarskynlik aan die lewe sal bly.
Mbali is ons plaaskantoor-administrateur wat ons gedurig herinner aan haar koninklike Zoeloe-afkoms. Sy is altyd bereid om in lamtyd te help. Haar hande is klein genoeg om ’n tweeling se bene binne-in die ooi los te knoop, of ’n voedingsbuisie saggies in die keeltjie van ’n hulpelose lammetjie af te druk.
Sy het hierdie winter baie hand bygesit, want niks gee mos ‘n trop ooie meer plesier as om op die koudste nagte te lam nie. En twee kouefronte het gesorg dat ons ooie genoeg yskoue geleenthede gehad het om juis dit te doen.
’n Gebruikte sportmotor
Terwyl ons besig was om die lammers se geboorterekords op datum te bring – ons is geseën met heelwat tweelinge en selfs ’n paar drielinge – merk ek dat Mbali haar rekenaar se skermwag verander het om die nuutste Toyota GR86 te wys. Sy verduidelik dat dit alles deel is van ’n gedetailleerde droom-filosofie wat sy in ’n selfhelpkursus geleer het.
Klik hier om meer te lees oor Toyota en die toekoms.
Terwyl sy die slank motor se opmerklike groen kleur en goue vellings bewonder, erken sy dat ’n foto die naaste is wat sy aan een van die 200 beperkte uitgawe-modelle sou kom. Sy reken sy is realisties oor haar droom, want sy het besluit om eerder ’n gebruikte 86 te koop.
Ek moet myself laat hoor en sê ek sal nie ’n gebruikte sportmotor koop nie, veral nie ’n plat viersilinder Boxer-enjin nie, omdat die vorige bestuurders waarskynlik die enjin se toere hoog sou gehou het.
“Dis nie waar nie,” antwoord Mbali. “Die 86 is gemaak vir bestuurders wat daarvan hou om die ses ratte om die draaie te laat werk, nie vir snelrenjaers wat net vinnig in ’n reguit lyn wil ry nie. Puriste hou van die enjin sonder ‘n turbo-aanjaer. Hulle laat almal die olie vir ’n minuut warm word en ry dan teen lae toere totdat die enjin optimale temperatuur bereik.”
Hoe lank is lank genoeg?
“Ek is bly jy sê ’n minuut,” antwoord ek. “Vlieëniers neem tot vier minute om ’n vliegtuigenjin te laat warm word tydens voorvlugkontroles – maar net omdat dit van die begin af hard moet trek. Jou oupa wat sy ou 1990-model vir tien minute laat luier, mors net brandstof. Die enjin sal in die helfte van daardie tyd warm word as hy teen lae toere op ’n gelyk pad of afdraand ry.”
“Maar hy woon in Bhamshela,” verduidelik Mbali. “Die heuwels daar is so steil soos enige vlugroete. Daar is nie enige gelyk dele nie.”
Waar die bejaardes nog rondry
Ek moet toegee. Bhamshela is ’n tipiese gehuggie geleë in die heuwels wat KwaZulu-Natal se platorand vorm, maar daar is meer Toyota Cressida-modelle uit die 1980’s wat nog rondry as wat jy op enige ander plek op aarde sal kry. Om ’n 30-jaar-oue enjin onder in die heuwels warm te maak, sal meer luiertyd verg as op die plat plato waar ons boer.
Terwyl ek die hanslammers onder die warm ligte aanskou, wonder ek hardop hoe lank dit dan moet neem om dinge te laat warm word – of dit nou nuwe lammers of ou enjins is.
“Ek dink dit hang van die gebruiker af,” reken Mbali. “Tien minute se luier kan langer wees as wat julle ingenieurstipes beskou as nodig want dit mors brandstof, maar vir ‘n motor wat 30 jaar of ouer is, is dit dalk presies die sagter benadering wat nodig is.”
“Dit sal verduidelik hoekom jou oupa vier jong vrouens het,” sê ek tong in die kies. “Vrouens waardeer ’n man wat weet hoe om te luier en sy tyd neem …”
Dit lyk of Mbali bloos toe sy die ligte oor die lammers regdraai, maar sy stem saam. “Jip, en dit is inderdaad waarom ons van Toyota-bestuurders hou.”