Estimated reading time: 7 minutes
Die nuwe nasionale beheermaatreëls vir bek-en-klouseer (BEK), wat ingevolge Artikel 9 van die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) (die Wet) goedgekeur is en reeds geld, hou uitstekende voordele vir die rooivleisbedryf in.
Dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die Nasionale RPO, is veral opgewonde oor die feit dat produsente, op wie se plase BEK-gevalle positief getoets het, binne drie maande weer hul bemarkings- en boerdery-aktiwiteite kan hervat. Daarbenewens kan abattoirs weer die vyfde kwart in hul begrotings inreken.
Vir die ministeriële taakspan wat aan hierdie wysigings gewerk het, was dit een van die belangrikste stappe om uiteindelik vordering in die heersende BEK-situasie teweeg te bring. Hoewel Artikel 9 baie omvattend is, wys dr Maré kernpunte uit waarop produsente en ander rolspelers moet let wanneer hulle die artikel lees en interpreteer.
Regte en voorregte
Die nuwe wetgewing maak dit vir produsente en ander rolspelers makliker om met volhoubare boerdery voort te gaan, maar vir elke reg of voorreg is daar ook verantwoordelikhede. ’n Paar faktore moet in ag geneem word wat die voortgesette landbou-aktiwiteite op besmette plase of persele betref, waarvan die belangrikste waarskynlik is om die beginsel van dag zero te verstaan.
Dag zero word in die nuwe wetgewing soos volg beskryf:
- Oningeënte diere met kliniese tekens: ’n Staatsveearts moet ingelig word indien geen verdere of nuwe kliniese tekens in die kudde teenwoordig is nie. Daarna moet ’n gemagtigde veearts binne vyf dae ‘n inspeksie doen om die datum van die voorlopige kliniese eindpunt te bevestig en aan te teken. Hierdie veearts moet die kliniese inspeksie ná 14 dae herhaal om die afwesigheid van enige kliniese tekens te bevestig, waarna die oorspronklike datum van die voorlopige eindpunt as dag zero sal dien.
- Ingeënte diere: Die dag waarop die laaste dier op die eiendom vir die eerste keer ingeënt is geld as dag zero, mits geen kliniese tekens teenwoordig is nie. Sou kliniese tekens tydens inenting teenwoordig wees, is die voorafgenoemde punt van toepassing.
Die beheerde slag van vee geld vir alle produsente, voerkrale en abattoirs. Geen slagtings word voor die 16de dag ná dag zero toegelaat nie. Vanaf dag 16 mag diere slegs by goedgekeurde abattoirs geslag word. Geen ontbening, ontkliering of verdere verwerking van die tong of afval is nodig nie.
Tussen dag 16 en 41 moet die kop en pote weggemaak of behandel word. Ses weke (dag 42) ná dag zero mag vee vanaf ’n gekwarantynde perseel egter by enige abattoir geslag word, insluitend ’n uitvoerabattoir. Geen ontbening, verwerking of vernietiging van enige karkasgedeelte is nodig nie. Binne ses weke ná dag zero kan die beginsel van die vyfde kwart weer in werking tree, wat ’n beter inkomste vir sowel die produsent as die abattoir beteken.
Die opheffing van kwarantyn kan op een van twee maniere geskied: depopulasie of inenting. In die geval van eersgenoemde word alle gesplete-hoef diere op die plaas verwyder en ’n aansoek word aan die staatsveearts gerig om kwarantyn op te hef. Waar depopulasie nie ’n ekonomies-lewensvatbare opsie is nie en inenting as roete gevolg word, kan die aansoek om kwarantynopheffing 42 dae nadat dag zero bevestig is, ingedien word.
Produsente het verantwoordelikhede
Dit mag dalk goed en maklik klink, maar die samewerking van alle rolspelers is van groot belang. Almal het ook bepaalde verantwoordelikhede. Artikel 9 sit die verantwoordelikhede van produsente duidelik uiteen.
1. Onmiddellike optrede
Sommige belangrike maatreëls moet wetlik nagekom word indien ’n produsent redelikerwys vermoed dat sy diere met BEK besmet is. Dit kan ’n produsent op die lang duur baie probleme spaar. Hierdie maatreëls vereis dat enige vermoedelike geval onmiddellik ingevolge Artikel 11 van die Wet aangemeld moet word, waarna die betrokke epidemiologiese eenheid sonder versuim geïsoleer moet word.
Daarbenewens moet die beweging van diere, diereprodukte, toerusting of potensieel-besmette toerusting verhoed word, terwyl toegang tot die perseel beperk word. Laastens moet staatsveeartsenydienste toegang tot die perseel verleen word ingevolge Artikel 16 van die Wet.
2. Kwarantynbeheer
Die bepalings rakende kwarantyn en die beheer van beweging op sowel besmette eiendomme as gebiede binne ’n 10km-radius daarvan, bly onveranderd. Produsente moet ook kennis neem dat wanneer die siekte op ’n goed-omheinde plaas of perseel bevestig word, waar bewegingsbeheer doeltreffend toegepas en kontak met ander diere verhoed word, die kwarantyn tot daardie spesifieke perseel of gedeelte beperk word.
Dit is ook belangrik dat geen verskuiwing van vee vanaf plase wat direk aan die besmette eiendom grens, of van enige epidemiologiese-gekoppelde liggings, mag plaasvind nie. Bewegingsbeheer moet ten alle tye in stand gehou word totdat die uitslag van die kliniese ondersoeke bekend is.
3. Biosekuriteit
Die nodige biosekuriteit móét in plek is. Die afdeling oor biosekuriteit omskryf die maatreëls wat op besmette en vermoedelik-besmette plase van krag moet wees; dit is belangrik dat alle produsente hiervan kennis neem.
Dit is moontlik om dierprodukte (nie lewende diere nie) vanaf besmette of vermoedelik-besmette plase te verskuif. Produsente moet egter eers by hul staatsveearts aansoek doen om ’n rooikruispermit vir produkte wat steeds die virus kan dra. Waar die produk op die plaas verwerk is, moet vir ’n gewone bewegingspermit aansoek gedoen word. Hierdie wysiging geld nie slegs vir melkprodukte nie, maar ook vir enige ander moontlike besmette produk soos wildsvleis. Produsente word ten sterkste aangeraai om eers by die staatsveearts aan te klop vir hulp en raad voordat enige produk verskuif word.
Een van die besware wat tydens die wysiging van Artikel 9 na vore gekom het, handel oor rondloperdiere wat ook met die BEK-virus besmet is. Die nuwe bepalings spesifiseer dat dit die plig van die staatsveearts en die Direkteur van Dieregesondheid is om hierdie diere tydens BEK-uitbrekings te skut, of dit op eie diskresie van kant te maak.
4. Identifikasie en naspeurbaarheid
Wat vee-identifikasie en naspeurbaarheid betref, moet alle produsente aan die nodige vereistes voldoen. Alle gesplete-hoef diere (nie net ingeënte diere nie) op plase en persele waar teen BEK ingeënt is, of waar besmetting bevestig of vermoed word, moet individueel geïdentifiseer word. Vir lewenslange naspeurbaarheid moet hulle op ’n databasis aangeteken word, met die uitsondering van slagvarke waarvoor lotnommers gebruik kan word.
Hierdie diere moet ook in ’n register aangeteken word wat deurentyd op datum gehou en waarin enige veranderinge aangeteken word. Boonop moet ’n kopie aan die plaaslike staatsveearts beskikbaar gestel word terwyl die perseel nog onder kwarantyn is. Voerkrale, afrondingseenhede en spekulante moet ’n voorraadlys byhou waarop alle nuwe aankomelinge en uitgaande diere aangeteken word, en waarop rekords van alle vrektes gehou word. Dit moet beskikbaar wees vir ’n oudit deur die staatsveearts.
Dr Maré wys daarop dat die ministeriële taakspan alles in hul vermoë gedoen het om die landbousektor weer op sy voete te kry. “Indien elke rolspeler saamwerk, kan die BEK-probleem vinnig die hoof gebied word.”
Die magtingsproses
Die Departement van Landbou het intussen die aanlynproses bekendgestel waarmee vee-eienaars as ’n gemagtigde persoon kan registreer om hul eie diere te ent. Dit kan gedoen word op die webwerf www.fmd.nda.gov.za/accounts/signup/
Die proses vind in drie stappe plaas:
- Registreer as ’n gemagtigde persoon: Vee-eienaars en -bestuurders kan aanlyn aansoek doen om as ’n gemagtigde persoon geregistreer te word sodat hulle die BEK-entstof kragtens die Wet mag toedien.
- Kennisgewing van voorneme om in te ent: Sodra ’n produsent as ’n gemagtigde persoon geregistreer is, moet hy of sy die provinsiale direkteur van veeartsenydienste of die staatsveearts in kennis stel van sy voorneme om diere in te ent. Hierdie kennisgewing moet minstens vyf dae voor die toediening van die entstof aanlyn of skriftelik ingedien word. Nadat kennis gegee is, kan die gemagtigde persoon die nodige entstowwe direk by ’n gemagtigde veearts in hul gebied verkry.
- Inhandiging van ’n inentingsverslag: Binne 14 dae nadat die diere ingeënt is, moet die gemagtigde persoon die plaaslike staatsveearts voorsien van die terugvoer wat deur die aanlynterugvoerstelsel voorgeskryf word. Hierdie verslag moet besonderhede bevat van die ingeënte diere, die entstof wat gebruik is, asook die ligging van die plaas waar dit toegedien is. Die verslag kan óf aanlyn óf skriftelik ingedien word.
Almal op dieselfde bladsy
Landbouminister Willie Aucamp sê in ‘n verklaring dat produsente wel die opsie het om enige van die goedgekeurde aanlynstelsels te gebruik wat deur die privaatsektor gebied word. Dit sluit Rooivleisbedryfsdienste (RMIS), die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief (Saai) en Buffalo Analytics se platforms in. Dit bly egter die produsent se verantwoordelikheid om te bepaal of die stelsel wat hy of sy wil gebruik, wel deur die Departement van Dieregesondheid aanvaar word.
Aucamp het georganiseerde landbou-organisasies aangemoedig om namens hul lede met goedgekeurde entstofinvoerders te skakel oor die hoeveelhede wat benodig word. Dit sal die invoerders in staat stel om die regte hoeveelheid voorraad te bepaal en bestel. Waar produsente kies om self hul diere in te ent, sal die koste van die entstowwe egter vir hul eie sak wees. Vir meer inligting, skakel dr Frikkie Maré by 084 446 6787.– Koos du Pisanie, Plaas Media