Artikel 10-skema moet nou dringend in werking tree

Estimated reading time: 5 minutes

Die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging (SAVA), die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVasa) en die Suid-Afrikaanse wildbedryfgroepering het hierdie week in ’n regskrywe aan die minister van landbou, gesê dit is uiters belangrik dat die sogenaamde Artikel 10-skema vir voorkomende inenting teen bek-en-klouseer, regsgeldig moet wees. Die skrywe volg op ‘n vroeëre regskrywe waarin die organisasies aanvanklik op ’n verouderde weergawe van die konsepskema gereageer het en met hofaksie gedreig het.

Die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het in sy kommentaar op die eerste skrywe gesê die meeste van die probleem-areas wat aanvanklik deur SAVA en RuVasa uitgelig is, is reeds in nuwer weergawes van die konsepdokument aangespreek. In hul nuwe skrywe aan die minister, het die organisasies gesê hulle neem kennis hiervan en besef dat hulle op ’n ouer weergawe gereageer het. Hulle meen egter dit bly belangrik dat die finale weergawe van die skema regsgeldig is en op ’n operasionele vlak uitvoerbaar is. Hulle het ook klem gelê op die feit dat die veeartsenykundige beroep deur SAVA gereguleer word en dat geen sodanige magte of administrasie aan ’n ander party oorgedra kan word nie.

In sy kommentaar op die nuwe skrywe tydens ’n LandbouRadio-gesprek, het dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die RPO, gesê hulle stem heelhartig met die nuwe skrywe saam. Die finale weergawe van die voorgestelde Artikel 10-skema word egter steeds steeds afgewag. Die departement het nog nie ’n finale dokument vir finale insette en kommentaar gesirkuleer nie. Hy het gesê die afkondiging van die skema is ’n saak van dringendheid sodat die proses kan begin en privaatinstansies betrek kan word. “Die tyd raak min.”

RMIS se voorgestelde rol

Volgens die SAVA/RuVasa/wildgroepering se aanvanklike formele beswaar teen die lang-verwagte skema, sal die skema onder meer te veel magte aan Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) verleen. Die RPO het in ‘n inligtingstuk aan sy lede gesê dat dit wel nie die geval is nie, en dat sy lede kennis moet neem van ’n klompie feite, sodat enige verwarring, onsekerheid en verkeerde vertolkings uit die weg geruim kan word.

Die Nasionale RPO het in reaksie hierop in ’n inligtingstuk aan sy lede verduidelik watter rol en funksies wel ten opsigte van die RMIS voorgestel is.

Die RMIS, sê die RPO, is geensins ’n besluitnemer vir of namens die bedryf nie, maar ’n dienslewerende instansie wat slegs in opdrag van die rooivleisbedryf en ’n aangewese raad mag optree. Tweedens is die rol van RMIS, soos in die konsep-skema voorgestel, geensins dié van ‘n ‘hekwag’ nie. RMIS, wat hoofsaaklik funksioneer met befondsing vanuit die rooivleis statutêre heffing, is in die dokument voorgestel om sekere aksies uit te voer en sodoende die administrasie van die skema vir aansoeke, entstofbestellings, en -lewering te vergemaklik.

Die feite, in ’n neutedop

  1. Daar is geen vereiste dat veeartse aan RMIS se naspeurbaarheidsplatform móét deelneem ten einde hulle werk te kan doen nie.
  2. Die voorstel wat wel in die konsep-skema vervat is, is dat veeartse wat by SAVA geregistreer is, op die RMIS se stelsel aanteken om hul entstofbestellings daar te plaas, sodat die proses gladder kan loop en hulle ’n GLN-nommer kan ontvang, waarna die stelsel kan aandui in watter gebiede inentings toegedien is.
  3. RMIS kan nie die sertifikate wat met die proses verband hou, goedkeur nie. ’n Aangestelde komitee moet hierdie funksie verrig. Die RMIS-platform is slegs voorgestel as ’n kanaal waardeur aansoek gedoen kan word vir die sertifikaat, waarna die komitee dit moet goedkeur, sodat RMIS dit kan uitreik. Die rede vir die voorstel is dat die RMIS-platform reeds beskik oor ’n funksie wat so ’n proses kan fasiliteer.
  4. In kort, RMIS het geen besluitnemingsmagte nie. RMIS is wel beskikbaar om die nodige fasilitering tussen die bedryf en regering te doen om die proses so spoedig as moontlik uit te rol.
  5. RMIS is en bly ’n nie-winsgewende maatskappy wat gefokus is op dienslewering aan die rooivleis- en lewendehawe-groepering en sy lede. RMIS voer hierdie groepering se opdragte en projekte uit, en het nié besluitnemingsmagte nie.
  6. RMIS se uiteindelike doelwit is om aan die rooivleisgroepering se 2030-rooivleisbedryfstrategie uitvoering te gee deur die bereiking van bepaalde doelwitte, onder andere strategieë om veesiekte-risiko’s te bestuur en aan internasionale naspeurbaarheidsvereistes te voldoen.
  7. Wat RMIS se rol ten opsigte van die beheer van BEK betref, is dit eenvoudig om ondersteuning aan die bedryf te bied sodat die bedryf oor die lang termyn volhoubaar kan bly, aan internasionale standaarde sal voldoen sodat marktoegang verseker sal word, en sy produk op grond van wetenskaplik-gefundeerde beginsels sal produseer. Die stelsels wat RMIS tot dusver ontwikkel het doen presies dit – bied ondersteuning.

Hou jou oog op die bal

‘n Laaste, en waarskynlik die belangrikste opmerking deur die RPO, is dat onnodige regsaksie verdere vertragings kan meebring in ’n inentingsveldtog wat die bedryf weer op sy voete kan bring. Die veebedryf in Suid-Afrika kan nie verdere vertragings in hierdie proses bekostig nie, veral nie weens inligting wat verkeerdelik voorgelê en/of geïnterpreteer is nie. Dit mors nie net kosbare tyd nie, meen die RPO, maar saai onnodige verwarring in ’n tyd wanneer gekoördineerde optrede van uiterste belang is.

BEK is ‘n staatsbeheerde siekte en uiteindelik het die staat die finale besluit oor die dienste wat uitgerol word. RMIS werk vir die bedryf en die bedryf het ‘n stelsel wat vir doeleindes van fasilitering voorgestel word. Die inligtingstuk beklemtoon dat RMIS nié beheer uit enigiemand se hande neem nie.

Dit is nou, meer as ooit, sê die RPO, belangrik dat produsente fokus op die taak op hande en hulle nie laat ontspoor deur kantgevegte en semantiek nie. Dit is baie maklik, én gevaarlik, om te verval in spekulasie indien die feite nie op die tafel is nie. Hopelik sal die pad vorentoe een wees waarin alle partye hulle eers van die feite sal vergewis en hulle sal weerhou van onnodige, duur en tydrowende regstappe. – Plaas Media

Popular stories