Aanspreeklikheid vir die verspreiding van brande

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

  • Veldbrande in Suid-Afrika is verwoestend en bedreig lewe en eiendom. Dit is dan binne die bestek van hierdie risiko wat die wetgewer ingegryp het met ’n poging om ’n skema in plek te stel waar daar op ’n proaktiewe wyse pligte op grondeienaars geplaas word om die ontstaan en verspreiding van brande te voorkom.
  • Die aard, doel en vereistes van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998) (Veldbrandwet) is al kortliks in ’n vorige artikel verduidelik.
  • Een van die kwessies rondom die aanspreeklikheid vir skade veroorsaak deur veldbrande wat ’n paar keer in die howe gedraai het, was wie regtens as die eienaar van grond van waar ’n brand ontstaan of versprei het, aanspreeklik gehou behoort te word.  
  • Die probleem ontstaan waar grond deur die geregistreerde eienaar uitverhuur word en daar beheer of besit van die grond aan die huurder afgestaan word. In ‘n aantal sake het brande tydens die gebruik of huur van die grond daarop ontstaan of versprei na die aangrensende eiendomme.
  • Alle persone wat onder die definisie van ‘eienaar’ val, moet aan die verpligtinge van die Wet voldoen.

Veldbrande in Suid-Afrika is verwoestend en bedreig lewe en eiendom. Gedurende die wintermaande is dit sekerlik die grootste enkele risiko wat in ons landelike gebiede bestuur moet word. 

Dit is dan ook binne die bestek van hierdie risiko wat die wetgewer ingegryp het met ’n poging om ’n skema in plek te stel waar daar op ’n proaktiewe wyse pligte op grondeienaars geplaas word om die ontstaan en verspreiding van brande te voorkom. Die maatreëls van hierdie skema kom in die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998) (Veldbrandwet) voor. Die aard, doel en vereistes van die wet is al kortliks in ’n vorige artikel verduidelik.

Brandbestrydingsverenigings

Dit is belangrik om daarop te let dat die Veldbrandwet regoor Suid-Afrika brandbestrydingsverenigings in die lewe roep waarvan lidmaatskap vrywillig is, maar met die spreekwoordelike angel dat Artikel 34 van die betrokke wet regtens ’n vermoede skep dat ’n grondeienaar wat nie ’n lid daarvan is nie, tot die teendeel bewys word, nalatig was in die ontstaan en/of verspreiding van ’n veld- of bosbrand op sy of haar grond en wat ander skade veroorsaak. 

In ’n gewone hofsaak waar ’n eiser skade sou eis, sou die eiser moes bewys dat die persoon wat vir die skade blameer word, nalatig was. In die Veldbrandwet word die bewyslas geskuif na die grondeienaar wat vir die skade blameer word, om aan te toon waarom die hof nie moet bevind dat daar nalatigheid aan die kant van die betrokke grondeienaar was nie.

Hierdie vermoede en die risiko wat ’n brandeis inhou, behoort op sigself genoeg rede te wees om by ’n brandbestrydingsvereniging aan te sluit. Daarmee saam vervat meeste aanspreeklikheid versekeringspolisse spesifieke uitsluitings van aanspreeklikheid waar polishouers nie ‘n lid van ’n brandbestrydingsvereniging is nie.   

Leer meer oor risikobestuurtegnieke met brande.

Verhuring van grond

Een van die kwessies rondom die aanspreeklikheid vir skade veroorsaak deur veldbrande wat ’n paar keer in die howe gedraai het, was wie regtens as die eienaar van grond van waar ’n brand ontstaan of versprei het, aanspreeklik gehou behoort te word.  

Die probleem ontstaan waar grond deur die geregistreerde eienaar uitverhuur word en daar beheer of besit van die grond aan die huurder afgestaan word. In ‘n aantal sake het brande tydens die gebruik of huur van die grond daarop ontstaan of versprei na die aangrensende eiendomme. In talle van hierdie sake was die staat ook die geregistreerde eienaar wat grond uitverhuur het aan ’n persoon of gemeenskap wat enersyds nie lid van ’n brandbestrydingsvereniging was nie en ook nie voorkomend ten opsigte van brande opgetree het nie. Die geregistreerde eienaar het aangevoer dat beheer en besit aan die huurder afgestaan is en dat die geregistreerde eienaar nie aanspreeklik gehou kan word vir die skade nie. 

In die saak van Nieuco Properties 1005 (Edms) Bpk en ’n ander vs Inkululeko Community Trust en Andere, saaknommer 872/2017, het die Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika die kwessie van eienaarskap en die afstaan van beheer oor grond aan ’n huurder of ander grondgebruiker binne die bestek van die definisie in die Veldbrandwet oorweeg. 

In die saak het ’n huurder die plaas vir vyf jaar by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die gemeenskapstrust, Inkululeko, gehuur. Die huurooreenkoms het sekere pligte rondom brandvoorkoming op die huurder geplaas. Daarna en tydens die huurtydperk het ’n brand ontstaan en na die eiser se grond versprei. Dit het uiteindelik skade aan makadamiaboorde op die aangrensende grond veroorsaak.  

Nadat ’n eis teen die geregistreerde eienaars (verhuurders) ingestel was, het hulle hul beroep op die feit dat hulle met die oorgawe van beheer van die plaas aan die huurder, nie onder enige verpligting was om die Veldbrandwet na te kom nie. Uiteindelik het die geskilpunt gedraai rondom die vraag of die huurooreenkoms en die pligte wat die ooreenkoms op die huurder plaas, die geregistreerde eienaar onthef van aanspreeklikheid en vermoede in Artikel 34 van die Veldbrandwet.     

Verpligtinge van die eienaar

In sy uitspraak het die hof beslis dat, ingevolge die Veldbrandwet, meer as een persoon gelyktydig as die eienaar van ’n spesifieke stuk grond beskou kan word. Die hof het spesifiek na die verhouding tussen die verhuurder en huurder verwys. Alle persone wat onder die definisie van ‘eienaar’ val, moet aan die verpligtinge van die Wet voldoen.

Dus, die tydelike afstaan van beheer deur die geregistreerde grondeienaar aan ’n huurder of ander grondgebruiker, sal nié die eienaar vrywaar van aanspreeklikheid wat voortspruit uit die ontstaan of verspreiding van ’n veld- en/of bosbrand nie. Dit plaas ’n groot regsplig op geregistreerde grondeienaars wat tydelike beheer oor grond afstaan, om ook met die sluit van ’n huurooreenkoms seker te maak dat die Veldbrandwet nagekom word om die moontlike gevolge en vermoede in die betrokke wet vry te spring. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak die outeur by 018 297 8799 of hj@mmlaw.co.za.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 28 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...