Aanlyn Brahman-veiling wys pad vorentoe

Estimated reading time: 4 minutes

Die Brahman Beestelersgenootskap van SA se eerste nasionale aanlynveiling is afgehandel, met beide hoogte- en laagtepunte. Sietze Smit, rasdirekteur van die genootskap, sê die aanbieding van ’n nasionale aanlynveiling was vir hulle ’n nuwe ervaring.

Van links is Piet Wessels, BKB-bemarker; John-Dee Havenga, BKB-spesiale veilingskoördineerder; Gareth Hughes, afslaer; Jaco Schlebusch, die verkoper van die duurste bul; en Jan Louw, tegniese bestuurder van die Brahman Beestelersgenootskap van SA. Die koper, Nikkie Fourie, was afwesig met die neem van die foto.  

Hy glo die genootskap breek nuwe grond met hierdie foto- en video-veiling wat deur BKB in samewerking met die aanlynplatform Meerkat by die Koöperasie Kroeg en Kos in Potchefstroom aangebied is. Gareth Hughes was die afslaer.

Smit sê daar is oorspronklik beplan om die nasionale veiling in die tradisionele formaat by die Afridome in Parys aan te bied, met diere wat fisies in die ring vertoon sou word. Volgens hom was die noodsaaklike besluit geneem om die formaat en ligging te verander weens die situasie rondom bek-en-klouseer (BEK) in die land, en die hoë risiko verbonde aan die tradisionele aanbieding van hul nasionale veiling. Die genootskap het gevolglik besluit om eerder ’n aanlynveiling aan te bied – ’n besluit wat gemengde resultate opgelewer het. 

Volgens Smit het die veiling in sekere opsigte goed verloop, en in ander gevalle minder goed. Tog bly hy optimisties oor die toekoms. “Ons sien uit na die veranderinge wat hierdie nuwe formaat vir ons in die veebedryf,  en spesifiek ook in die aanbieding van stoetdiere op veilings, gaan meebring,” sê hy. Hoewel daar ongetwyfeld groeipyne in hierdie verband is, loof Smit die betrokkenes wat binne minder as tien dae die ekstra myl gestap het om dit ’n werklikheid te maak.

’n Belangrike boodskap

Smit sê die genootskap se boodskap met dié aanlynveiling was dat dit ’n waardevolle platform gebied het om van die beste genetiese materiaal in die bedryf aan te bied en te verkry. Hy sê dat beide diegene wat aanlyn deelgeneem het en dié wat fisies teenwoordig was, kon sien dat die diere wat aangebied is streng geselekteerde en uitstaande teelmateriaal verteenwoordig het. Hy sê die BEK-situasie sal op die langtermyn hersien word.

Dit is die negatiewe aspek van die huidige omstandighede ten opsigte van beperkings, maar die positiewe kant is dat ’n aanlynformaat gewys het dat dit wel ’n werkbare opsie is. “Die veiling was lewendig en aktief – beide op die vloer en aanlyn – wat daarop dui dat mense bereid is om deel te neem, mits behoorlike beplanning en tydige reëlings getref word.

Smit sê die genootskap beklemtoon dat die besluit om nie met die tradisionele formaat van hul nasionale veiling voort te gaan nie, in belang van die breë bedryf en veral die Brahman-telers geneem is. ’n Veiling in Parys sou in ’n hoë-risiko-gebied plaasgevind het, en die besluit is dus geneem om die telers, hul diere, en die stoetbedryf as geheel te beskerm.

Die hoogste prys van die dag

Die hoogste prys op die veiling was vir Lot 3, die bul Sir Nicolaas (S-B 2017) van Jaco Schlebusch van Schlebusch Brahmane by Delareyville. Die bul is vir R280 000 aan Nikkie Fourie van VTV Boerdery by Christiana verkoop. Schlebusch beskryf die bul as ’n ‘volledige pakket’ wat uitstekende EBV’s (beraamde teelwaardes) en fenotipiese eienskappe insluit. Hy het ’n goeie toplyn, baie diepte en kapasitiet, staan stewig op sy bene en beweeg gemaklik.

S-B 2016 was die duurste koei (3-in-1) op die aanlynveiling. (Foto deurJan Louw)

Die hoogste prys vir 3-in-1 koeie was vir Lot 22, S-B 2016, ook van Schlebusch wat vir R70 000 aan dieselfde koper, Nikkie Fourie, verkoop is. Die koei is ses maande dragtig en het ’n topgehalte-bulkalf, (S-B 254) aan haar sy. Sy beskik oor ’n uitstekende wigvorm, breedte, en kapasiteit. 

Smit sê die Brahman Genootskap van SA sien uit na volgende jaar se nasionale veiling en verseker dat enige uitdagings wat mag ontstaan, daadwerklik aangespreek sal word. – Christal-Lize Muller

Vir meer inligting kontak Sietze Smit by 083 712 9965 of info@brahman.co.za.

Dynamics of the South African lucerne hay industry (Part 4): Producer prices

Estimated reading time: 8 minutes The previous articles in this series focussed on aspects relating...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...