Weidingsgehalte in die berugte doodmaakmaande

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

Suurveld kom hoofsaaklik in die hoëreënvalgebiede van die oostelike dele van die land voor, terwyl soetveld in die laereënvalgebiede van die noorde en weste aangetref word.

Die doodmaakmaande in Suid-Afrikaanse veeboerdery verwys na die uitdagendste oorgangstydperk in ’n jaarlikse leksiklusprogram. Hierdie tydperk strek gewoonlik vanaf middel-winter tot middel-lente.

Dr Josef van Wyngaard, waarnemende nasionale tegniese bestuurder by Voermol, sê die doodmaakmaande in die somerreënvalstreke duur gewoonlik vanaf Julie tot September of selfs van Augustus tot Oktober. Gedurende hierdie tydperk is die gehalte en beskikbaarheid van natuurlike weiding op hul swakste, en die voedingswaarde van gras op sy laagste. Daarom is dit noodsaaklik dat produsente ’n volledige en goed-beplande lekprogram volg.

Verskillende weidingstelsels

Suid-Afrika beskik oor verskillende weidingstelsels wat grootliks deur die hoeveelheid reënval en tipe gras bepaal word. Die belangrikste hiervan is suur- en soetveld. Suurveld kom hoofsaaklik in die hoëreënvalgebiede van die oostelike dele van die land voor, terwyl soetveld in die laereënvalgebiede van die noorde en weste aangetref word. Dit is ook moontlik dat suurkolle in soetveldgebiede kan voorkom.

Volgens dr Van Wyngaard bied suurveld slegs twee tot drie maande per jaar hoë-gehalte gras vir weiding. Hoewel suurveld oor die algemeen ’n groot hoeveelheid gras produseer, is die voedingsgehalte daarvan laag. Soetveld lewer daarteenoor minder gras, maar die weiding is van ’n hoër gehalte, veral wat die proteïenwaarde betref.

Die naam ‘suurveld’, verduidelik hy, hou verband met die grondtoestande in hoëreënvalgebiede. Belangrike voedingstowwe soos makro- en mikrominerale loog oor tyd uit die grond. Gevolglik daal die grond se pH namate die grond meer uitloog en oor ’n langer tydperk nat bly.

Hierdie versuring beperk die beskikbaarheid van voedingstowwe vir plante, wat veroorsaak dat hulle minder daarvan uit die grond opneem. Die gevolg is dat die plante ’n harder struktuur met hoër veselvlakke ontwikkel as plante in soetveldgebiede; dit maak dit moeiliker vir vee om die weiding in die wintermaande af te wei en doeltreffend te benut. Dit is een van die belangrikste verskille tussen suur- en soetveld.

Produsente met ’n doeltreffende voervloeiprogram is gedurende die wintermaande in ’n beter posisie, meen hy. Mieliereste wat ná oes bewei kan word of groen wintergewasse wat doelbewus aangeplant is, help om die voedingsgaping te oorbrug. Teen die tyd dat die doodmaakmaande aanbreek, is daardie reste en wintergewasse egter dikwels reeds uitgeput. “Dit is juis dan wanneer produsente in die rooi is wat voedingsgehalte en weidingsbeskikbaarheid betref, en wanneer ’n goed-beplande lekprogram ’n groot verskil kan maak,” verduidelik hy.

Energie- en proteïenaanvulling

Die laer voedingswaarde van natuurlike gras gedurende die winter is deel van die plant se normale groeisiklus. Nadat gras in die herfs volwassenheid bereik en saad geskiet het, verloor dit geleidelik sy groen kleur en gaan ’n dormante fase binne.

“Tydens hierdie fase onttrek die plant die meeste van sy voedingstowwe na die wortelstelsel, wat veroorsaak dat dit feitlik ophou groei deur die winter. Terselfdertyd styg die veselinhoud en neem die proteïeninhoud af. Daarom word proteïen as die beperkende voedingstof tydens die winter beskou, en is die aanvulling daarvan noodsaaklik.”

Dr Van Wyngaard sê ’n proteïenlek alleen is egter onvoldoende gedurende die doodmaakmaande, omdat dit slegs proteïen en minerale insluit. “Daarom moet ’n produksielek oorweeg word, aangesien dit energie, proteïen en minerale bevat. ’n Energiekomponent is belangrik, want tydens die doodmaakmaande is nie net die gehalte van weiding ’n probleem nie, maar ook die beskikbaarheid daarvan. Beide energie en proteïen moet aangevul word om die voedingstekorte van die veld te oorbrug.”

Beeste wei op natuurlike weiding in die Potchefstroom-distrik, waar ’n kombinasie van suur- en soetveld benut word.

Bykomende druk weens kalwing

Nog ’n groot uitdaging tydens die doodmaakmaande is dat baie vleisbeeskuddes juis in hierdie tyd kalf. Hoewel sommige vroeër in die winter begin kalf en ander eers later tot in die somer, val die piek van die kalfseisoen dikwels saam met die tyd wanneer die voedingswaarde van natuurlike weiding op sy swakste is. Dit beteken koeie se voedingsbehoeftes bereik hul hoogste vlak wanneer die veld die minste voedingstowwe kan voorsien.

“Dit is waarom ’n produksielek in hierdie tyd so belangrik is. Dragtige en lakterende koeie moet voldoende voeding ontvang om genoeg goeie-gehalte melk te produseer, sodat kalwers hul maksimum groeipotensiaal kan bereik. Die doel is uiteindelik om swaarder kalwers te speen, terwyl koeie in ’n goeie kondisie gehou word om betyds weer dragtig te raak.” Hy beklemtoon dat ’n belegging in ’n produksielek tydens die doodmaakmaande nie bloot ’n ekstra uitgawe is nie, maar eerder ’n belegging in speengewigte, reproduksie en die toekomstige produktiwiteit van die kudde.

Dit is ook belangrik om te weet dat die proteïeninhoud van winterveld verskil van dié van suur- en soetveldgebiede. Dr Van Wyngaard se ontledings van wintergras in suurveldgebiede het al proteïenvlakke van minder as 2% getoon. Byvoorbeeld, natuurlike somerweiding bevat gewoonlik tussen 8 en 12% proteïen, terwyl hoë-gehalte grasse soos witbuffelgras selfs hoër waardes kan bereik.

Hy illustreer die omvang van die tekort met ’n voorbeeld: “Indien ’n koei ongeveer 10kg wintergras met ’n proteïeninhoud van 2% inneem, ontvang sy slegs sowat 200g proteïen/dag, terwyl sy tussen 500 en 600g/dag benodig vir onderhoud. Dit kan egter verdubbel wanneer sy kalf en melk begin produseer. Sy moet immers haar liggaamskondisie herstel en haar voortplantingstelsel vir die volgende dekseisoen voorberei.”

Oorbrug die voedingsgaping

’n Tipiese produksielek het ’n proteïeninhoud van tussen 18 en 25%. “Neem byvoorbeeld ’n produksielek met ’n proteïeninhoud van 25%. Indien ’n koei 1kg/dag daarvan inneem, ontvang sy sowat 250g proteïen, buiten die 200 tot 300g wat sy uit die veld kry. Sodoende het sy haar daaglikse proteïenbehoefte bereik en is sy waar sy moet wees in terme van onderhoud.”

Die aanbevole daaglikse inname vir sommige produksielekke kan tussen 1,5 en 2kg/koei wissel. Hierdie gaping tussen die voeding wat die veld bied en dit wat die koei gedurende dié tydperk benodig, moet oorbrug word. “Koeie se energiebehoefte tydens die onderhoudsfase in die winter is hoër as in die somer. Dit is omdat hulle ekstra energie gebruik om hitte te genereer.”

’n Driefase-lekprogram

Dr Van Wyngaard sê ’n tipiese, goed-beplande driefase-lekprogram begin met ’n proteïenlek in die winter. Hierdie fase skop gewoonlik ná die eerste ryp af. “Die diere se lekinname bied ’n verdere aanduiding dat dit tyd is om na ’n proteïenlek oor te skakel. Wanneer diere in die somer, wanneer die gras groen is, ’n mineraallek ontvang en hul inname begin toeneem, is dit tyd om na ’n proteïenlek oor te skakel – veral as dit geryp het.”

Die tweede fase is die produksielekfase, wat in die doodmaakmaande val, en wat hy as die belangrikste fase ag. ’n Produksielek word gewoonlik vir twee tot drie maande voorsien, veral gedurende die kalfseisoen wanneer koeie se voedingsbehoeftes die hoogste is.

Sodra die veld ná die eerste goeie reën begin herstel, kan produsente na die derde fase oorskakel. Dit behels die voorsiening van ’n mineraallek, wat ná die eerste reën gegee kan word. Hierdie oorskakeling word egter nie deur ’n kalenderdatum bepaal nie. “Dit kan reeds in September of Oktober geskied, maar in sommige jare eers in November. ’n Mens moet onthou: Dit reën nie gras nie. Ná ’n goeie reënbui neem dit gewoonlik nog twee tot drie weke voordat die veld begin groen word.”

Produsente moet dus hul diere se lekinname voortdurend monitor, aangesien dit ’n goeie aanduiding van die veld se voedingswaarde is. “Vee wys baie vinnig wat hul voedingsbehoeftes is. Wanneer die inname van ’n proteïenlek begin afneem, is dit gewoonlik ’n teken dat die veld begin herstel het en dat die diere voedingstowwe uit die weiding kry. Indien die inname hoog bly, beteken dit die veld voorsien steeds nie genoeg voedingstowwe nie en die diere moet op dieselfde lek bly.”

Daar bestaan nie ’n enkele lekprogram wat op elke plaas toegepas kan word nie, beklemtoon hy. Net so is daar nie vaste datums waarop produsente noodwendig van die een fase na die volgende moet oorskakel nie. “Hou die gehalte en beskikbaarheid van jou veld dop, let op jou diere se kondisie en monitor hul lekinname. Hierdie faktore sal jou help om te bepaal wanneer dit tyd is om van die een lek na die volgende oor te skakel en sodoende die regte voeding op die regte tyd te voorsien.” – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na dr Josef van Wyngaard by josef.vanwyngaard@tongaat.com

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutesPlaashekpryse/Farm gate pricesDie jongste vleispryse...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 37 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minuteJohan van den Berg is...

Ontwikkel ’n skerp oog vir rasstandaarde en die metodiek van kleinveebeoordeling

Estimated reading time: 7 minutesDie vertoning en beoordeling van...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutesPathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutesRabbit meat is not as...