Estimated reading time: 5 minutes
Plaas Media het die 2026 Agri Wes-Kaap kongres en dinee by Goudini Spa naby Rawsonville bygewoon. Die tema van die kongres was “Standvastig in ’n veranderde wêreld”. Die belangrikheid van verhoudings, samewerking en vennootskappe is deurgaans uitgelig as die sleutel tot ’n suksesvolle landboubedryf in die Wes-Kaap.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê die afgelope jaar was ’n uitdagende jaar in die Wes-Kaap met brande wat meer as 100 000ha verwoes het, droogte, die bek-en-klouseer (BEK)-krisis en die ergste vloede in die geskiedenis. Die emosionele impak op produsente is enorm en waarskynlik erger as die R13 miljard se skade aan infrastruktuur. Die gebeure het weer gewys op die belangrikheid van samewerking in krisistye. Verhoudings, netwerke om die verhoudings in stand te hou en wedersydse respek maak dit makliker om saam te werk, het Strydom gesê.
Standvastigheid word gebou
Villiers Loubser, president van Agri Wes-Kaap, het beklemtoon dat georganiseerde landbou se ware krag nie net in strukture of projekte lê nie. “Dit lê in mense – die produsente, amptenare en vennote wat jaar na jaar opdaag wanneer dit die meeste saak maak.”
Hy het in sy presidentsrede gesê verlede jaar se tema van “Die krag van verbintenis” is van toepassing op dit wat vanjaar in die landbou gebeur het. “Vanjaar was rof en dit het ons geleer wat dit kos om verbintenisse in stand te hou. Droogtes, brande, die ergste vloede in ons geskiedenis, die oorlog in Iran wat insetkoste laat styg het, en die BEK-krisis, het die landbou getoets soos nog nooit te vore nie.”
“Ons kan nie hierdie veranderde wêreld beheer nie, maar ons kan bepaal hoe jy die krisisse aanpak – alleen of gesamentlik as ’n bedryf. Standvastigheid in ’n bedryf kom nie vanself nie. Dit word gebou deur mense, strukture en verhoudings,” het Loubser gesê.
Loof vir die landbou
Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het die kongres geopen. Hy het die Wes-Kaapse landboubedryf geloof vir hul bydrae tot die Wes-Kaapse ekonomie en die instandhouding en herstel van infrastruktuur in landelike gebiede.
“Ek is trots op die Wes-Kaapse Departement van Infrastruktuur, maar ek is net so trots op die produsente en munisipaliteite wat saamgewerk het om die jongste uitdagings in die provinsie te oorkom. Gedurende die vloede in Mei vanjaar het 220 brûe en paaie weggespoel. Meer as 80 % daarvan is reeds herstel.”
Hy het die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf geprys. Die bedryf is nou, sonder subsidies, die grootste uitvoerder van sitrus in die wêreld. Dit getuig van deursettingsvermoë en standvastigheid in tye van verandering, het hy gesê.
Verenigings ouer as 100 jaar vereer
Agri Wes-Kaap het vanjaar erkenning gegee aan sewe landbouverenigings wat meer as 100 jaar oud is. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê hierdie verenigings se toewyding, deursettingsvermoë en verbintenis tot georganiseerde landbou bevestig georganiseerde landbou se standvastigheid in die provinsie.
Die verenigings wat vanjaar vereer is, is die Stellenbosch-landbougenootskap wat in 1932 gestig is, Caledon/Jongensklip, Darling, Malmesbury en Robertson Landbouverenigings wat sedert 1913 by Agri Wes-Kaap geaffilieer is, die Bredasdorp Wolkwekersvereniging wat sedert 1914 by Agri Wes-Kaap geaffilieer is, en die Breërivier Landbouvereniging wat in 1926 gestig is. Saam met vanjaar se sewe verenigings is daar nou al 16 landbouverenigings vereer wat meer as 100 jaar oud is. Hierdie verenigings is van die boustene wat georganiseerde landbou so sterk maak,” het Strydom gesê.
Polisie bedank vir goeie diens
Agri Wes-Kaap het weer vanjaar toekennings gegee aan die beste veediefstallid en -eenheid, sowel as aan die beste veiligheidskoördineerder in die Wes-Kaap. Faktore wat in ag geneem word, is onder meer arrestasies, boetes uitgereik en skuldbevindings. Adjudant-offisier Nick Cremer van die Oudtshoorn Veediefstal-eenheid is vanjaar as die beste veediefstallid aangewys en die Oudtshoorn Veediefstal-eenheid as die beste veediefstal-eenheid. Die eenheid het vanjaar ’n 100%-skuldbevindingsrekord behaal.
Sersant Godwin Johnson van die Stilbaai SAPD-stasie is as die beste veiligheidskoördineerder aangewys. Stilbaai se polisiëringsgebied strek oor sowat 784km2. Sersant Johnson het die afgelope jaar 513 plaasbesoeke onderneem en 4 230 patrollies gelei. Hy het ook 53 arrestasies gemaak en ’n deurslaggewende rol gespeel in die bekamping van BEK en optredes teen onwettige arrestasies.
Howe nie ’n bemarkingsgeleentheid nie
Theo Vorster, voorsitter en medestigter van Galileo Capital, was een van die sprekers en het gewaarsku teen ’n sakemodel wat op vrees gebou is. “Jou bestaansreg moet nie op vrees gebou wees nie, maar op regmaak. Daar is ’n plek vir harde optrede, maar as dit bloot is om die publisiteit te kry, is dit nie geregverdig nie. Ek het ’n probleem met mense wat goed op ’n onverkose basis doen, geen verslag doen aan ’n instansie of ’n instelling nie, en geen verantwoordelikheid vir besluite neem nie. As die landbou die regering dus hof toe vat, moet dit as gevolg van geldige redes wees en nie omdat dit ’n bemarkingsgeleentheid is nie,” het Vorster gesê.
Landbou presteer in moeilike tye
Willem de Chavonnes Vrugt, president van Agri SA, het gesê Suid-Afrika se landboubedryf presteer in ’n moeilike omgewing met verskeie uitdagings en minimale staatshulp. Die bedryf het die afgelope jaar R266 miljard se produkte uitgevoer, ’n oorskot handelsbalans van R124,7 miljard gehad en 950 000 werksgeleenthede geskep. Landbou se totale waardeketting het 15,4% tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra.
Volgens Johann Kotze, uitvoerende hoof van Agri SA, het die Suid-Afrikaanse landboubedryf 30 jaar gelede bykans niks uitgevoer nie. “Vandag voer ons meer uit as wat ons 30 jaar gelede geproduseer het. Ons bevind ons in ’n gedereguleerde wêreld waar produsente toegetree het en funksies verrig wat 30 jaar gelede deur die staat uitgevoer is.”
Die dilemma is dat daar steeds ’n verwagting van sommige produsente is dat die staat iets moet doen en dit veroorsaak konflik. Die staat het steeds ’n funksie in die gedereguleerde omgewing, maar sy rol lyk nou anders as 30 jaar gelede, het Kotze gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media







