Herlewingslandbou bou grondgesondheid en winsgewendheid

Estimated reading time: 5 minutes

As grond nie volhoubaar bestuur en opgebou word nie, gaan gesonde grond – die basis van suksesvolle boerdery – verlore. Daarmee saam word belangrike ekosisteemdienste benadeel. Die meeste grondinsekte is voordelig en ondersteun die natuurlike funksionering van die ekosisteem. Daarom behoort produsente eerder met hierdie natuurlike prosesse saam te werk as om daarteen te probeer boer.

Dit is volgens dr Hendrik Smith, ’n spesialis in bewarings- en herlewingslandbou by Asset Research, wat meen dat hierdie doelwit slegs deur die toepassing van herlewingslandboupraktyke bereik kan word. Indien dit nie toegepas word nie, sal boere toenemend afhanklik raak van duur eksterne insette waarvan die koste vinniger styg as opbrengste en kommoditeitspryse.

Kernbeginsels van herlewingslandbou

Tydens ’n Nedbank-paneelbespreking oor bewaringslandbou by vanjaar se Nampo-oesdag by Bothaville, het dr Smith vyf kernbeginsels van herlewingslandbou uitgelig:

  • Minimale meganiese grondversteuring met behulp van geen- of minimumbewerking.
  • Permanente organiese grondbedekking: Oesreste moet op die grond gelaat word of aanvullende grondbedekkingsgewasse moet gevestig word. Kaal grond moet vermy word.
  • Diversifikasie van gewas- en produksiestelsels ter bevordering van grondgesondheid en biodiversiteit.
  • Lewende wortels moet so lank as moontlik in die grond teenwoordig wees, want wortelafskeidings voed die grondlewe.
  • Die integrasie van vee, soos beeste, skape en hoenders, is belangrik vir ’n funksionele herlewingslandboustelsel.

Volgens dr Smith verbeter hierdie praktyke grondgesondheid, klimaatsveerkragtigheid en produktiwiteit, en bevorder dit uiteindelik winsgewendheid wanneer dit reg toegepas word.

Toepassing en aanvaarding

Die beginsels van herlewingslandbou is volgens dr Smith universeel toepaslik, hoewel elke boerdery unieke eienskappe en uitdagings het. Produsente moet daarom hul eie konteks verstaan en die beginsels daarvolgens aanpas. Daar is goeie voorbeelde van suksesvolle toepassing in bykans al Suid-Afrika se landboustreke. Dit sluit warm sandgrondgebiede, nat kleigrondtoestande, grootskaalse en kleinskaalse boerderye, asook mielie- en koringproduserende streke in.

Volgens dr Smith het ’n opname oor die aanvaarding van herlewingslandbou, met fokus op die eerste drie beginsels van bewaringslandbou, positiewe resultate getoon. Die hoogste aanvaarding is in die Wes-Kaap aangeteken, met 70 tot 80% toepassing in gebiede soos die Swartland en Overberg. Sterk aanvaarding kom ook voor in mielieproduserende gebiede, dele van KwaZulu-Natal, die Mpumalanga-hoëveld, asook dele van Noordwes, Gauteng en Limpopo.

Gemiddeld sowat 25% van Suid-Afrika se eenjarige graangewasgronde, word op grond van bewaringslandbou bestuur. Wanneer al vyf beginsels van herlewingslandbou in berekening gebring word, daal dié syfer tot ongeveer 10%, hoofsaaklik weens uitdagings met vee-integrasie. Volgens dr Smith plaas dit Suid-Afrika tiende wêreldwyd en eerste in Afrika wat die aanvaarding van herlewingslandboupraktyke betref.

‘n Langtermyn benadering

Hy het beklemtoon dat faktore soos finansies, kennis, tradisies en produksiedoelwitte, benewens grond en klimaat, ’n groot rol speel in die suksesvolle toepassing van herlewingslandbou. Die impak van daarvan kan nie slegs aan kunsmis- of dieselverbruik gemeet word nie.

Gewasgronde het gemiddeld ongeveer 50% van hul koolstof verloor, wat beteken dat baie grond reeds ernstig gedegradeer is. In sommige gebiede beloop dié verlies tussen 70 en 75%. Volgens hom kan ’n geïntegreerde herlewingslandboustelsel uiteindelik meer winsgewend wees. Brandstofverbruik kan met tot 50% verminder word, terwyl verbeterde grondgesondheid die behoefte aan kunsmis en agrochemikalieë, asook toerustingkoste, kan verlaag. “Dit is waarom ’n langtermynvisie belangrik is,” het hy gesê.

Ondersteuning is belangrik

Kudzayi Mazikana, hoof van volhoubaarheid by Nedbank Kommersiële Bankwese, het gesê klimaatsrisiko’s is nie vir die bank nuut nie. Nedbank skryf nie aan boere voor hoe om te boer nie, maar help hulle om meer veerkragtig te word en ondersteun hulle op hul pad na herlewingslandbou. Hy het gesê grond het tyd nodig om te herstel voordat die langtermyn voordele van herlewingslandbou sigbaar word, wat druk op kontantvloei plaas.

Nedbank werk saam met boere om hierdie oorgang beter te verstaan en te oorbrug. Die bank se ondersteuning geskied op twee maniere: beskikbare finansiële produkte vir die oorgang, en die voortdurende ondersoek na nuwe finansieringsmodelle en vennootskappe.

Gesonde mikrobiologie

Prof Karin Jacobs, ’n navorser in die Departement Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê dit is moeilik om presies te bepaal hoe lank dit neem om beskadigde grond deur herlewingslandbou te herstel. Mikroörganismes reageer vinnig op veranderinge en hul gemeenskappe kan binne dae verander, maar dit wat geplant word, bepaal in ’n groot mate die samestelling van die grond.

As daar gesonde mikrobiologie in die grond is, is die helfte van die stryd gewonne. Grondgesondheid herstel nie deur een enkele ingryping nie, maar vereis sistemiese veranderinge in boerderypraktyke en grondbestuur. Sy het voorgestel dat meer plantegroei en dekgewasse gevestig word, oesreste behou word en lewende wortels so lank moontlik in die grond gelaat word om ’n omgewing te skep waarin grondorganismes kan floreer.

Presisieboerdery en herlewingslandbou

Stephan Nel, besturende direkteur van Case IH Suider-Afrika, het gesê herlewingslandbou is vir die maatskappy belangrik, maar dat dit veel meer om die lyf het. Dit gaan eerder oor ‘oorlewingslandbou’ en die langtermyn lewensvatbaarheid van produsente. Sonder aanpassings kan boere nie volhoubaar bly nie.

Dit behels onder meer om insetkoste te beperk, die natuurlike omgewing te beskerm en tegnologie te gebruik om die regte insette op die regte plek, tyd en in die regte hoeveelhede toe te dien. Data speel ’n kernrol in besluitneming. Hy het beklemtoon dat grond nie orals op dieselfde wyse bestuur hoef te word nie en dat bestuur op data behoort te berus.

Geen- of minimumbewerking is nie noodwendig altyd die enigste oplossing nie. Dit hang af van die data en spesifieke toestand van die grond. Gronddata word gebruik om voorskrifkaarte op te stel, wat selfs verskillende kultivars of wisselende spuit- en bemestingsprogramme binne dieselfde land moontlik maak. Dit help om insetkoste te verminder en grondgesondheid te verbeter.

Hy het gesê stropers se opbrengsdata is noodsaaklik vir beplanning en toekomstige besluite. Die sleutel tot suksesvolle herlewingslandbou lê in die slim gebruik van data en presisietegnologie om grond oor tyd te herstel. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Related

SA Canegrowers welcomes DBRP adjustment, but says more is needed to close import...

Estimated reading time: 3 minutesSA Canegrowers welcomes the decision by the government to adjust the dollar-based reference price (DBRP) for sugar imports. The upward adjustment is critical...

Omgewingsnakomingspraktyke en wetgewing: Wat produsente moet weet

Estimated reading time: 7 minutesOmgewingsnakoming raak toenemend ’n praktiese werklikheid vir produsente, veral waar landbou, mynbou en hernubare energie-ontwikkelings mekaar op dieselfde grondgebied ontmoet....

RPO-konferensie 2026: Strategieë vir die suksesvolle toekoms van die bedryf

Estimated reading time: 9 minutesDie Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jaarlikse konferensie, wat op 13 Augustus 2026 by The Capital Hotel in Menlyn Maine, Pretoria,...