Stagneer of innoveer? ORV se Prieska-boeredag daag produsente uit

Estimated reading time: 5 minutes

‘Stagneer of innoveer!’ Dit was die tema van ’n reënerige boeredag wat onlangs deur Oranjeriviervoere (ORV) op Prieska aangebied is. Johan Botha, eienaar van die maatskappy, sê hulle poog om elke tweede jaar so ’n boeredag aan te bied. Vanjaar het meer as 350 produsente en belangstellendes die geleentheid bygewoon.

Verskeie sprekers het oor die dag se tema ‘Stagneer of innoveer’ gesels. Hulle was, agter van links, Grant Naudé, Chris Burgess, Dawie Maree, Pieter Möller, Pieter du Toit en Hennie de Swardt. Voor is PG Strauss, Kallie Schoeman, Johan Botha en Dries Pienaar.

Dit was al erger

Verskeie onderwerpe is tydens die boeredag aangeraak. Kallie Schoeman, voorsitter van Schoeman Group Holdings en ’n bekende produsent wat in Delmas grootgeword het, het gesels oor die huidige situasie waarin Suid-Afrikaanse boerdery hom bevind. Sy gevolgtrekking is dat landbouers in Suid-Afrika al deur erger krisisse is, verskeie oorloë deurgemaak het en epidemies beleef het. Vandag praat produsente van die oorlog in die Midde-Ooste, korrupsie en swak dienslewering. Schoeman meen daar is geen rede om vir die toekoms bang te wees nie.

“Landbouers besit nie grond nie; ons is slegs rentmeesters wat grond wat ons in ’n beter toestand aan ons nageslag moet oorgee. Hulle moet weer leer om dit vir verdere geslagte te bewaar en te bewerk,” was sy boodskap.

Hy het ook gepraat oor die talle redes wat aangevoer word vir mislukkings, veral in familieboerderye., Die grootste gebrek, het hy gesê, is eintlik maar kommunikasie. Sy raad was dat elke boerdery ’n langtermynvisie moet neerskryf, sodat almal wat by die boerdery betrokke is, op dieselfde bladsy kan wees.

Boer is nie ’n skelwoord nie

Pieter du Toit, ’n gerekende ondersoekende joernalis en skrywer van verskeie boeke, het vir produsente goeie nuus gegee oor die huidige stand van die politiek in Suid-Afrika. Hy stem saam met Schoeman dat landbouers nie rede het om vir die toekoms bang te wees nie. Volgens hom is die begrip ‘boer’ lank nie meer ’n skelwoord nie, maar eerder ’n ideaal waarna talle jong en opkomende produsente streef.

Hy het genoem dat daar orals veranderinge in Suid-Afrikaners se houding en optrede is. Gewone burgers begin self hul omgewings herstel en dienste lewer wat plaaslike regerings nie kan doen nie. Dieselfde geld vir landbouers, wat ’n groot rol speel om gemeenskappe bymekaar te hou.

“Dit is die landbougemeenskap wat klein dorpies nog op hul voete hou en die ruggraat van die land se ekonomie is. Suid-Afrika spog met van die beste produsente in die wêreld, en met sulke mense in ons midde, is daar ’n goeie toekoms vir die land.”

Produsente en innovasie

Benewens landsake wat bespreek is, is ook gekyk na landbou en waarom landbouers innoverend moet wees om te oorleef. PG Strauss, ’n produsent, landbou-ekonoom en groep-uitvoerende bestuurder van VKB, het beklemtoon dat Suid-Afrikaanse landbou nie sonder kleiner produsente kan bestaan nie. As daar net ’n paar megaboere was, sou die landbousektor nie kon voortgaan nie. VKB beywer hom dus daarvoor om kleiner produsente volhoubaar te hou.

Hy het verduidelik dat hulle die waardeketting opdeel in grond-tot-plaashek en hek-tot-handelaar, waar gepoog word om handelsmerke te vestig. Daar is ook gekyk na gemeenskapsbetrokkenheid. Strauss het beklemtoon dat alle sektore in die landbou handelsmerke moet vestig waarmee verbruikers hulle kan vereenselwig.

In ’n klein opname onder die persone wat die boeredag bygewoon het, het dit geblyk dat die innoverende praktyke wat ’n positiewe impak op boerderye het, die volgende is: sonkrag vir pompe en heinings, toepassings vir rekordhouding, satelliet- en hommeltuigbeelding, en outomatiese weegplatforms.

Nie alle produsente is suksesvol nie

Dawie Maree, hoof van landboubemarking en -inligting by FNB, het verduidelik waarom sekere produsente suksesvol is en ander nie. Vir hom gaan dit oor innovasie en individue se bereidwilligheid om verandering aan te durf en daarby aan te pas.

Hy het gesê produsente kan nie meer soos hul voorgeslagte boer nie; dié wat bereid is om te verander, is dié wat vooruitboer. Hy het ook die belangrikheid van handelsmerke beklemtoon en gesê die feit dat Suid-Afrikaanse landbou sowat 50% van die produkte wat dit produseer, uitvoer, is reeds ’n goeie teken van die gehalte wat hedendaagse landbouers lewer.

Sy raad aan produsente was om ingeligte persone te gebruik om boerderye volhoubaar te hou. In ’n opname by die boeredag is getoon dat ‘n paar faktore produsente daarvan weerhou om tegnologie te gebruik. Dit sluit in die koste daarvan, onsekerheid, swak selfoonsein en ’n gebrek aan opleiding.

Kleinveeprodusente moet leer aanpas

Grant Naudé, president van Merino SA, het met Maree saamgestem en gesê dit is veral die kleinveebedryf wat sukkel om by verandering aan te pas. Volgens hom boer die meeste kleinveeprodusente nog dieselfde as 50 en selfs 100 jaar gelede. Hoewel talle produsente sê hulle is oop vir innovasie, stel hulle nie regtig daarin belang om tegnologie te gebruik nie.

“Almal kla oor die ekonomie en boerdery, maar om dit alleen te probeer oplos, gaan nie werk nie. As almal saamstaan, is die kanse op sukses baie beter,” het hy gesê. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Related

Biosecurity under pressure: What it means for South African agriculture

Estimated reading time: 4 minutes Biosecurity has become one of the most pressing challenges facing South African agriculture in 2026. This is underscored by the...

Karoo Winter Wool Festival returns in 2026 – better than ever!

Estimated reading time: 5 minutes This July, all roads once again lead to the heart of the Karoo and the historic town of Middelburg in...

Oorvloedige reën bring hoop én uitdagings vir Noord-Kaapse produsente

Estimated reading time: 2 minutes Almal in die Noord-Kaap het verwag dat boere die winter met ’n swaar hart sou ingaan. Die reën het egter...