Storms en droogte: ‘n Terugslag vir Langkloof-produsente

Estimated reading time: 4 minutes

Werkskepping en die besighede in die Langkloof staar ‘n moeilike jaar in die gesig vanweë die min produsente wat vanjaar ‘n mooi oes gaan pluk.

Die ekonomie van die Langkloof, wat al ‘n geruime tyd lank onder kwaai druk staan weens droogte en beperkte water, het ‘n verdere vuishou weg na verlede Donderdag se vernietigende storm wat van die Bo-Langkloof tot by Onder-Langkloof gewoed het.

Produsente wie se vrugteboorde skade gely het, kom nog tot verhaal terwyl die omvang van die verwoesting beraam word.

Die onlangse storm het baie van die vrugte afgewaai.

Tot 100% skade sonder haelnette

Die ongewone sterk wind en hael het plek-plek welkome reën meegebring, maar was nie naastenby genoeg nie, veral in dele soos Misgund en Louterwater waar die damme al sedert Januarie leeg loop.

By Noll in die Bo-Langkloof naby Uniondale, het produsente aansienlike windskade gely. Volgens WS Meyer, ‘n steen- en kernvrugprodusent in die omgewing, word sy vrugteoes redelik negatief beïnvloed. Ongeveer 80km suid/suidoos van Noll, in Krakeelrivier, Joubertina en Louterwater, is daar ook baie wind- en haelskade, veral waar die vrugtebome nie deur vaste strukture of nette beskerm is nie.

Riaan Strydom van Bokmakierie Boerdery by Krakeel (Strydom was die 2018 Oos-Kaap Jongboer van die Jaar) het aan Plaas Media gesê dat daar ná Donderdag se storm nie veel meer skade op hul plaas aangerig kan word nie. “Die wind in die omgewing het tussen 60 tot 115km/uur gewaai en selfs die vrugte onder die druipnette van die bome afgewaai. Die bome sonder nette is tot niet – die blare en vrugte is tot op die grond afgeslaan.”

Een van Bokmakierie Boerdery se grootste peerkultivars is Forelle. In ‘n blok waaruit ongeveer 250 tot 280 kratte pere gepluk sou word, is 106 kratte van die grond af onder die druipnette gevul. Die vrugte wat nog aan die bome hang, het slegs ongeveer 5% skade gehad waar dit teen die nette gedruk het, en die res daarvan is onbeskadig.

Strydom verwys ook na ’n gesegde onder die mense van die Langkloof dat hulle jaarliks van hael verseker is – dit hang net af wie se beurt dit is. “As ek rofweg moet skat, dan het die Langkloof in die afgelope tien jaar slegs twee of drie jaar nie hael gehad nie. Die res van die tyd kry ons maar elke jaar hael en as dit nie Avontuur, Haarlem of Bo-Langkloof is nie, is dit Krakeel, Twee-Riviere, Misgund of iewers anders in die Langkloof. Hier by ons het ons die afgelope vier jaar redelik droog gebly, maar vanjaar het ons weer kwaai hael gekry het – en ons vat dit maar soos dit kom.”

Vanjaar sal die somme klop vir diegene in die Langkloof wat versekering het op boorde sonder haelnette.

Tru-Cape beraam skade

Tru-Cape is Suid-Afrika se grootste uitvoerder van appels en pere en werk nou saam met produsente in die Suid- en Wes-Kaap. Calla du Toit, hul direkteur van verkryging, het met Plaas Media gedeel dat Tru-Cape tans saam met die produsente wat deur die hael- en stormskade geraak is, ‘n beraming van die skade uitvoer.

“Ons ondersoek ook maniere om steeds maksimum waarde uit die vrugte te haal,” het hy gesê. “Ons is wel dankbaar vir die goeie reën wat op verskeie plekke geval het en verligting vir die droë toestande wat ‘n groot gedeelte van die sagtevrugtebedryf raak, gebring het. Sommige produsente in die Elgin-, Grabouw-, Villiersdorp- en Vyeboom-gebied het meer as ‘n 100mm reën aangeteken, wat moontlik tot voordeel van vrugkleur sal wees – veral vir die Royal Gala-appelvariëteite.”

Alhoewel die vrugte-oesvooruitskatting vir die Langkloof steeds positief is, sal vanjaar se vrugte heelwat kleiner wees as normaalweg. Ongelukkig is die huidige rand/dollar-verhouding tans ook nie in sagtevrugte produsente wat hul produk uitvoer, se guns nie. –Carin Venter, Plaas Media

In die Langkloof kan ‘n produsent minstens elke vyf jaar hael verwag. Daarom moet daar voorsiening gemaak word vir haelnette.

Sosiale media en die reg: Wees baie versigtig

Estimated reading time: 4 minutesOmdat die akkuraatheid of waarheid van inligting selde gekontroleer of...

100 jaar van wolproduksie (Deel 5): Die boublokke van ’n welvarende land

Estimated reading time: 7 minutesDie Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) betree binnekort die volgende 100 jaar...

Lantana camara: Waak teen dié struik

Estimated reading time: 3 minutesLantana-vergiftiging is een van die algemeenste vorme van plantvergiftiging by...

RPO Vrystaat-kongres: Winsgewendheid, BEK en leierskap

Estimated reading time: 3 minutes’n Besigheid moet winsgewend wees om volhoubaar te funksioneer.Die Rooivleisprodusente-organisasie...