Estimated reading time: 4 minutes
Agri-Expo verwelkom vandeesweek die voorste rolspelers in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf by die 2026 SA Suiwelkampioenskappe by Eensgezind buite Durbanville. Vanjaar se 193ste aanbieding spog met ’n volle stel nuwe rekords – die meeste inskrywings, produsente, beoordelaars en vennote nóg in die geskiedenis van die kompetisie.
Afrika se grootste suiwelbeoordeling
Wat verg dit om Afrika se grootste suiwelbeoordeling aan te bied? Altesaam 1 227 produkte, 81 produsente, 130 beoordelaars en 20 vennote – elkeen ’n nuwe rekord – en ’n bedryf wat, ten spyte van uitdagings, aanhou presteer.
“Dit is deur die bank die hoogste getalle wat ons nog gesien het,” sê Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, wat die kampioenskappe reeds sedert 1834 aanbied. “Die bedryf het uitdagings, maar die volgehoue fokus op gehalte op hierdie vlak wys die vertroue wat produsente steeds in Agri-Expo en hierdie platform het.”
Die beoordeling het Woensdag 25 Maart met melk en roomys afgeskop, gevolg deur ’n tweede dag van kaas- en botterbeoordeling op Donderdag 26 Maart. In ’n belangrike mylpaal is 700 kase beoordeel – die meeste nog in dié kategorie. Die beoordeling word Vrydag 27 Maart afgesluit, met jogurt en gefermenteerde produkte in die kollig.
Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, dr Ivan Meyer, het die beoordeling bygewoon om beoordelaars persoonlik te bedank en die kampioenskappe se standvastige rol in die ontwikkeling van bedryfskennis te beklemtoon, veral op die gebied van sensoriese evaluering. Hy het ook verwys na internasionale samewerking en planne om suiweluitnemendheid in die provinsie verder te versterk.
Ernstige bedryfsuitdagings
Volgens die hoofbeoordelaar, Graham Sutherland, kom vanjaar se rekords te midde van ernstige uitdagings in die bedryf. “Met die huidige bek-en-klouseer-uitbreking as agtergrond, verdien suiwelboere erkenning vir hul veerkragtigheid en vasberadenheid om melkproduksie vol te hou,” sê hy. “Ook vervaardigers wat aan bykomende vereistes moet voldoen, lewer steeds ’n uitsonderlike reeks produkte. Die gehalte van inskrywings bly deurgaans op ’n baie hoë vlak.”
Vanjaar se beoordeling sluit ook nuwe elemente in, insluitend ‘n toetslopie van beskrywingsgebaseerde terugvoer in sekere klasse en verfynde beoordelingsmetodes wat met internasionaal erkende navorsing belyn is, om beoordelaars te ondersteun en meer gedetailleerde terugvoer aan produsente te bied.
Die president van Agri-Expo, Chris Fourie, sê deelname aan die beoordeling strek veel verder as die kompetisie self: “Dit gaan daaroor om terug te ploeg in die bedryf, standaarde te verhoog, innovasie aan te moedig en die sektor as geheel vorentoe te neem.”
Milford het sy dank uitgespreek teenoor die bedryfsvennote wat die kampioenskappe moontlik maak. “Ons waardeer die ondersteuning van ons platinumvennote IMCD en DSM-Firmenich; diamantvennote Novonesis, SIG en Synercore; goue vennote Woolworths, Condio, Hollard, Checkers, IFF, Orchem en die Wes-Kaapse Departement van Landbou; silwervennote Mane, SPAR en Fruitique; en bronsvennote Agrana Fruit, Polyoak Packaging, Tetra Pak en Ecowize.”
Die wenners word op 23 April tydens die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings by Nederburg Wynlandgoed in Paarl aangekondig. Die kampioenskappe sluit sowat 150 klasse vir kaas, melk, room, jogurt, botter, roomys en gefermenteerde produkte in. Nuwe klasse vanjaar sluit onder meer “smoothies” en kondensmelk in. Klaswenners word as SA Kampioene aangewys, terwyl produkte van uitstaande gehalte met die gesogte Qualité-merk bekroon word – die hoogste erkenning in die suiwelbedryf. Die beste produk algeheel word as Produk van die Jaar aangewys.
Vir meer inligting, besoek www.sadairychamps.co.za of kontak Agri-Expo by dairy@agriexpo.co.za.
