Estimated reading time: 4 minutes
Die Overberg-jongooiklub se klublede het verlede Donderdagaand, 5 Maart, vir hul prysuitdeling en die bekendmaking van hul tweede groep kudde-ooie se uitslae, byeengekom.
Die geleentheid is by die Rûens Kollege in die Klipdale-omgewing naby Caledon gehou en het ’n praatjie oor presisieboerdery ingesluit wat deur AJ Fourie, landbou-adviseur en eienaar van Anker Agri, aangebied is. Hy het oor reproduksie en goeie bestuurspraktyke gepraat en uitgewei oor tegnologie soos elektronika en identifikasie, wat bydra tot doeltreffendheid.

Gedeelde kennis is mag
Overberg-jongooiklub se waardes is op die Merino-standaarde en BKB se besluitnemingsadviesdienste-stelsel (DSS) geskoei. Die doel van die jongooikudde is om kennis te deel en sodoende die skaapbedryf in die Overberg te verbeter.
In 2023 het 17 produsente by die klub aangesluit. Elkeen het tien van hul eie Merino-ooie aangebied om te bepaal watter tekortkominge aangespreek moet word om boerdery in dié deel van die Suid-Kaap meer doeltreffend te maak. Dit sluit ook ander belangrike aspekte in, soos akkurate data-insameling – iets waarmee Hannelet Jordaan, BKB se DSS-bestuurder, die klublede van die begin af bygestaan het.
’n Letter word aan elke deelnemer toegeken sodat hul name nie met hul skape verbind word nie. Die ooie word almal oor dieselfde kam geskeer en geen voortrekkery met ekstra behandeling of voeding word geduld nie.
Betroubare data met wolgroei-metings
Die proses om die ooie se wolgroei te bepaal, is volgens Christoff Lourens, voorsitter van die Overberg-jongooiklub, ’n groot leerskool vir almal. Die klub bestaan steeds uit 17 lede, en hulle werk soos volg om inligting oor hul ooie se wolgroei te verkry:
“Ons selekteer die nuwe ooitjies op ses maande ouderdom en skeer almal dan voor die voet. Na ses maande word hulle weer geskeer, en daardie wol word, met behulp van Robert Scott, ’n ervare kenner in die wolbedryf, deur al die nodige woltoetse gesit. Daarna laparoskopieer ons al die ooie met presies dieselfde ram se semen, en elke ooi se gewig word ook gemeet. Na nege maande word hulle weer geskeer. Die rede waarom ons dit so doen, is om elke ooi se wolgroei op ’n ses- en nege-maande wolskeersel te bepaal.”
Christoff verduidelik dat, wanneer die ooie lam, ’n reproduksietoets gedoen word om hul moederskapseienskappe en die lammers se vordering te bepaal. “Sodra die lammers gespeen is, word hulle vir ’n rukkie in die voerkraal gehou om te sien hoe hulle vaar.”
Reproduksie laat klop die som
André Seegmuller van BKB het tydens die geleentheid terugvoer gegee oor die tweede groep kudde-ooie se vordering. Die groepie ooie het meer meerlinge as die eerste groep ooie gehad. Die minimum gemiddelde gewig van groep een was 14kg teenoor groep twee se gemiddeld van 18,5kg.
Die resultate tot dusver maak ’n wesenlike verskil aan elke lid se boerdery. Christoff benadruk dat dit glad nie ’n kompetisie tussen lede is nie, maar eerder ’n waardevolle geleentheid vir elkeen om hul skaapboerdery te verbeter.
Een van die belangrikste boodskappe by die onlangse prysuitdeling was dat reproduksie koning is wanneer dit kom by ’n winsgewende skaapboerdery.
Groep twee prysuitdeling:
Die eerste plekke vir groep twee is tydens hul afsluitingsprysuitdeling soos volg aangekondig:
Die eerste plek vir die volgende drie afdelings is toegeken aan Wikus Bester van Bloemhof-Bester Trust, Napier:
- Beste enkel-ooi met die hoogste wolwaarde.
- Ooi met beste reproduksie en vleisproduksie.
- Enkel-ooi met die hoogste ekonomiese waarde.

Die eerste plek vir die volgende drie afdelings is toegeken aan Gert Terblanche van Vergund-plase, Riviersonderend:
- Beste geklasseerde groep.
- Groep met beste vleisreproduksie.
- Groep met hoogste ekonomiese waarde wol en vleis. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Christoff Lourens by 072 264 2991 of schietpadmerinos@gmail.com.