Estimated reading time: 5 minutes
Wat hou 2026 vir die Suid-Afrikaanse landbousektor in? Wanneer ekonomiese vooruitskouings gemaak word op grond van die landbousuksesse van 2025, lyk die jaar rooskleurig vir sommige kenners, maar daar is ook ’n paar rooiligte.
Dít was die gevolgtrekking tydens ’n onlangse landbou-webinaar wat deur Nedbank aangebied is en waartydens verskeie sprekers hul mening gelug het. Die sprekers was Daneel Rossouw, hoof van verkope: Landbou, Nedbank Kommersiële Banksake, dr Tracy Davids, direkteur by die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), Johan van den Berg, ’n onafhanklike meteoroloog, en Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz.
‘n Rooskleurige lens
Rossouw en dr Davids het beide gesels oor die landbou-ekonomiese prestasie in 2025. Aldus Rossouw was daar ’n paar faktore wat ’n sterk invloed op die landbousektor gehad het. Die VSA se tariefverhogings het stremming geplaas op uitvoere, terwyl die veranderende klimaat sy rol voortgesit het. Hierdie faktore sal vanjaar weer ’n invloed op die landbou hê.
Hy het ook gewys op die lesse wat die landbougemeenskap uit 2025 kan leer, onder meer hoe belangrik dit is om saam te werk om oplossings te vind vir die huidige bek-en-klouseer (BEK)-probleem, en om nuwe planne te maak en klimaatslim te boer.
Rossouw was positief oor die jaar wat voorlê. Hy het gesê landbouers het sedert 2022 hul beursies redelik dig toegehou om die gevolge van droogte en Covid 19 te hanteer. Die afgelope paar jaar is sterk kuddes weer opgebou en 2026 kan dus vir talle ‘n vooruitstrewende jaar wees.
‘n Jaar van uitdagings en ligpunte
Dr Davids het na 2025 verwys as ’n gebeurtenisvolle jaar. Die reën was wel laat, maar oeste het goed gelyk, op die internasionale markte het boere goeie pryse vir uitvoervrugte en -vleis gekry, daar was goeie verbetering by hawens om uitvoere te vergemaklik, en in baie gevalle het insetkoste gedaal.
Daar was egter ook negatiewe faktore, waaronder die BEK-uitbrekings, tariewe wat die VSA teen Suid-Afrikaanse produkte ingestel het, laer graanpryse en aspekte soos infrastruktuurverval (paaie, spoorweë, hawens en so meer). Tog het die landbou beter presteer as die meeste ander ekonomiese sektore. Dit was veral sitrusvrugte, druiwe, sagtevrugte en neute wat uitstekend gevaar het op die uitvoermark. Die feit dat die wisselkoers versterk het, was beslis ’n negatiewe faktor vir uitvoerders.
Vleisuitvoere het meestal verbeter teenoor die vorige jaar en dui op beskikbare markte vir verdere uitbreiding. Veesiektes bly egter ’n wesenlike probleem is. BEK is tans op almal se lippe, het sy gesê, maar daar is ook ander veesiektes wat aandag moet geniet voordat dit hand uitruk soos BEK.
Was gewasse betref was dr Davids veral positief, aangesien die vraag na Suid-Afrikaanse produkte in Suider-Afrika groei. Suid-Afrika se buurlande speel ’n groot rol in ons uitvoer van landbouprodukte en daar moet nie net teen die VSA vasgekyk word nie.
- Faktore wat volgens haar in 2026 ernstige aandag moet geniet, is:
- Veegesondheid, waarvan die beheer van BEK die belangrikste is.
- Kritieke infrastruktuurprobleme soos die opgradering van hawens, paaie en watervoorsiening.
- Verbeterde uitvoere waarvoor geopolitieke beleid gevestig moet word om markte uit te brei en bestaande markte te behou.
- Beter planne om uiterste weerverskynsels soos droogte en oorstromings te hanteer.
‘n Groot droogte op pad
Die kruks van Johan van den Berg se voordrag was ’n ernstige waarskuwing aan landbouprodusente dat die land op die vooraand van ’n ernstige droogte staan. Hy het gesê klimaatpatrone werk in siklusse en dat Suid-Afrika die afgelope vyf jaar uitstekende reënval ontvang het. Alle tekens dui daarop dat ons egter vir die res van die jaar ’n warm en droë jaar kan verwag; dit kan vir die volgende vyf seisoene duur. Die land kan dalk in Februarie nog normale reën kry, maar daarna kan word droogtetoestande verwag.
Hy het boere aangeraai om hulle gereed te maak hiervoor en alle voorsorgmaatreëls te tref om te verseker dat hulle die volgende droogte sal oorleef. Sy voorstel is om kuddes te verminder terwyl pryse nog goed is. Hy het produsente ook aangespoor om gewasverbouingstegnieke te gebruik wat water verg.
Tussen die hand en die mond …
Sihlobo was ook positief oor die landboujaar wat voorlê, maar meen ’n paar faktore moet dringende aandag kry aangesien baie geleenthede verlore gaan omdat die nodige huiswerk nie plaaslik gedoen word nie. In die eerste plek, het hy gesê, moet daar in die makro-ekonomie gekyk word na faktore wat uitvoere kan vergemaklik. Daar is ook die probleme van geopolitieke konflik en internasionale handelsbeleid wat verbeter word.
Ander faktore wat ook ’n rol speel in die makro-ekonomie en wat moet verbeter, is energievolhoubaarheid, watervoorsiening, wêreldklas logistieke stelsels wat uitvoere kan ondersteun, en maniere om meer vaardigheid en beleggings na Suid-Afrika te trek.
Die Suid-Afrikaanse regering moet hom ook beywer om ekonomiese diplomasie te ontwikkel sodat internasionale handelsbetrekkings gebou kan word. Volgens Sihlobo is daar baie ruimte om hierdie belangrike taak te verbeter en die plaaslike ekonomie sodoende uit te bou.
Hy het ook verwys na die belangrike rol wat landelike gebiede in die ekonomie speel en gesê daar is talle kleinboere wat nie die nodige blootstelling tot markte kry nie. In hierdie opsig behoort munisipaliteite ook betrek te word.
Beter dieresiektebeheer deur middel van ‘n goeie program is broodnodig en moet kleinboere betrek. Dit feit is egter dat so ’n projek kan misluk indien kommunale en kleinboere se diere nie ook ingeënt word nie. Die landbousektor in Suid-Afrika verseker voedselsekuriteit en verskaf sowat een miljoen werksgeleenthede. Verder genereer dit ‘n uitvoerinkomste van sowat US$13,7 miljard per jaar. Dit hang egter af van suksesvolle biosekuriteit.
Die kenners tydens die Nedbank-webinaar was dit eens dat daar goeie hoop is vir die Suid-Afrikaanse landbou. Alles is egter nie maanskyn en rose nie en baie werk moet agter die skerms gedoen word sodat ons bedryf sy ware potensiaal kan bereik. – Koos du Pisanie, Plaas Media