HomeAgri NewsSamewerking noodsaaklik terwyl BEK-veldmonster na Brittanje reis

Samewerking noodsaaklik terwyl BEK-veldmonster na Brittanje reis

Estimated reading time: 3 minutes

“Ons is vol hoop en vertroue dat bek-en-klouseer (BEK)-inentingsvlakke in die land teen einde Mei op so ‘n vlak sal wees, dat die bedryf sal kan terugkeer na ‘n nuwe normaal.” Dit is die hoop wat uitgespreek is in gesamentlike persverklaring deur die Suid-Afrikaanse Stoettelersfederasie, die Suid-Afrikaanse Skouvereniging en die Nasionale Interrasbeoordelaarsvereniging.

Oproep tot samewerking

Die drie partye het ‘n beroep op alle rolpelers in die Suid-Afrikaanse lewendehawebedryf gedoen om in die huidige BEK situasie, wat hulle beskryf as “die ergste biosekuriteitsuitdaging vir veeboere in Suid-Afrika sedert die Runderpes van 1892”, om saam te werk en die strydbyle te begrawe. Hulle het klem gelê op die nodigheid om te fokus op beskikbare oplossings eerder as wonderplanne wat kitsoplossings bied. So iets, sê hulle, bestaan nie. ‘n Oplossing moet pragmaties en in die gees van eenheid gesoek word.

Die partye het hul dank teenoor die minister van landbou, John Steenhuisen, uitgespreek, veral ten opsigte van die leiding wat hy neem. Bekwame leierskap en goeie samewerking tussen die bedryf, privaatveeartse en staatsdepartemente is nou van kardinale belang. Hulle het gesê dit is uiters belangrik om die geskikte DIVA-entstowwe (‘n entstof wat toelaat dat ‘n immunologiese onderskeid tussen besmette en ingeënte diere getref kan word) so gou as moontlik die land in te kry en dit toegedien kry.

BEK monster na Pirbright

Die verklaring volg kort op die hakke van nuus dat die Landbounavorsingsraad (LNR) uiteindelik ‘n BEK-monster na die Pirbright-instituut in die Verenigde Koningkryk gestuur het. Steenhuisen het op sosiale media gesê dit is die eerste keer in 14 jaar dat Suid-Afrika weer ‘n BEK-veldstam na die instituut stuur vir bevestiging van die betrokke stam. “Die LNR het die monster amptelik weggestuur, wat dit ons eerste wetenskaplike interaksie sedert 2011met die instansie maak.”

Die instituut, wat die grootste verwysingslaboratorium vir BEK ter wêreld is, kan nou onafhanklik en betroubaar bepaal of die entstowwe wat ingevoer gaan word, wel doeltreffend sal wees.

Stoetbedryf bedank rolspelers

Die Stoettelersfederasie, Skouvereniging en beoordelaarsvereniging het ook hul dankbaarheid uitgespreek jeens die feit dat die stoetveebedryf, een van die steunpilare van die Suid-Afrikaanse veebedryf, in hierdie tyd die erkenning en aandag van die minister kry wat dit verdien. Erkenning is ook nodig, sê hulle, vir die dieregesondheidspraktisyns en veeartse wat in die loopgrawe veg om die krisis te hanteer; daarom is die partye verbind tot die uitvoer van die voorgestelde protokolle en maatreëls.

Hulle ondersteun volkome die BEK protokol wat gebaseer is op die beginsel dat slegs diere wat korrek ingeënt is, en waarvan die entings korrek aangeteken en die diere korrek geïdentifiseer is, aan skoue en stoetveeveilings sal kan deelneem. Dit is die enigste manier hoe “normale deelname aan skoue en stoetveeveilings weer genormaliseer kan word”. Om dus voortaan aan stoetveeskoue, vee-ekspo’s en ander openbare geleenthede deel te neem, sal slegs diere wat volledig naspeurbaar is en waarvan die BEK-inentings op datum is, toegelaat word. Hierdie is die enigste manier, sê hulle, waarop die bedryf na ‘n nuwe normaal sal kan terugkeer. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak die Stoettelersfederasie se Kobus Bester by kobus@hanrik.co.za; die Suid-Afrikaanse Skouvereniging se Elmarie Prinsloo by ceo@bloemshow.co.za; en die Nasionale Interrasbeoordelaarsvereniging se Willie de Jager by willie@panzi.co.za

Must Read

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...