Vleismarkte: Wat kan ons in 2026 verwag?

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

Verlede jaar was vir seker ’n onvoorspelbare jaar vir rooivleisprodusente met die verspreiding van bek-en-klouseer (BEK) wat groot ontwrigting in die waardeketting veroorsaak het en tot prysskommelings gelei het.

Beesvleis

A2-beeskarkaspryse het tussen Maart (sowat R56/kg) en Junie (sowat R77,78/kg) skerp gestyg. In die maande daarna het pryse weer effens gedaal, maar steeds bo R70/kg bly verhandel. Die gemiddelde karkaspryse vir 2025 tot en met die skryf van hierdie artikel, was sowat 22% hoër as in 2024. Speenkalfpryse, in teenstelling met die gewone tendens (Figuur 1), het in Maart gestyg en sterk deur die winter bly verhandel.

Hoewel die beskikbare 2025-pryse hoër was as dié van 2023 en 2024, was dit steeds laer as 2021 s’n en ’n styging van sowat 11% in die gemiddelde 2025-speenkalfpryse was aangeteken.

Wat die gewone tendense van speenkalf- en klas A2-karkaspryse betref, behoort pryse in Januarie en Februarie 2026 ietwat laer te wees as gevolg van laer vraag. Aan die begin van ’n jaar is die vraag na vleis laer, aangesien minder geld op kos spandeer word en daar eerder na kinders se skoolbenodighede en -fondse omgesien word.

Die pryse styg gewoonlik egter weer in Maart en April gedurende die Paastyd. Speenkalfpryse, hierteenoor, bly in Januarie en Februarie hoofsaaklik hoër, maar daal vanaf Maart soos wat meer diere gespeen en bemark word.

Figuur 1: Speenkalf- en klas A2-beeskarkasindeks en -pryse.

Skaapvleis

In die skaapmark het die gemiddelde A2-karkaspryse en speenlamprys in 2025 onderskeidelik met sowat 20 en 18% gestyg teenoor dié van 2024. Speenlampryse is hoofsaaklik laag aan die begin van die jaar en verbeter stelselmatig tot en met Julie, waarna dit weer stadig begin daal.

In die eerste paar maande van 2025 het die speenlamprys die ‘gewone’ tendens gevolg, maar na Julie nie die gewone daling getoon nie. Die prys het eerder sywaarts en effens opwaarts beweeg. A2-skaapvleispryse is dikwels aan die begin van ’n jaar laer as die gemiddelde pryse wat vir die jaar gemeet word, en veel laer as die pryse wat in Desember gehandhaaf word. Dit daal tot en met April en styg weer van Mei tot Julie. Hoewel dit hierna weer daal, bly dit steeds hoër as die pryse aan die begin van ’n jaar, met groot stygings wat in November en Desember plaasvind.

Skaapvleispryse bereik gewoonlik ‘n hoogtepunt in Desember. In 2025 het skaapvleispryse stelselmatig deur die loop van die jaar gestyg, met ’n pryshoogtepunt wat in September aangeteken is toe pryse bykans R110/kg beloop het (Figuur 2).

Figuur 2: Speenlam- en skaapkarkasindeks en -pryse.

Varkvleis

Varkvleispryse het ook ’n goeie jaar agter die blad, met pryse wat vir die grootste deel van 2025 bo 2024 se prysvlakke uitgestyg het (Figuur 3). Hoewel die pryse aan die begin van 2025 laer was as in 2023 en 2024, het dit vanaf Maart versterk en ’n positiewe tendens behou tot en met die mees onlangse beskikbare data.

Die goeie prestasie van varkvleis kan gedeeltelik toegeskryf word aan hoë bees- en skaapvleispryse wat verbruikers genoop het om ’n alternatiewe, goedkoper opsie te oorweeg. Sodoende het dit ook die prys van varkvleis ondersteun.

Die varkvleisprys is oor die algemeen meer stabiel as dié van skaap- en beesvleis, alhoewel dit in die eerste paar maande van die jaar daal en eers weer in die laaste paar maande styg.

Figuur 3: Varkvleispryse van 2022 tot 2025.

Ten slotte

Wat gewone tendense betref behoort vleispryse aan die begin van 2026 te daal. Dit sal interessant wees om te sien of die swakker vraag na beesvleis wat dikwels aan die begin van ’n jaar voorkom, vleispryse betekenisvol gaan beïnvloed. ’n Positiewe ligpunt is dat rentekoerse effens verlaag het en verbruikers meer geld in hul sakke sal hê, wat sal help om vraag te ondersteun. – Dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na Lombardwa@ufs.ac.za

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 12 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...