Estimated reading time: 4 minutes
- Natuurlike landbouhulpbronne in Suid-Afrika is nie onuitputbaar nie.
- Munisipale riool word gereeld in skoon waterbronne gestort, en daar is toenemend ongekontroleerde, wettige en onwettige mynaktiwiteite.
- Groot dele van Suid-Afrika se natuurlike weiding word deur oorbeweiding vernietig.
- Al hierdie aktiwiteite word deur bestaande wetgewing gereguleer en sluit ernstige strawwe in vir persone wat hulle aan hierdie oortredings skuldig maak.
- As landsburgers werklik ernstig is oor Suid-Afrika se toekoms en natuurlike hulpbronne, moet elkeen verantwoordelikheid neem vir die bestuur van hul onmiddellike omgewing.
- Die verantwoordelike gebruik van natuurlike hulpbronne word toenemend erken as ’n integrale deel van goeie korporatiewe bestuur.
Natuurlike landbouhulpbronne in Suid-Afrika is nie onuitputbaar nie. Daar is ’n bekende gesegde, oorspronklik van die Amerikaanse Indiane, wat ons al lank terug gewaarsku het: “Eers wanneer al die riviere opdroog en ons die laaste boom afgekap het, sal ons besef dat ons nie geld kan eet nie.”
Volgens die 2017-kommersiële landbou-sensusopname deur Statistieke SA, word 46,4 miljoen ha (37,9%) van Suid-Afrika se totale oppervlakte van 122 miljoen ha vir kommersiële landbou gebruik. Hiervan word 36,5 miljoen ha vir weiding aangewend en slegs 7,6 miljoen ha vir die verbouing van gewasse. In hierdie amptelike opname verwys kommersiële landbou na landbou wat op ’n skaal plaasvind waar produkte verkoop word, of anders gestel, waar produkte verbou word vir groter verbruik as net persoonlike, huishoudelike gebruik.
Met ’n groeiende bevolking van tussen 63 en 64 miljoen mense en wisselvallige klimaat wat jaarliks groot skade aan oeste berokken weens droogtes, vloede en haelstorms, kan ‘n mens nie anders as om respek te hê vir ’n bedryf wat jaar na jaar die waagmoed toon om aan te hou produseer nie. Dit dien ook as ’n ernstige waarskuwing oor hoe kwesbaar Suid-Afrika vir voedselsekerheidsprobleme is indien die natuur skeefloop of natuurlike hulpbronne uitgeput raak.
Besoedeling vererger kwesbaarheid
Benewens die merkwaardige vasberadenheid van landbouers en verskeie faktore wat kommersiële landbou in Suid-Afrika onder druk plaas, word ons landelike gebiede toenemend blootgestel aan besoedeling. Ernstige gevalle van hierdie aard bedreig die fundamentele reg op ’n gesonde omgewing – ’n reg wat in Artikel 24 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) aan elke landsburger gewaarborg word.
Munisipale riool word gereeld in skoon waterbronne gestort, en daar is toenemend ongekontroleerde, wettige en onwettige mynaktiwiteite wat gevaarlike neweprodukte voortbring wat ernstige besoedeling veroorsaak. Terselfdertyd spring vullisstortingsterreine wat streng gereguleer behoort te word, orals op. Dit lyk egter of daar van owerheidskant geen wil of vermoë bestaan om hierdie probleem aan te pak nie.
Groot dele van Suid-Afrika se natuurlike weiding word deur oorbeweiding vernietig en volgens weidingkundiges kan die rehabilitasie van hierdie areas tussen drie en tien jaar neem – tyd waarin dié dele onbenut moet bly.
Toepaslike wetgewing
Al hierdie aktiwiteite word deur bestaande wetgewing gereguleer en sluit ernstige strawwe in vir persone wat hulle aan hierdie oortredings skuldig maak. Die belangrikste wette met hul regulasies wat van besondere belang vir die landbousektor is, sluit in:
- Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, 1998 (Wet 107 van 1998) (NEMA).
- Nasionale Omgewingsbestuurswet: Vullis, 2008 (Wet 59 van 2008).
- Wet op Omgewingsbewaring, 1989 (Wet 73 van 1989).
- Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 van 1998).
- Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, 1983 (Wet 43 van 1983).
- Wet op die Bewaring en Ontwikkeling van Landbougrond, 2024 (Wet 39 van 2024).
Hierdie wetgewing beteken egter niks indien dit nie toegepas word nie. Individue wat deur besoedeling geraak word sal moontlik in die toekoms self moue moet oprol deur middel van eedverklarings wat klagtes by die toepaslike wetstoepassingsagentskappe aanhangig maak, soos deur die wetgewing bepaal. Mense kan ook saamstaan en groeps- of klasaansprake instel (soos deur die Grondwet toegelaat) om hofbevele teen oortreders af te dwing en die owerhede tot aksie te dwing. Besoedeling is gekoppel aan ’n wedloop teen tyd en in sommige gevalle kan die gebrek aan tydige optrede permanente skade aan natuurlike hulpbronne veroorsaak.
Rol self die moue op
As landsburgers werklik ernstig is oor Suid-Afrika se toekoms en natuurlike hulpbronne, moet elkeen verantwoordelikheid neem vir die bestuur van hul onmiddellike omgewing. Dit begin prakties deur bewus te wees van besoedeling en, met kundige ondersteuning, stappe te neem om die probleem en oortreders aanspreeklik te hou. Tegnologie kan ’n waardevolle hulpmiddel wees deur bewysmateriaal in te samel.
Die verantwoordelike gebruik van natuurlike hulpbronne word toenemend erken as ’n integrale deel van goeie korporatiewe bestuur. Dit plaas ook ’n groot verantwoordelikheid op kommersiële instansies om ’n fyn balans tussen winsgrense en volhoubaarheid te handhaaf. ’n Kort rit deur Johannesburg en ander historiese myngebiede in Suid-Afrika behoort ’n belangrike herinnering te wees aan dít wat ons nie aan die volgende generasie wil nalaat nie.
Elke mens se lewensduur is beperk en ons is dit aan die volgende geslag verskuldig om ons pragtige land in ’n beter toestand agter te laat as hoe ons dit gevind het. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by hj@mmlaw.co.za of skakel 018 297 8799 (Potchefstroom) of 033 032 0241 (Pietermaritzburg).