Estimated reading time: 3 minutes
Die slaggate is diep, die risiko’s is werklik, en die rompslomp verstikkend. Só het Daneel Rossouw, hoof van verkope by Nedbank Landbou, reguit en eerlik gesê oor die hedendaagse ekonomiese uitdagings wat die landboubedryf moet trotseer tydens die Raisins SA-simposium. Die geleentheid het onlangs in Kakamas, Noord-Kaap, plaasgevind.
Trump keer die ekonomie op sy kop
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die wêreldekonomie deurmekaargekrap, het Rossouw gesê. Hoë tariewe en strenger immigrasiebeheer na Amerika is ingestel. Hierdie rimpelings het die wêreldekonomie op sy kop gekeer en die gevolg is onsekerheid. Suid-Afrikaanse landbouers het ook nie die invloed daarvan vrygespring nie – veral diegene wat ’n gevestigde mark in Amerika het.
Als tuis ook nie pluis
Rossouw het egter daarop gewys dat Trump nie vir alles geblameer kan word nie. Elke land het ook sy eie risiko’s wat sy ekonomie kelder. Die Suid-Afrikaanse ekonomie sukkel immers met kwessies soos beurtkrag, die agteruitgang van sy pad- en spoorinfrastruktuur, misdaad en korrupsie, en swak openbare dienste. Dit alles het ’n groot invloed op die landboubedryf.
Hoewel mense nou in hul noppies is met die minimale beurtkrag wat Suid-Afrika die afgelope jaar beleef het, is die land se energieprobleme nie opgelos nie, het Rossouw gewaarsku. Die land het immers net-net genoeg elektrisiteit om die ekonomie aan die gang te hou. “As die ekonomie met 1% groei gaan daar weer te min elektrisiteit wees.”
Landbouprodusente verminder
In die landbou self dis daar ook verskeie faktore wat die groei kniehalter. Hoewel die sektor die beste groei toon, produseer slegs ’n kwart van die landbouers sowat driekwart van die land se voedsel. Die oorheersende meerderheid van daardie boerderye is familiebesighede, het hy bygevoeg. Oor die afgelope dekade het die land se aantal landbouprodusente gehalveer, terwyl produksie konstant bly. Dit beteken dat daar al hoe meer druk op ’n enkele produsent is om al meer te produseer.
Kreatiewe planne kraai koning
Ten spyte van groot uitdagings, het Rossouw die boere aangemoedig om kreatief te wees en aan te hou om planne te beraam. Hy het gesê landbouers het ’n goeie kans om te oorleef en winsgewend te bly boer, maar daar moet soms na die tekenbord teruggegaan word om seker te maak dat daar vir die langtermyn ook beplan word.
“Vra jouself: Wat is my vyf en tien jaar-plan? Is my boerdery behoorlik gestruktureer om goeie én slegte jare te hanteer? Word my skuld en kontantvloei behoorlik bestuur? Is my kommunikasie met my vennote in die besigheid goed? En probeer ek in isolasie leef of raak ek betrokke by my gemeenskap?” was sy raad.
Rossouw het weereens beaam dat hy groot vertroue in die Suid-Afrikaanse landbou het omdat boere altyd ’n plan sal beraam om weer bo uit te kom. – Koos du Pisanie, Plaas Media



