Estimated reading time: 5 minutes
- Die Grondwetlike Hof het op 1 Augustus vanjaar uitspraak gelewer in die saak van Mereki vs Moladora Trust, Grondwetlike Hof
- Die saak is opspraakwekkend omdat dit handel oor die omstrede kwessie van grondeienaarskap en die aanhou van vee deur plaasbewoners.
- Die aanhou van vee is nie ’n outomatiese reg nie. Sodra toestemming egter verleen word om vee aan te hou, word hierdie reg onder ESTA beskerm.
- Artikel 8 van ESTA vereis goeie redes vir ‘n besluit om die reg om vee aan te hou, te kanselleer.
- Hoewel die hof nié beslis het dat die aanhou van vee ‘n outomatiese reg is wat aan verblyf op plase gekoppel is nie, is dit kommerwekkend dat hierdie uitspraak nou die deur oopmaak vir iemand om dit wel in die toekoms aan te voer.
Die Grondwetlike Hof het op 1 Augustus vanjaar uitspraak gelewer in die saak van Mereki vs Moladora Trust, Grondwetlike Hof-saaknommer CCT 121/24. Die saak is opspraakwekkend omdat dit handel oor die omstrede kwessie van grondeienaarskap en die aanhou van vee deur plaasbewoners.
Bewoning en aanhou van vee
Wanneer hierdie kwessie ter sprake kom, het plaasbewoners in die meeste gevalle toestemming vanaf die eienaar of persoon in beheer van grond ontvang om vee aan te hou. In die praktyk sal so ‘n reg saamhang met die beskikbaarstelling van ’n spesifieke en afgekampte deel op ’n plaas, of die aanhou van ‘n beperkte aantal vee. Toestemming om vee aan te hou ontstaan ook meestal waar so ‘n reg verleen word as ‘n vergunning of ‘n bykomende voordeel gekoppel aan ‘n diensbetrekking met die eienaar of persoon in beheer van ’n plaas.
In die verlede was hierdie gebruiksreg van grond deur die howe gesien en toegepas as ‘n persoonlike reg wat uit ’n ooreenkoms met die eienaar ontstaan het. Dit was onderskei van bewoningsregte wat uitdruklik in die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) (ESTA) beskerm word. In die nuwe uitspraak het die Grondwetlike Hof egter nou die omvang van die beskerming ingevolge ESTA uitgebrei na weidingsregte as ’n gebruik van grond. Die hof het dienooreenkomstig beslis dat die vereistes vir uitsetting, soos omskryf in ESTA, ook nagekom moet word indien so ‘n reg gekanselleer word.
Hiermee saam het die hof ook bevind dat tydsverloop aan iemand wat vee sonder toestemming begin aanhou, ingevolge twee bepalings in ESTA die reg sal gee om op stilswyende toestemming staat te maak.
Implikasies van die uitspraak
Die aanhou van vee is nie ’n outomatiese reg nie. Sodra toestemming egter verleen word om vee aan te hou, word hierdie reg onder ESTA beskerm. Toestemming kan stilswyend ontstaan indien daar nie opgetree word teen persone wat sonder toestemming begin om vee op ‘n plaas aan te hou nie. Na 12 maande sal ‘n vermoede van toestemming ontstaan wat deur die eienaar weerlê kan word. Na drie jaar sal dit egter geag word dat die persoon toestemming het om vee aan te hou.
Sodra die reg om vee aan te hou ‘n ESTA-reg word op grond van uitdruklike en stilswyende toestemming soos hier beskryf is, sal die eienaar so ‘n reg moet kanselleer ooreenkomstig Artikel 8 van ESTA. Eers dan, en by nakoming van die prosesvereistes vir ’n uitsetting deur middel van regstappe in die hof, kan die eienaar vra vir die verwydering van die vee.
Artikel 8 van ESTA vereis goeie redes vir ‘n besluit om die reg om vee aan te hou, te kanselleer. Dit sal in die meeste gevalle vereis dat die eienaar van die vee ’n geleentheid gegee word om redes aan te voer waarom die reg nie gekanselleer behoort te word nie.
Hoewel die hof nié beslis het dat die aanhou van vee ‘n outomatiese reg is wat aan verblyf op plase gekoppel is nie, is dit kommerwekkend dat hierdie uitspraak nou die deur oopmaak vir iemand om dit wel in die toekoms aan te voer. ‘n Versoek om dit die bevinding te maak, was geweier omdat die argument vir die eerste keer in die Grondwetlike Hof aangevoer was. Dit beteken nie noodwendig dat so ‘n argument sal slaag nie, maar dit hou steeds ‘n risiko en regsonsekerheid in.
Pro-aktiewe stappe
- Tree op waar persone onwettig vee op jou grond begin aanhou.
- As jy ‘n plaas koop, vergewis jou van die regte van persone wat op die grond woon.
- Probeer om die ooreenkoms vir regte om vee aan te hou, op skrif te stel.
- Probeer om hierdie vee te beperk tot ‘n spesifieke deel van jou plaas wat verkieslik afgekamp is.
- Bestuur die veegetalle en die aanwas van vee wat deur plaasbewoners aangehou word.
- Maak seker dat die eienaars van sulke vee ‘n geregistreerde brandmerk het en dat alle diere behoorlik en leesbaar daarmee gemerk is.
- Maak seker dat diere behoorlik teen dieresiektes behandel en beskerm word.
- Maak seker dat diere wat op grond van so ‘n ooreenkoms aangehou word, nie jou plaas oorbewei nie.
- Bestuur ten alle tye die aanhou van vee op jou plaas en win advies in voordat enige stappe geneem word om die vee te verwyder. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Incorporated
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by hj@mmlaw.co.za of skakel 018 297 8799 (Potchefstroom) of 033 032 0241 (Pietermaritzburg).