Estimated reading time: 7 minutes
- Seleksiedruk is ‘n algemene en belangrike riglyn in stoetteling.
- Daar is egter ‘n alternatiewe benadering, naamlik om te selekteer uit ‘n kleiner groep waarvan elke individu ‘n bekende en indrukwekkende stamboom het.
- Die Rattray-familie van Pleasant View in die Swartberg-gebied van KwaZulu-Natal, pas beide seleksiebenaderings toe.
- Clark en Sherry Rattray boer al 33 jaar op Pleasant View en bedryf twee stoeterye.
- Die ruggraat van hul beesboerdery is die kommersiële kudde.
Seleksiedruk is ‘n algemene en belangrike riglyn in stoetteling. As jy ‘n groter genetiese poel het om van te kies, maak jy voorsiening vir hoër seleksie-intensiteit, wat tot vinniger genetiese vordering behoort te lei.
Daar is egter ‘n alternatiewe benadering, naamlik om te selekteer uit ‘n kleiner groep waarvan elke individu ‘n bekende en indrukwekkende stamboom het. Dus word superieure diere met gelyke sukses uit hierdie kleiner groep geselekteer. Elke individuele dier word deur ‘n diep stamboom gerugsteun, en dit verseker voorspelbaarheid. Spesifieke genetiese vordering mag dalk stadiger wees, maar aangesien die genetiese meriete van die kleiner groep reeds hoog is, is dit nie ‘n bron van kommer nie.
Die Rattray-familie van Pleasant View in die Swartberg-gebied van KwaZulu-Natal, pas beide seleksiebenaderings toe. In hul Beefmaster-stoet pas hulle die grootkudde, hoë-intensiteit benadering toe, terwyl hulle in die kleiner Dohne Merino-stoet die tweede benadering gebruik.
’n Familie-onderneming
Clark en Sherry Rattray boer al 33 jaar op Pleasant View en bedryf twee stoeterye, Pleasant View Dohne Merino’s en Pleasant View Beefmasters, asook ‘n groot kommersiële beeskudde en kleiner kommersiële skaapkudde. Ongeveer sewe jaar gelede het hul seun, Hayden, by hulle aangesluit. Hoewel Clark en Hayden die belangrikste besluite saam neem, neem Clark verantwoordelikheid vir die administrasie van die skaapstoet en Hayden vir die beesstoet.
“Ons het oorspronklik ‘n Hereford/Simmentaler/Brahman-tipe beeskudde gehad. Dit was groot koeie met baie melk, en ons het groot speenkalwers gespeen. Namate die uitgawes egter gestyg het, het ons besef ons moet die koeigrootte verklein vir ‘n meer koste-doeltreffende vroulike eenheid. In 2010 het ons begin om Beefmaster-bulle op die kommersiële koeie te gebruik en ons eerste Beefmaster-kalwers is in 2014 geregistreer.”
Die besluit om die stoet te registreer, sê hy, was gebaseer op hul behoefte om waarde tot die plaas toe te voeg, maar ook om self bulle vir hul groot kommersiële kudde te produseer. “Die plaas is redelik groot – 3 000ha – maar ons het baie min bewerkbare grond. Sherry en ek het dus ‘n strategiese besluit geneem om die besigheid eerder vertikaal as horisontaal uit te brei en ‘n stoet het na ‘n goeie diversifiseringsopsie gelyk.
“Beide my oupa en pa het nog altyd baie goeie koeie gehad, en goeie bulle ingekoop. Ek het dieselfde gedoen en ‘n baie goeie kudde gebou. Ek moes net die regte tipe kry wat by ons omgewing se veranderende uitdagings kon aanpas.”
Hulle is tewens steeds besig om die koeigrootte te verklein. Die kriterium is ‘n koei-kalf-verhouding van ongeveer 48% met speen. Dit beteken dat ‘n koei van ongeveer 500kg ‘n kalf van sowat 240kg sal speen.
Genetika en stambome
Stambome speel ‘n deurslaggewende rol by hul keuse van stoetramme en -bulle. “ ‘n Stamboom bied voorspelbaarheid. Jy kan al die syfers in die wêreld tot jou beskikking hê, maar sonder ‘n stamboom is daar geen voorspelbaarheid nie. Wanneer ‘n ram of bul dus aangekoop word, is die stamboom die eerste ding waarna ons kyk; daarna beoordeel ons dit visueel en eers dan kyk ons na syfers. Ons stel nie belang in uiterstes nie.”
Hoewel Suid-Afrika verskeie bekende en gevestigde Beefmaster-stoeterye het, meen Clark daar is baie goeie diere regoor die land. Hy bestudeer die verskillende stoete se advertensiemateriaal en identifiseer produksieveilings waar hierdie diere onder die hamer gaan wees.
Die Dohne-stoet
Hul Dohne Merino-teelprogram se doelwitte is dieselfde as die beeste s’n, sê Hayden. “Vroegryp diere wat na hulself kan omsien, verkieslik tweelinge of baie goeie enkelinge grootmaak, en op skedule weer dragtig raak.
“Voorspelbaarheid bly die hoeksteen van ons stamboomgebaseerde benadering. So kan ons heelwat ramlammers as teelramme verkoop, al het ons nie ‘n groot ooikudde nie.” Die stoetery, voeg Clark by, is in 1980 begin, wat beteken die stambome in hul diere loop diep en verhoog voorspelbaarheid aansienlik.
“Ons het onlangs ‘n ram vir R200 000 verkoop. As jy sy stamboom bestudeer sien jy dat sy oupagrootjie, oupa én pa almal dieselfde uitstekende tipe was. Dit verseker dat hy dieselfde stempel op sy nageslag sal afdruk. Aan sy vroulike kant sien jy ook hoe vrugbaarheid deur die generasies loop.”
Teel vir weerstandigheid
Hulle hoë-reënval, suurveldgebied bied twee groot uitdagings vir die skaapkuddes, naamlik haarwurm en vrotpootjie. “Die enigste lewensvatbare langtermynoplossing is om skape te teel wat geneties bestand teen hierdie twee probleme is. Daarom plaas ons klem op die teel van ramme wat bestand is teen haarwurm en vrotpootjie.
“Ons gebruik die Famacha-stelsel om diere te identifiseer wat deur haarwurm aangetas is. Ons sal ‘n dier een keer behandel, maar nie weer nie. ‘n Tweede keer en hy/sy word uitgeskot. Dieselfde geld vir vrotpootjie.”
Omdat hulle ‘n stoet bedryf en elke skaap se ouers bekend is, kon hulle vasstel watter families meer bestand is. “Ons is nou waar ons goeie vordering maak met seleksie vir weerstandigheid. Die afgelope seisoen het ons drie ramme met vrotpootjie gehad (hulle het in ‘n moerasagtige gebied geloop), terwyl ons vyf ramme met haarwurm getel het toe ons die prestasietoetsing afgesluit het. Alhoewel ons dit nie absoluut kan waarborg nie, weet ons dat ons ramme nie probleme sal gee nie en as hulle oor ‘n lang tydperk gebruik word, sal die weerstandigheid in daardie kudde toeneem.”
Die kommersiële kudde
Die ruggraat van hul beesboerdery is die kommersiële kudde, sê Hayden. Hulle gradeer elke jaar verse na die stoet op en dit verseker diversiteit. “Ek wil nie hê elke koei in die stoet moet dieselfde lyk nie. Diversiteit verseker veerkragtigheid teen ‘n allerhande tipes druk. Afgesien van siektes en virusse, verwys dit ook na druk weens klimaatsverandering. Ek glo diversiteit verleen veerkragtigheid.
“Hoewel ek wil hê die koeikudde moet soortgelyk presteer in terme van produksie, is dit goed om te weet daar is diversiteit in die verskillende bloedlyne en koeifamilies. Dit verander nie ons klem nie, maar kombineer eerder diversiteit en stambome.”
Clark sê hy kom al hoe meer tot die gevolgtrekking dat die tipe dier wat die voerkraalbedryf benodig, presies die teenoorgestelde is van dít wat vir ‘n ekstensiewe beesboerdery in hulle gebied geskik is. Om voerkrale se behoeftes te probeer bevredig, is dus nadelig vir sy eie winsgewendheid.
“Ons poog om diere te teel wat ons op gras kan vetmaak sonder ‘n hoë-energie inset. Hulle susters moet vrugbaar wees, goeie melk hê, vir hulself kan sorg, ‘n goeie kalf grootmaak, en op tyd herbeset raak. Dit gee ons die opsie om nié speenkalwers te verkoop as die prys onbevredigend is nie, en eerder B-graad osse en verse van die veld af te verkoop.” – Izak Hofmeyr, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Clark Rattray by 072 185 4571 en Hayden Rattray by 082 393 9183.


