Estimated reading time: 4 minutes
Die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerproduk van die Jaar, Makataan Chunks van Compagniesdrift in Stellenbosch, is by Lanzerac in Stellenbosch aangewys. Die wenproduk was een van 456 inskrywings van 66 vervaardigers in die heel eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe wat deur Agri-Expo aangebied is.
’n Beoordelaarspaneel van 38 kenners het die inskrywings deur middel van ’n streng blinde proeproses beoordeel. Uiteindelik is 70 produkte van 29 vervaardigers as Suid-Afrikaanse Kampioene aangewys, met ’n wenner in elk van die 11 kategorieë. Susina Jooste, hoofbeoordelaar, koskenner en opleidingspesialis, het gesê Compagniesdrift se makataanstukke het ’n wenkombinasie van voorkoms, smaak, tekstuur, en gehalte gehad. “Om die Produk van die Jaar in ’n kompetisie van hierdie kaliber te wees, is ’n besondere prestasie,” het Jooste gesê.
Kampioenproduk sit tradisie voort
Ilse Ruthford, besturende direkteur van Compagniesdrift in Stellenbosch, sê dié nasionale toekenning is ’n groot prestasie vir haar en die span van Compagniesdrift. “Die produk is baie naby my hart. Ek is daarmee grootgemaak. My ouma het dit altyd gemaak en ek wil hê dit moet na haar sterfte voortbestaan. Hierdie toekenning sê ons het dit bemeester.” Sy het haar dank teenoor Lena Conradie, die werknemer by Compagniesdrift wat die makataanstukke kook, uitgespreek. “Sy sit al haar tyd en energie in, en ek is die een wat dit proe voordat dit gebottel word.”
Ruthford het gesê nadat daar in 2014 ’n groentetuin op Compagniesdrift aangeplant is, is daar ’n reeks preserveerprodukte ontwikkel om verskillende gewasse, soos die makataanstukke, met verbruikers te deel. Hierdie nuwe kampioenskappe bied vir vervaardigers ’n inspirerende maatstaf en ondersteun uitnemendheid in landbou. Ons is ongelooflik trots daarop, het sy gesê.
Deelname oortref verwagtinge
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, het deelnemers aan die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe bedank. Die deelname het alle verwagtinge oortref met dubbel die hoeveelheid inskrywings as verwag.
Agri-Expo, ’n nie-winsgewende organisasie, het die kompetisie geskep om preservering in die kollig te plaas, erkenning aan topgehalte-produkte te gee, en sodoende ekonomiese ontwikkeling te help bevorder. “Ons doen nie die tipe kompetisie vir geld nie. Ons doen dit omdat landbou in ons harte lê. Ons wil graag landbou en landbouprodukte bevorder deur produkte soos hierdie preserveerprodukte aan die verbruiker bekend te stel,” het Milford gesê.
Chris Fourie, voorsitter van Agri-Expo, het gesê die kompetisie gee erkenning aan innovasie. “Preserveerprodukte is deel van ons kultuur en geskiedenis. Elke toekenning wat vandag gemaak is, dra geskiedenis en ons is baie trots daarop.”
Kategoriewenners aangewys
Die 11 produkte wat as die beste in hul kategorie aangewys is, is:
- Blatjang: Montagu Foods Shoprite Housebrand/Ritebrand se Peach Fruit Chutney.
- Groente in sous: Creative Cuisine se Pantry Curried Baby Onions.
- Ingelegde groente: Jumping Jackal Delicacies se Pickled Jalapeño Whole.
- Ingelegde vrugte: Kloovenburg Olives se Black Olives in Blackberry Dressing.
- Jellies: Domein Doornkraal se Plum Jelly.
- Konfyt: Uit-Die-Bottel se Quince Jam.
- Marmelade: Hemelhuijs se Kumquat Conserve.
- Pesto: Pesto Princess se Sundried Tomato Pesto.
- Relish: Miami se Boerie Relish, Sweet Tomato.
- Tapenade: Willow Creek Olive se Tapenade with Black Olives, Anchovies & Capers.
- Vrugte in stroop: Compagniesdrift se Makataan Chunks (SA Preserveerproduk van die Jaar).– Hugo Lochner, Plaas Media
Besoek www.sapreservechamps.co.za vir die volledige uitslae of stuur ’n e-pos na charlotte@agriexpo.co.za.

