40 Jaar van Brangus-sukses

Estimated reading time: 7 minutes

Die Brangus-beestelersgenootskap het vanjaar ’n noemenswaardige mylpaal bereik met die suksesvolle aanbieding van sy 40ste nasionale veiling by die Afridome in Parys. Hierdie elite-veiling het weereens as maatstaf gedien vir topgenetika, met bulle en vroulike teelmateriaal van regoor die land wat onder die hamer gekom het. Tydens die geleentheid is ook spesiale erkenning aan telers gegee wat deur hul toewyding en volgehoue bydrae tot die sukses van die Brangus-ras, uitgestyg het.

Volgens Kinnear Geldenhuys, tegniese veldbestuurder van die genootskap, is al die diere op die veiling deeglik geëvalueer op strukturele korrektheid en funksionele doeltreffendheid om vir die kopers ’n waardevolle produk te kan verseker. Dit sluit die nodige veeartsverslae in om streng biosekuriteitsmaatreëls na te kom vir bek-en-klouseer wat in Suid-Afrika heers.

Hy meen die genootskap toon gesonde groei, met die nasionale Brangus-kudde wat tans bykans 70 000 diere sterk is. Ook op lidmaatskapvlak is daar positiewe ontwikkeling, met die ledetal wat nou op meer as 186 staan. Dit is verder bemoedigend om te sien hoe jong, nuwe telers hul merk begin maak. Die groeiende belangstelling in die ras is beslis ’n prestasie waarvan die genootskap met trots kan getuig – ’n ware veer in die hoed.

Andrew Miller was die afslaer en Vleissentraal Frankfort het die veiling aangebied. Meerkat Online Auctions het die aanlynverkope hanteer.

’n Rekordprys

Ian Grobbelaar, stoetvee-afslaer van Vleissentraal, sê hulle is tevrede met die gemiddelde pryse wat op die veiling behaal is – en veral met die rekordprys vir ’n swart Brangus-bul. Die duurste bul, Lot 48 (SS 2220) van Willem en Kyla Scholtz van Scholtz Brangus, Louwna, is teen R700 000 aan RC Malherbe van Roechama Brangus by Hertzogville verkoop. Kyla sê hulle is dankbaar vir die prys wat hul bul behaal het. Sy beskryf SS 2220 as uitsonderlik met eienskappe soos goeie diepte en lengte, loopgemak, sterk hakke en ’n kort skede. Sy glo dit is ’n bul wat werklik waarde tot ’n beeskudde sal toevoeg.

Die bul SS 2220 het die hoogste prys op die veiling behaal. Van links is Kinnear Geldenhuys, tegniese veldbestuurder van die  Brangus-beestelersgenootskap; RC Malherbe van Roechama Brangus, koper; Kyla Scholtz van Scholtz Brangus, verkoper; en Andrew Miller, afslaer. (Foto: Lizel Snyman)

Die duurste swart bul, Lot 11 (FHL 23209) van Henri Ferreira van FHL Brangus by Brits, is teen R575 000 aan Pieter-Jan Botha van Goue Vallei Brangus, by Greylingstad verkoop. Ferreira beskryf die bul, wat as die Brangus Grootkampioenbul én Swart Brangus Junior kampioenbul aangewys is, as ’n goed gebalanseerde, 22-maande oue rooi-geendraende bul met uitstekende karakter, sterk beenstruktuur, en goeie bespiering. Altesaam 66 bulle is teen ’n gemiddeld van R115 114 per bul verkoop.

Die bul FHL 23209 van Henri Ferreira van FHL Brangus, het ’n rekordprys van R575 000 vir ’n swart Brangus-bul behaal. (Foto: Henri Ferreira)

Die duurste 3-in-1, Lot 115 (LHR 21201) van Leonard Roberts van Kwaggas Brangus by Boshof, is teen R120 000 aan Jaco Jooste van Oransekraal Boerdery by Hoopstad verkoop. Die 3-in-1’s het ’n gemiddeld van R85 000 elk opgelewer. Die duurste koei met ’n kalf, Lot 77 (RCM 1790) van RC Malherbe is teen R110 000 aan Bennie van Niekerk en Neville van der Merwe van Bersunel Brangus, Hertzogville verkoop. ’n Gemiddeld van R80 000 per koei met kalf is tydens die veiling behaal.

Die hoogste prys vir ’n 3-in-1 was R120 000 vir Lot 115 (LHR 21201). Van links is Kinnear Geldenhuys, tegniese veldbestuurder van die Brangus-beestelersgenootskap; Leonard Roberts, verkoper; Jaco Jooste, koper; en Andrew Miller, afslaer.

Dragtige koeie is teen ’n gemiddeld van R35 625 verkoop. Die duurste dragtige vers, Lot 85 (RO 23363) van Jimmy Roberts van Triangle Farms, Hertzogville, is teen R55 000 aan RC Malherbe verkoop. Hy het ook Lot 93 (C 23852) van Reinet Meyer van Bruljant Brangus, Bloemfontein, vir R55 000 gekoop. Die dragtige verse het ’n gemiddeld van R35 294 elk behaal.

Oopverse is teen ’n gemiddeld van R34 286 per vers verkoop. Die duurste drie oopverse tydens die veiling was:

  • Lot 83 (DUO 23115) van Pieter Swart van Duo Maestro, Ermelo, verkoop teen R45 000 aan Henri Ferreira van FHL Brangus, Brits.
  • Lot 104 (JOC 2412) van Duncan Watson van JOC Brangus, Dargle, verkoop teen R45 000 aan RD Ruiter van Kissama Holdings, Paul Roux.
  • Lot 121 (C 24896) van Reinet Meyer van Bruljant Brangus, Bloemfontein, verkoop teen R45 000 aan Estiaan en Pieter Wolfaardt van 2 Brothers Brangus, Hoopstad.

Harde werk word beloon

Verskeie telers is tydens ’n spogdinee vir hul toewyding en harde werk vereer. Die toekennings sluit in:

Brangus-toekennings van links isHelgard Truter, Klein-kudde Teler van die Jaar; Charl Blom, Bayer-verteenwoordiger, Hertzogville; Martin Campher, Teler van die Jaar én Groot-kudde Teler van die Jaar; en Kosie Smith, Medium-kudde Teler van die Jaar.
  • Love of Brangus 2025 – Reinet Meyer, Bruljant Brangus.
  • Lifetime Award 2025 – Martin Campher, Keeversfontein.
  • Persoonlikheid van die Jaar 2025 – Robert Brand, DPT Brangus.
  • Beste Joernaal-advertensie 2025 – Urban Uys, Eike Brangus.
  • Klein-kudde met die beste TKP van onder 400 dae 2025 –  Taylor Knott, Knott Brangus.
  • Medium-kudde met die beste TKP van onder 400 dae 2025 – Duncan Watson, JOC Brangus.
  • Groot-kudde met die beste TKP van onder 400 dae 2025 – Martin Campher, Keeversfontein.
  • Five Star Award for Breedplan Completeness 2025:
  • Riaan Hagendijk, Goedgenoeg Bdy.
  • Christopher Sparks, Mount Olive Genetics.
  • Francois Scholtz, Beswil Brangus.
  • André van der Merwe, Wouman Brangus.
  • Klub met die beste interkalf gemiddeld 2025 – Wes-Vrystaat Klub met 415 dae.
  • Beste Produksieveiling van die Jaar 2024 – Genelink Produksieveiling.
  • Beste klubveiling 2024 – Sentraal Klub.
  • Hoogste gemiddeld op nasionale veiling 2024 – Kosie Smith, Smith Brangus.
  • Andrew Miller-wisseltrofee – Hoogste gemiddeld op Andrew Miller-veilings 2024 – Kosie Smith, Smith Brangus.
  • Breedplan Bul van die Jaar – GT2365 van Michiel Gerber, GT Brangus.
  • Opperste kampioenkoei – AK1931 van Arthur Hellberg, AK Brangus.
  • Opperste kampioenbul – RCM21672 van RC Malherbe, Roechama Brangus.
  • Jong Stoet van die Jaar 2025 – Leonard Roberts, Kwaggas Brangus.
  • Klein-kudde Teler van die Jaar 2025 – Helgard Truter, Sleewijk Brangus.
  • Medium-kudde Teler van die Jaar 2025 – Kosie Smith, Smith Brangus.
  • Groot-kudde Teler van die Jaar 2025 – Martin Campher, Keeversfontein.
  • Teler van die Jaar 2025 – Martin Campher, Keeversfontein Boerdery.

Brangus-raad

Die genootskap het ook sy raad vir 2025 tydens sy algemene jaarvergadering aangewys.

Die Brangus-raad vir 2025 is van links Francois Scholtz, Roy Unsworth, Gerald Fletcher, Pieter Swart, Jimmy Roberts, Johan Blomerus, Leonard Roberts, en Kosie Smith. Myburgh Wessels was nie teenwoordig nie.

Die raad bly onveranderd, met Kosie Smith wat as president en Francois Scholtz as visepresident, bevestig is. Myburgh Wessels, Roy Unsworth, Gerald Fletcher, Pieter Swart, Jimmy Roberts, Johan Blomerus, en Leonard Roberts bly ook in hul onderskeie portefeuljes aan. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Vir meer inligting kontak Kinnear Geldenhuys by 076 191 4318 of admin@brangus.org.za.

Die invloed van individuele spasietoekenning op lammers se voer- en waterinname (Deel 1)

Estimated reading time: 8 minutes Die stygende wêreldvraag na voedsel tesame met ’n afname in...

Van toeka tot nou: Slagdag op die plaas

Estimated reading time: 6 minutes Ná ’n slagdag is daar seep gekook, vet en kaiings...

Agbiz Grain Quarterly May 2026

The May 2026 issue of Agbiz Grain Quarterly boasts an impressive lineup of articles,...

Dinamika en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse lusernhooibedryf: Produsentepryse (Deel 4)

Estimated reading time: 7 minutes Vorige artikels in hierdie reeks het gefokus op aspekte soos...