Tuesday, December 16, 2025

Só koop jy die regte bul

Estimated reading time: 6 minutes

Die belangrikheid van ’n bul se bydrae tot die genetika van ’n kudde kan nie oorbeklemtoon word nie. Die seleksie van ‘n bul is ’n belangrike besluit wat ’n langtermyn impak op die algehele prestasie van jou kudde kan hê. Die volgende drie bulle wat jy vir teeldoeleindes gaan gebruik, sal tot 70% van jou kudde bydra.

Omskryf jou teeldoelwitte

Voordat jy dit oorweeg om ’n kommersiële of stoetbul te koop, moet jy eers weet wat die sterk- en swakpunte van jou koeikudde is. Die eerste stap is om jou teeldoelwitte te stel. Wat is die doelwitte wat jy as beesteler wil bereik? Wil jy ’n speenkalfprodusent wees of wil jy ’n goeie koeikudde hê en as ’n gasverkoper by produksieveilings optree?

Vir ’n meer akkurate evaluasie van jou koeikudde, kan jy gerus gebruik maak van die insette van ’n vryskutkonsultant of Brangus-senior inspekteur vir professionele en onbevooroordeelde advies. Dit sal jou toelaat om meer akkurate besluite rakende jou koeikudde te neem. Woon ook ’n senior inspekteurskursus by om op datum te bly van die jongste inligting en teelstandaarde waarna ons genootskap streef.

Spandeer genoeg tyd tussen jou koeikuddes en skryf hul sterk- en swakpunte neer om vas te stel of hierdie eienskappe by jou teeldoelwitte pas. Kyk na die diere, herken dit waarna jy op soek is, en interpreteer wat jy voor jou sien. Daar is verskillende soorte produksiestelsels in beesboerdery en elkeen verg ’n spesifieke tipe bul.

Beraamde teelwaardes

Brangus SA gebruik tans die Breedplanstelsel wat diere se beraamde teelwaardes (EBV’s) verskaf. Dit sluit al die genetiese materiaal van al die stamboeke van ‘n spesifieke dier in. EBV’s sal aandui wat die dier se genetiese potensiaal is en hoe die dier se nageslag sal presteer. Hoe meer data stoettelers na Breedplan stuur, hoe akkurater sal die EBV’s wees.

EBV’s is ’n hulpmiddel wat jou keuse van ‘n bul vergemaklik en moet by jou teeldoelwitte pas. As jy byvoorbeeld 50% van jou koeie as vervangingsverse hou, moet jy eerstens na die speengewig (WW) kyk en dan na die volwasse koeigewig (MCW). Dus sal jy kies vir WW bo die rasgemiddeld en MCW onder die rasgemiddeld.

Let op na die akkuraatheid van bulle se EBV’s en gesels met die verkoper oor sy/haar erns oor prestasietoetsing. Dalk fokus hy/sy meer op die fisieke voorkoms van die dier. Indien die teler prestasietoetsing doen en die akkuraatheid redelik hoog is (65% en hoër), kan jy besluit hoe belangrik die EBV’s en fisieke voorkoms van die bul is voordat jy hom aanskaf.

Fisieke voorkoms

Moet nooit uiterstes koop nie, want hulle sal selde goedgebalanseerde koeie teel. Koop eerder goedgestruktureerde, korrekte bulle wat oor die eienskappe beskik wat jou koeikudde kort. Bulle moet soos bulle lyk: Manlik met ’n sterk kop, ’n goedontwikkelde skof net voor die skouers, goeie liggaamslengte, en die lengte van die kruisskyf moet 1,5 keer in die dier se middelseksie pas. Die diepte in die middelseksie en die diepte in die borsvloer beslaan ’n groot deel van die endokriene stelsel wat basies konformasie, prestasie en produksie beheer. Dit is ook die gedeelte wat die breedste moet vertoon wanneer die dier van agteraf betrag word – dit is in der waarheid sy ‘fabriek’.

Skrotumgrootte en -vorm is ook baie belangrik. Skrotumsakke mag nie te lank wees nie; onder die hakke is ’n teken van ’n uitskotbul wat ongeskik is vir teling. Skrotumgrootte is ’n aanduiding van vrugbaarheid in sy vervangingsverse.

Koop jou bul verkieslik van ’n geregistreerde teler waarvan die omstandighede en omgewing ooreenstem met dit waarin jou diere produseer. So ‘n bul sal reg deur die jaar in ’n goeie toestand wees en 93% van jou jong koeie kan dek. Suid-Afrika se produksiegebiede verskil aansienlik ten opsigte van onder meer weiding, bosluise en siektes.

Jy kan natuurlik diere van die ooste (suurvelde met hoë reënval) na die weste (soeter velde, warmer toestande, minder siektes) skuif, maar daar sal aanpassingsprobleme wees. Skuif eerder jonger bulle na die nuwe omgewing of kontak jou kuddeveearts vir ’n omvattende inentingsprogram. Van die grootste uitdagings is onder meer hartwater, galsiekte, rooiwater en voerverskille.

Koeilyne is ‘n belangrikste aspek van beesteling. Daar is min koeilyne in ’n kudde wat hulself al oor generasies heen bewys het. Kennis van koeilyne sal jou in staat stel om maternale eienskappe, geboortegewig, melk, en vrugbaarheidseienskappe in die koeie asook in hul dogters wat teruggehou is, te herken. Indien jy bulle gebruik wat uit sulke koeilyne afkomstig is, sal dit maklik wees om daardie bulle se nageslag akkuraat te voorspel.

Doen behoorlike stamboeknavorsing wanneer jy ’n stoetbul koop. Gesels met die teler en stel vas hoeveel van die bul se vroulike stamboek jy na kan kyk (die koeie moet baie kapasiteit, goeie diepte in die midseksie, en goedgebalanseerde uiers en spene hê). Indien moontlik, kyk ook na die retensiewaarde van hierdie koeie. Dit sal heelwat ongewenste eienskappe uitskakel en die bul se retensiewaarde verhoog.

Moet nooit uiterstes koop nie; koop eerder goedgestruktureerde, korrekte bulle met eienskappe wat joukoeikudde kort.

Waarde van ’n bul

Bulpryse styg jaarliks en verg ’n kapitale belegging. Bulpryse word terugwerkend bereken tot hoeveel afstammelinge hy binne ‘n teelseisoen sal produseer: 40 kalwers/jaar x vyf jaar = 200 kalwers gebore van een bul; en 100 vroulike diere x 50% uitskotdiere = 50 koeie wat tot jou kudde gevoeg sal word.

Produsente gaan dikwels na ‘n veiling met die idee om bedrag X te bestee. Dis gewoonlik nie ‘n hoë bedrag nie, byvoorbeeld R50 000. Die waarheid is egter dat jy met R50 000 net een van die swakker bulle kan koop. Dis belangrik om te verstaan dat ’n bul tot 60 koeie in twee teelseisoene kan dek. So ‘n bul se direkte koste is nie eens R1 000 per kalf wat gebore word nie.

Die genetika wat jy tot jou koeikudde sal voeg, sal boonop vir die volgende ses tot tien jaar geld. Dit is dus die moeite werd om ’n ekstra R20 000 tot R40 000 te betaal vir ‘n bul met bewese koeie in sy stamboek. Hierdie bul sal jou koeie vir tot vyf jaar dek.

Dit is belangrik om jou kommersiële kudde met behulp van geregistreerde bulle uit te brei. Hulle is onderhewig aan streng inspeksies wat kopers verseker van strukturele korrektheid. Bulle wat nie die inspeksie slaag nie, het genetiese foute wat ernstige probleme in jou kommersiële kudde kan veroorsaak. ’n Hedendaagse tendens is dat kommersiële produsente uitskotbulle teen ’n goeie prys aanskaf.

Dit is in jou beste belang om net geregistreerde bulle te koop. As jy onseker is oor die registrasiestatus van ‘n betrokke bul, kontak my gerus vir hulp. Onthou, ’n bul teel terug na die gemiddeld van die koeikudde waaruit hy kom. – Kinnear Geldenhuys, tegniese veldadviseur, Brangus SA

Vir meer inligting, kontak Kinnear Geldenhuys by 076 191 4381 of admin@brangus.co.za.

Must read

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

RSG Landbou – 16 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels ons oor handelsooreenkomste met Wolfe Braude van Agbiz en dr Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad bespreek die wenners...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...

RSG Landbou: 15 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels Agbiz oor hulle fokuspunte vir 2026, ons vind uit wie die 2025 Nasionale Meestersuiwelboer wenners is en dr...