Estimated reading time: 4 minutes
“Wortels van veerkragtigheid” was die tema van Vrystaat Landbou se 2025 kongres wat verlede week by die Monte Bello landgoed in Bloemfontein plaasgevind het.
Prof Edwin Schwella, direkteur van die sosiale innovasie-besigheid CiviNovus, het oor die waarde van wysheid gepraat. Hy het beklemtoon dat boere met nuwe idees vorendag moet kom om probleme op te los. Dit beteken nie net dat produsente vernuwend of “buite die boks” moet dink nie – hulle moet sommer die boks weggooi! Hy glo dat boere slim en innoverend is.
Kan landbou korporatiseer? Kommodifiseer? Dít was die vrae wat prof Schwella gevra het. As voorbeeld van kommodifisering het hy na ’n melkboerdery verwys. As iemand net ’n koei melk om die produk te gebruik, gaan die melk opraak. Indien die persoon egter met kennis melk, gaan die melkvolume toeneem. Daarom stel hy voor dat produsente saamwerk en innoveer. Prof Schwella het produsente tot lewenslange leer aangemoedig. “Jy kan sonder enige iets wees, maar net nie sonder opsies nie.”
Strategiese toekoms
Dr Lindie von Maltitz, ’n dosent in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, het navorsing oor produsente in die provinsie gedoen om uit te vind waarom produsente nie lid van Vrystaat Landbou is nie. Die organisasie het tans 2 619 lede waarvan 2 444 opbetaald is. Ledegeld befonds tussen 95 en 99% van die organisasie.
Wat inligting aanbetref, het produsente laat hoor dat hulle meestal hul inligting by boereverenigings ontvang. Verder maak hulle ook op e-posse, kongresse, Whatsapp-boodskappe, Vrystaat Landbou-verteenwoordigers, en laastens sosiale media-platforms staat vir inligting.
Dr von Maltitz wou verder by produsente weet wat die waarde van Vrystaat Landbou-lidmaatskap is. Die enkele saak, wat soos ’n paal bo water gestaan het, was die organisasie se bydrae tot plaasveiligheid. Verder wou sy ook weet waarom lede hul lidmaatskap beëindig het. Die redes was kostes, onkunde oor wat Vrystaat Landbou doen, of dat hulle nie waarde in die lidmaatskap kon sien nie. Ben Duminy, Vrystaat Landbou-direksielid, het na afloop van dr von Maltitz se terugvoer hul strategie-beplanning onthul om hierdie resultate te verbeter.
Die leierskap beplan om kommunikasie te verbeter, opleiding te verskaf, en die Vrystaat Landbou-struktuur te hersien. Verder moet tradisie teenoor vernuwing geëvalueer word en die begroting sal ook hersien moet word. Na al dié hersiening is dit natuurlik belangrik dat veranderinge geïmplementeer word, het Duminy benadruk. Strategie sonder implementasie en evaluasie beteken immers nie veel nie.
Landbou-ekonomiese realiteite bekyk
Die bekende landbou-ekonoom, prof Johan Willemse, het die kongreslede retories gevra hoekom hulle boer: om geld te maak. Produsente sal egter saam met veranderinge moet boer en na tendense moet oplet omdat ontwikkelinge oor ’n lang termyn plaasvind.
Prof Willemse het produsente ook aangespoor om hul vaardighede met verdere studie op te skerp en om van innovasie en tegnologie gebruik te maak. Volgens prof Willemse spruit 75% van alle tegnologiese vooruitgang uit die privaatsektor voort. Ter wille van ekonomiese stabiliteit is dit ook krities dat organisasies soos Vrystaat Landbou op hoogte van belangrike wetlike kwessies bly en sodoende, byvoorbeeld, private eiendomsreg beskerm.
Prof Willemse het verder beklemtoon dat dit ter wille van stabiliteit krities is dat Suid-Afrika goed regeer moet word en dat beleide soos die monitêre beleid, fiskale beleid, en handelsbeleid seepglad toegepas moet kan word. Die belangrikheid van doeltreffende markte en die feit dat die landbou steeds ’n relatiewe vrye markstelsel volg is ook uitgelig. Danksy dié stelsel is die helfte van die landboubedryf se inkomste vanaf uitvoere afkomstig en kan boere met minimale regeringsteun op internasionale markte meeding.
Die feit dat sub-Sahara-Afrika se bevolking binne die volgende dekade tot 1,8 miljard inwoners sal groei skep ’n groot markgeleentheid vir Suid-Afrikaanse produsente, het prof Willemse gesê. Tewens, hy glo sub-Sahara sal die grootste invoerder van landbouprodukte word en dit sal ’n uitvoermark vir boere skep. Daarom glo prof Willemse dat die landbousektor nie aan die kwyn is nie. – Iniel Huggett en Hano Higgs, Plaas Media


