Estimated reading time: 5 minutes
- Stresvrye dierehantering verbeter dierewelsyn, produktiwiteit, vleisgehalte, en gesondheid.
- Stresfaktore sluit fisiese (hokke, hantering), omgewing (temperatuur, ventilasie), voeding (rantsoene, water) en sielkundige spanning (sosiale rangorde) in.
- Tekens van stres sluit rusteloosheid, minder herkou, hygende asemhaling, diarree, en laer voerinname in.
- Stres verminder gewigstoename, voerdoeltreffendheid en vleisgehalte, en verhoog produksiekoste.
- Versagtende strategieë: Roetinehandhawing, geleidelike hantering, skoon hokke, en skadu tydens hoë temperature.
Die borge van hierdie jaar se UP Agric-voerkraaluitdaging was: Kyron Agri, Molatek, Vet 2 Farm, Octavoscene, RMIS, Cavalier, DataMars en Plaas Media (Veeplaas en Stockfarm).
Stresvrye veehantering gaan nie net oor die diere se welsyn nie, maar ook oor produktiwiteit, vleisgehalte, gesondheid en veiligheid in veestelsels. Dit is aldus die Ram-paging Ewes, een van die groepe wat aan die jaarlikse voerkraaluitdaging van die Universiteit van Pretoria se Departement Veekunde deelgeneem het.

Stres is ’n reaksie op iets wat die lam se normale roetine en/of vermoë om dit te hanteer, versteur en fisiese of geestelike spanning meebring. Die doel van stresvrye dierehantering in elke produksiestelsel is om vrees en angstigheid te verminder, dierewelsyn te bevorder, en produksie te verbeter.
Stresfaktore manifesteer op verskillende maniere:
- Fisiese stres: Beperkte ruimte in hokke kan tot oorbevolking en stres lei. Diere kan siek word of baklei, terwyl hantering en vervoer stresvlakke kan verhoog.
- Omgewingstres: Temperature soos oormatige hitte of koue kan tot stres lei en vee negatief beïnvloed. Swak ventilasie en hoë humiditeit bring ’n groter risiko van respiratoriese siektes mee. Lammers en skape is veral vatbaar. Harde geluide tydens hantering kan ook kroniese stres meebring.
- Voedingstres: Veranderinge in die dieet, soos rantsoensamestelling of gehalte, kan spysverteringsversteurings veroorsaak. Te min water en voer kan ook tot stres lei, en mededinging tussen twee of meer diere kan verhoed dat sekere diere genoeg vreet.
- Sielkundige stres: Diere laer af op die rangorde word negatief deur die dominante gedrag van ander beïnvloed. Lammers is tropdiere en skeiding of isolasie kan tot sielkundige stres lei. Veranderinge in roetine, voertye of bestuur kan ook verwarring en angstigheid meebring.
Lees meer oor die suksesvolle bestuur van ’n skaapvoerkraal.
Tekens van spanning
Dit is belangrik om tekens van stres te herken en aksie te neem, want gespanne diere sal onderpresteer. Gedragstekenssluit rusteloosheid enirritasie, samedromming, isolasie en diere wat minder herkou in. ’n Duimreël is dat ’n derde van die diere in ’n hok moet herkou, ’n derde moet by die voerkrip wees, en die ander derde moet lê.
Fisiese tekens sluit in vinnige, hygende of vlak asemhaling. Diere kan ook bewe van vrees of angstigheid asook koue. Nog ‘n teken is diarree weens ’n omgekrapte maag en spysverteringstelsel, asook ‘n liggaamstemperatuur buite die normale vlakke van 38,3 tot 39,9°C (rektaal geneem). Voerinname sal afneem en veranderinge in waterverbruik sal voerinname beïnvloed.
Dit is belangrik om die invloed van stres op die voerkraal se produksiestelsel te ondersoek. Laer voerinname lei tot swakker gewigstoename en voerdoeltreffendheid, wat weer produksiekoste verhoog. Verlengde tye van fisiese stres kan swakker vleisgehalte, gewigsverlies en siekte tot gevolg hê.In uitersteklimaatstoestande word meer energie verbruik om die liggaamstemperatuur konstant te hou, terwyl minder vir groei gebruik word.
Faktore soos swak gehalte voer, formuleringsfoute, voer wat te min of te veel gemeng is, en ongereelde voertye kan produksiedoeltreffendheid beïnvloed en sal ’n laer groeitempo, swakker voeromsetverhouding en spysverteringsversteurings veroorsaak. Diëte met voedingstoftekorte kan tot ‘n swak karkasopbrengs lei.
Abnormale gedrag kan laer produktiwiteit en ’n onderdrukte immuunstelsel veroorsaak. Dit maak die dier meer vatbaar vir siektes. Kroniese stres en spanning net voor slagting, kan karkasgehalte beïnvloed. Die vleis sal sag en klam of donker en droog wees. Hoewel sulke vleis veilig is vir verbruik, wil verbruikers nie noodwendig onaantreklike vleis eet nie.
Versagtende strategieë
Lammers moet geleidelik gewoond gemaak word aan interaksie met mense en hanteringstoerusting. Faktore soos voertye en -roetine, hantering tydens weeg en prosessering, weerstoestande en bestuurspraktyke kan spanning veroorsaak. Skape is gewoontediere en lammers raak gespanne wanneer voer nie binne ’n halfuur van die normale voertyd gegee word nie.

Diere wat rondgejaag word en harde geluide hoor, se hartspoed versnel en hulle hyg. Maak seker dat daar genoeg skadu is sodat lammers tydens hoë temperature skuiling kan vind en sal aanhou vreet. Skoon hokke kan ook water- en voerinname beïnvloed; lammers stel nie in besoedelde water of voer belang nie.
Vir meer inligting, kontak dr Lindeque du Toit by epos linde.dutoit@up.ac.za.
– Azelia Neves, Nerissa Serfontein, Gabrielle du Toit, Nicoline Booyens, Maahlakudi Mohlala, Lungile Masina en Zwivhuya Netsiana (Foto’s: Hannah Gross-fotografie)