Estimated reading time: 4 minutes

  • Doeltreffende hoklogistiek is noodsaaklik vir goeie dierewelsyn, voerdoeltreffendheid en operasionele produktiwiteit.
  • Hokke se uitleg moet maklike toegang tot 4 tot 6 liter skoon, koel water verseker.
  • Rekordhouding is die sleutel tot produktiwiteitsmeting en ingeligte bestuursbesluitneming.
  • Die bestuur van mis in ‘n voerkraal is belangrik uit ‘n gesondheids- en omgewingsoogpunt.
  • Waterbakke moet daagliks deeglik skoongemaak word om skoon, drinkbare water te verseker.

Die borge van hierdie jaar se UP Agric-voerkraaluitdaging was: Kyron Agri, Molatek, Vet 2 Farm, Octavoscene, RMIS, Cavalier, DataMars en Plaas Media (Veeplaas en Stockfarm).

Finalejaarstudente in die Departement Veekunde aan die Universiteit van Pretoria se jaarlikse voerkraaluitdaging, moes vanjaar leer hoe om ’n skaapvoerkraal te bestuur. In hierdie artikel verduidelik Ewe-nited hoe hulle voerkraalbestuur prakties toegepas het.

Die lede van Ewe-nited. Van links is Sihle May, Mamonyenyane Theletsane, Monét Kleynhans, Marnique Swanepoel, Adeline Holzapfel en Monique Combrink. (Foto: Hannah Gross-fotografie)

Doeltreffende hoklogistiek is noodsaaklik vir goeie dierewelsyn, voerdoeltreffendheid en operasionele produktiwiteit. Elke hok moet voldoende spasie van nagenoeg 1,2 tot 1,5m2/skaap bied. Daarmee saam is voerbakspasie van minstens 10cm/dier nodig om te voorkom dat diere oor voer meeding.

Hokke se uitleg moet maklike toegang tot 4 tot 6 liter skoon, koel water verseker. Die drinkbakke moet genoeg skadu ontvang, aangesien warm water voerinname verminder. Ordentlike vloere van byvoorbeeld sement met beddegoed of hortjiesvloere, verseker ‘n droë, growwe oppervlak wat die risiko van mankheid verlaag. Goeie dreinering is nodig om te verhoed dat water opdam en higiëne te bevorder. Die hokke moet goed-geventileerd wees en skape teen hitte en reën beskerm.

Die uitleg moet van so ‘n aard wees dat die skape maklik na die voer- en hanteringsareas kan beweeg vir sortering, weeg en gesondheidsondersoeke. Dr Jarred Morris van Octavoscene sê die gebruik van isolasiehokke vir siek skape of nuwe aankomelinge verbeter biosekuriteit, wat die risiko van siekte-oordrag verminder.

Hokke moet tussen siklusse skoongemaak en ontsmet word. In hierdie opsig is behoorlike afvalbestuur noodsaaklik. Die keuse tussen geoutomatiseerde en handvoerstelsels sal afhang van die grootte van die voerkraal en het betrekking op arbeidsdoeltreffendheid. Net so kan outomatiese waterstelsels water meer doeltreffend herlei en arbeid verminder.

Lees meer oor die ekonomie van ’n skaapvoerkraal.

Rekordhouding vir meting

Rekordhouding is die sleutel tot produktiwiteitsmeting. Behoorlike rekordhouding help ook met ingeligte bestuursbesluitneming en beplanning. Indien bestuursbesluite produksie negatief beïnvloed, is dit belangrik om die rekords na te gaan om die probleem te identifiseer. So byvoorbeeld kan ‘n kudde se gesondheid gemoniteer word op grond van rekords soos gewigstoename, voerinname en inentings. Dit kan ook verskille in lammers se vermoë om gewig aan te sit, uitwys.

Hierdie rekords moet gestandaardiseer word sodat dit later maklik ontleed en geïnterpreteer kan word. Ewe-nited het radiofrekwensie-identifikasie (RFID)-oorplaatjies en ’n skaal van Datamars Livestock gebruik om die individuele gewigte en gemiddelde daaglikse toename (GDT) van die skape aan te teken. Daaglikse voerinname en veranderings in eksterne omstandighede is ook aangeteken. Laasgenoemde verwys na faktore soos humiditeit, windsnelheid en temperatuur. Hierdie aspekte is twee keer per dag tydens voeding aangeteken, en enige ongewone gebeurtenisse is ook aangeteken. Veranderings in voerinname kon sodoende met veranderings in die eksterne omgewing vergelyk word.

Afvalbestuur

Die bestuur van mis in ‘n voerkraal is belangrik uit ‘n gesondheids- en omgewingsoogpunt. Volgens Meat & Livestock Australia bou die reuk van afval op sodra die organiese materiaal daarin anaërobies afgebreek word. Hierdie reuk lok vlieë wat die vee irriteer. Dit lei tot laer voerinname, voervermorsing en siekteverspreiding.

Wanneer dit reën of die hokke word gewas, moet die afloopwater herlei word na ‘n area waar dit nie die omgewing sal benadeel nie. Soliede afval moet in ’n aangewese area geberg word waar dit nie plaasbedrywighede sal beïnvloed nie. Ewe-nited het hulle hokke elke tweede dag uitgevee en elke twee weke uitgewas.

’n Lid van Ewe-nited verbeter die afvalbestuur van die voerkraalhok. (Foto: Monét Kleynhans)

Waterbakke kan ook met voer en mis besoedel word, en moet daarom daagliks deeglik skoongemaak word sodat die diere ‘n konstante vloei van skoon, drinkbare water het. As dit nie skoongemaak word nie, kan alge daarin groei en eutrofikasie kan die skape siek maak. Hulle het water elke dag laat uitloop, waarna die bakke skoongeskrop is om alge te verwyder en vars water is ingetap.

Vir meer inligting oor die voerkraalprojek, kontak die studieleier, dr Lindeque du Toit, by epos linde.dutoit@up.ac.za.

Adeline Holzapfel, Mamonyenyane Theletsane, Marnique Swanepoel, Monét Kleynhans, Monique Combrink en Sihle May