Monday, March 10, 2025
HomeAgri NewsRooivleis: Statutêre heffings onder die vergrootglas

Rooivleis: Statutêre heffings onder die vergrootglas

Estimated reading time: 3 minutes

Veeprodusente betaal sedert 1 November meer vir statutêre heffings op alle skaap, bees, bok en varkslagtings asook lewende diere wat uitgevoer word. Baie produsente vra waarom hulle meer moet betaal. Hierdie statutêre heffings is verpligtend en word volgens Staatskoerant nr 47300 bepaal soos op 14 Oktober 2022 gepubliseer.

Hierdie heffings word elke jaar met sowat 5% verhoog, wat beswaarlik die inflasiekoers dek. Vir die volgende jaar word die heffings soos volg bereken:

  • Bees R14,33 per kop (BTW uitgesluit).
  • Skaap en bok R2,79 per kop (BTW uitgesluit).

Die heffings is soos volg, volgens die Staatskoerant, bepaal:

Tabel 1: Heffing en aanpassing

 2022/20232023/20242024/20252025/2026
5(1)(a)R13,00R13,65R14,33R15,05
5(1)(b)R13,00R13,65R14,33R15,05
5(2)(a)R2,53R2,66R2,79R2,93
5(2)(b)R2,53R2,66R2,79R2,93

In die geval van varke is die heffing vir die volgende jaar R15,51 per kop (BTW uitgesluit). Die heffings is volgens die Staatskoerant soos volg bepaal:

Tabel 2: Heffing en aanpassing vir varke

 Varke by abattoir geslag (BTW uitgesluitVarke lewend uitgevoer (BTW uitgesluit)
Van 1 November 2022 tot 31 Oktober 2023R14,08R14,08
Van 1 November 2023 tot 31 Oktober 2024R14,78R14,78
Van 1 November 2024 tot 31 Oktober 2025R15,51R15,51

Waarvoor word statutêre heffings aangewend?

By navraag het Corine Steyn, maatskappysekretaris en bestuurder, skakeling van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) verduidelik dat statutêre heffings binne die raamwerk van die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte 1996 (Wet 47 van 1966) ingestel is, en hierdie geld mag slegs vir die volgende funksies in belang van die bedryf aangewend word:

  • Verbruikersekuriteit (voedselveiligheid).
  • Verbruikerskommunikasie en -opvoeding.
  • Navorsing en ontwikkeling.
  • Bedryfskakeling.
  • Ontwikkeling van die opkomende sektor.
  • Produksie-ontwikkeling en bedryfsprojekte.

Hierdie geld word dus gebruik om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker én om te verseker dat die produk wat aan verbruikers gelewer word, van ’n hoë standaard is.

Waarvoor word statutêre heffings nie gebruik nie?

Corine beklemtoon dat, ingevolge die bepalings van die Bemarkingswet geen organisatoriese funksies van enige organisasie binne die waardeketting uit die statutêre heffings befonds mag word nie.

Organisasies soos die RPO het ’n moniteringsfunksie om toe te sien dat hierdie statutêre heffings korrek aangewend word. Indien primêre produsente, wat die grootste bydrae tot die statutêre fonds maak, nie die RPO bemagtig om hierdie moniteringsfunksie toe te pas nie, sal die produsent ook sy seggenskap oor die omvang en aanwending van statutêre heffing verloor.

Statutêre heffing teenoor vrywillige bydrae

Sy sê daar moet ’n onderskeid getref word tussen die statutêre heffings en die vrywillige bydrae wat die produsente maak. Die vrywillige bydrae word aangewend vir organisatoriese en administratiewe funksies soos:

  • Administrasie van die nasionale en provinsiale kantoor.
  • Radio- en TV-onderhoude.
  • Bemarking van rooivleis op plaaslike vlak.
  • Produsenteskakeling by wyse van inligtingsdae, kongresse, SMS-boodskappe; webtuiste-inligting, brosjures, tydskrifte en elektroniese nuusbriewe.
  • Beïnvloeding van beleid by die provinsiale en nasionale regerings.
  • Skakeling met departemente en veterinêre dienste oor kwessies soos grens- en siektebeheer.
  • Opleiding van produsente en hul werkers.
  • Finansiering van relevante navorsingsprojekte.
  • Die bedryf van die nasionale en provinsiale veediefstalforums.
  • Verbruikerskakeling.

Koos du Pisanie, Plaas Media

Must Read

LandbouRadio: 10 Maart 2025

In vandag se LandbouRadio: Monique Vlok van die Sandveld Aartappelkwekersorganisasie praat oor die streek se bydrae tot aartappelproduksie in die land. Gjalt Hooghiemstra van Subtropico-markagente praat...