Estimated reading time: 5 minutes
- Regsdispute tussen bure het, danksy CJ Langenhoven se boek met dieselfde titel, algemeen geraak en staan vandag bekend as ‘sonde met die bure’.
- Hierdie ingewikkelde nadraai van sake tussen bure het die howe selfs al gedwing om, vir toekomstige verwysing, te waarsku dat dispute tussen bure liefs onderling opgelos moet word en dat die howe die heel laaste uitweg behoort te wees.
- Geskille tussen bure ontstaan wanneer eiendomsregte uitgeoefen word en dit bepaalde nadelige gevolge vir aangrensende eienaars (bure) tot gevolg het.
- Die hof sal net inmeng waar optrede onredelik is.
- Gegewe die genoemde en veral die feit dat geen enkele antwoord bestaan vir elke saak wat voor die howe kom nie, word sterk aanbeveel dat geskille tussen bure eerder onderling opgelos word.
Regsdispute tussen bure het, danksy CJ Langenhoven se boek met dieselfde titel, algemeen geraak en staan vandag bekend as ‘sonde met die bure’.
In die landbou-omgewing en selfs in stedelike gebiede moes die howe telkemale al probeer om reg te laat geskied onder hierdie ingewikkelde omstandighede – ingewikkeld omdat die beregting van enige saak tussen bure nooit die finale sê is in ’n verhouding wat bly voortbestaan nadat een party die oorwinnaar en die ander die verloorder is nie.
Hierdie ingewikkelde nadraai van sake tussen bure het die howe selfs al gedwing om, vir toekomstige verwysing, te waarsku dat dispute tussen bure liefs onderling opgelos moet word en dat die howe die heel laaste uitweg behoort te wees. Tog sal nog talle duur hofsake in ons howe beland.
Baas van jou eie plaas
Eiendomsreg is een van die mees omvangryke regte wat iemand ten opsigte van ’n saak (eiendom) kan uitoefen. Hierdie reg sluit ander persone wat nie ’n reg tot dieselfde saak of eiendom het nie uit. Dit word na verwys as die begeerte van elke eienaar om baas van sy eie plaas te wees.
Geskille tussen bure ontstaan wanneer eiendomsregte uitgeoefen word en dit bepaalde nadelige gevolge vir aangrensende eienaars (bure) tot gevolg het. Indien hierdie geskille ontstaan, kan grondeienaars se optrede op hul grond ingeperk word kragtens spesifieke wetgewing wat die uitoefening van regte op grond reguleer. Anders gestel, kan die howe, met verwysing na historiese regspraak, vasstel of ‘n bepaalde optrede redelik is.
Die howe sal dus, in die afwesigheid van regulering deur spesifieke wetgewing, die perke bepaal waarbinne die optrede en uitoefening van ’n eienaar se regte op een stuk grond, die regte van ’n aangrensende eienaar aantas. Indien bevind word dat hierdie perke oorskry word, sal die benadeelde persoon geregtig wees om regshulp van die hof te vra.
Lees meer oor Die hof se bevoegdheid om deliktuele eise te bereg.
In die uitspraak PGB Boerderybeleggings en ’n ander vs Somerville en ’n ander (Saaknommer 36/07) het die Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika bevind dat inmenging met die eiendomsregte van ‘n ander persoon nie as ’n las beskou kan word tensy dit onredelik is nie. Inmenging kan net onredelik wees sodra dit die verwagte optrede onder die betrokke omstandighede oorskry. Dit is ’n tipe inmenging wat nie verdra hoef te word in ‘n veronderstelde omgewing van gee-en-neem of leef-en-laat-leef nie.
Om te bepaal of sodanige inmenging die perke van verwagte verdraagsaamheid oorskry, moet bepaal word wat onder die betrokke omstandighede redelik is of nie. Die kriteria wat hier geld is nie dié van ‘n redelike persoon nie, maar eerder ‘n objektiewe evaluering van die omstandighede en milieu waarbinne die steurnis voorgekom het. Die doel van die evaluering is om vas te stel of dit regverdig of gepas was om van die klaer te verwag om die inmenging te verdra, of van die oortreder vereis moet word om die aksies wat tot die skade of ergernis gelei het, te moet staak. Dit word basies bepaal deur die erns van die skade te vergelyk met die optrede wat tot die skade gelei het.
Uit hierdie maatstaf kan die volgende afgelei en oorweeg word by ’n geskil tussen bure:
- Die hof sal net inmeng waar optrede onredelik is.
- Optrede sal as onredelik beskou word indien dit nie meer binne die perke is van wat onder die omstandighede tussen die bure verwag kan word nie en waar optrede nie meer verdra moet word op grond van die gee-en-neem en leef-en-laat-leef beginsels nie.
- Die howe sal objektief en op grond van elke saak se omstandighede bepaal watter optrede redelik en onredelik is.
- Die hof sal enige benadeling opweeg teen die waarde van die uitoefening van ’n reg wat die benadeling veroorsaak.
Die howe sal in die beoordeling van so ’n geskil ook nie tot die redding kom van iemand wat onnodig sensitief of onredelik is nie. In die saak van Vogel vs Crewe en ’n ander [2004] 1 All SA 587 (T) het die Hoë Hof bepaal dat die oorlas of benadeling wesenlik moet wees om in te gryp. Vir die hof om in te gryp, kan die klaer se reaksie nie op vergesogtheid, puntenerigheid of fyngevoeligheid gebaseer wees nie. Dit kan ook nie gebaseer wees op blote ongerief vir iemand met ‘n verfynde leefstyl nie. Normale, nugtere en eenvoudige denke moet geld.
Gegewe die genoemde en veral die feit dat geen enkele antwoord bestaan vir elke saak wat voor die howe kom nie, word sterk aanbeveel dat geskille tussen bure eerder onderling opgelos word.
Vir meer inligting, kontak die outeur by hj@mmlaw.co.za of skakel 033 032 0241. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf