Friday, December 13, 2024

’n Belegging in prestasietoetsing verseker volhoubare kuddeverbetering

Estimated reading time: 4 minutes

Diere se prestasie word bepaal deur hul genetiese samestelling sowel as deur die omgewing waarin hulle groei en produseer. Albei faktore moet geskik wees om goeie prestasie te verseker.

Die omgewing en bestuur waaraan diere blootgestel is, verander dwarsdeur hul produktiewe lewens. Hul genetiese potensiaal, wat deur die ouers bepaal word, bly egter dieselfde. Die genetiese bydrae van ’n dier tot sy prestasie is uiters belangrik en die enigste invloed wat ’n dier op sy nageslag kan hê, is deur die oordrag van gene.

Deur ’n dier te selekteer bloot op grond van hoe hy lyk, lewer onvoorspelbare resultate. Die enigste manier om diere objektief te evalueer, is om van prestasiemeting gebruik te maak. 

Wanneer ramme op veilings oorweeg word met die doel om vinnig-groeiende nageslag in ’n kudde te teel, kan die grootste ram moontlik die beste gene vir groeivermoë dra. Die ram kan egter ook bloot die besgevoerde of oudste ram op die veiling wees.

Genetiese waarde

Wanneer ramme vir die verbetering van maternale eienskappe oorweeg word, byvoorbeeld hul vermoë om meerlinge te teel, of vir die teling van dogters met goeie moedereienskappe, gaan visuele beoordeling van die ram nie die nodige inligting verskaf nie. Daarom is prestasietoetsskemas en veldramprojekte ontwikkel om die identifisering van meerderwaardige genetika te vergemaklik.

Genetiese waardes word uit inligting vanuit hierdie skemas beraam. Dit is ’n onsydige evaluering van die genetiese potensiaal van ’n dier, met inagneming van nie-genetiese invloede op prestasie, soos ouderdom, grootmaakstatus en bestuurs- of omgewingsfaktore.

Lees meer oor hoe goeie genetika en veldtoetse winsmakers skep hier.

Genetiese waardes dui aan waar op die ras se ranglys ’n dier geneties vir spesifieke, ekonomies-belangrike eienskappe geplaas word. Hierdie inligting help kopers om ramme te selekteer op grond van hul teelpotensiaal; met ander woorde, die potensiële effek wat hulle op die volgende generasie gaan hê. ‘Mooi’ ramme is gewoonlik goeie groeiers, maar sal nie noodwendig vrugbare dogters teel nie. 

Die LMI, of Logix meriete-indeks, balanseer genetiese verbetering oor ’n reeks produksie- en reproduksie-eienskappe, geweeg volgens hul relatiewe belangrikheid in die ras se teeldoelwit. Verder help LMI-gebaseerde seleksie om antagonistiese verwantskappe tussen eienskappe te oorkom, deurdat diere geïdentifiseer kan word wat goed in albei eienskappe presteer, ongeag die ongewenste verwantskappe wat dalk bestaan.

Lammergetalle tel

’n Ram met goeie genetiese meriete is belangrik, maar ’n ram moet darem ook hard kan werk tydens die teelseisoen en vir minstens ’n paar seisoene gebruik kan word. ’n Ram wat funksionele probleme het, sal waarskynlik net ’n kort rukkie hou en minder ooie per seisoen dek. Die hoeveelheid lammers wat ’n ram in sy leeftyd produseer, bepaal die wins wat hy vir sy eienaar in die sak bring.

Oorvet ramme hou gewoonlik nie langer as twee seisoene nie, wat beteken hul koste per lam gebore is baie hoër as ’n fikse ram wat meer ooie per seisoen dek en langer in die kudde bly. Wees dus versigtig vir oorvet ramme en gebruik die LMI om te bepaal hoe die ram geneties teen die res van die ras opweeg en jou kudde kan verbeter.

Om te verseker dat diere voortdurend verbeter en aan hul spesifieke raskenmerke en doelstellings voldoen, is dit noodsaaklik om prestasiemeting te gebruik in enige seleksieproses en by die aankoop van ramme. Die belangrikste eienskappe, naamlik groei, vrugbaarheid en doeltreffendheid, kan jy alleenlik deur prestasietoetsing bepaal. Daarom is meting van die onsigbare eienskappe en gebruik van BLUP (best linear unbiased prediction) uiters belangrik. Dit bied ’n beraamde teelwaarde wat voorspel hoe die dier se nageslag gaan produseer en reproduseer.

Akkurate teelwaardes

Teelwaardes is die akkuraatste inligting waarmee diere geselekteer kan word. Die voorspelling van teelwaardes rus op drie bene: metings, stamboom-inligting en genetiese parameters soos oorerfbaarheid en genetiese korrelasies tussen eienskappe.

Die Noord-Kaap Veldramprojek en prestasietoetsing is die pad na die toekoms. Die produk is ’n aangepaste, veldgetoetste en funksionele dier wat onder verskillende klimaats- en omgewingstoestande kan produseer en reproduseer.

Wêreldwyd word prestasiedata vandag gebruik om winsgewendheid te verhoog. Om te meet is inderdaad om te weet. Die 39ste Noord-Kaap Veldramveiling word op 11 September om 11:00 by Griekwastad se skouterrein aangebied en beloof prestasiegetoetse diere wat jou kudde kan bevoordeel. – HG Human

Vir meer inligting, kontak HG Human by 078 639 2216 of epos hoekplaas@gmail.com.

Must read

Hoogte- en laagtepunte – dié week op Plaas TV

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Agri Fertilizers & Chemicals het onlangs ‘n dag in Groblersdal aangebied wat hoofsaaklik op...

Dam owners must register safety risk dams by 60-day deadline

Estimated reading time: 3 minutes Minister Pemmy Majodina of the Department of Water and Sanitation has issued an urgent directive for dam owners to register their properties posing a safety risk. This notice, published in...

Avoiding panic keeps potato prices affordable

Estimated reading time: 3 minutes South Africans can look forward to a stable, affordable supply of potatoes over the festive season. After a year of tumultuous weather that resulted in supply constraints and high prices...

Landboumarkte: November 2024

Estimated reading time: 3 minutes Die rand het gedurende November weereens ‘n stabiele maand teenoor die euro ervaar, maar het verswak teenoor die dollar. Die rand het gedurende November teen R18,06 teenoor die Amerikaanse dollar...
meteorology water meter rain gauge

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou. Luister nou na hierdie week se weerverslag soos op 12...