Thursday, December 12, 2024

Veediefstal en die afwesigheid van die geskikte beskermer

Estimated reading time: 6 minutes

  • Hierdie artikel fokus op die landbouer as ‘n geskikte beskermer en hoe die rol kan help om veediefstal te bekamp.
  • Die geskikte beskermer wat die sentrale element van die teorie van roetine-aktiwiteite is, dra by tot misdaadvoorkoming deur die kriminele gebeurtenis (veediefstal) direk of indirek te ontwrig, en deur die interaksie tussen ’n gemotiveerde oortreder en ’n geskikte objek te belemmer.
  • Ons onderskei tussen primêre en sekondêre beskerming wat uit vyf hoofkategorieë bestaan (Tabel 1). Elke kategorie het vyf onderafdelings van misdaadvoorkoming.
  • Die enigste wettige maniere om vee in Suid-Afrika te merk, is met ’n brand- of ’n tatoeëermerk. Enige ander metode, soos oorplaatjies, halsbande, en dies meer, is nie ’n wettige merk nie.
  • Die verantwoordelikheid om veediefstal te voorkom val nie net op die individuele boer se skouers nie – die hele gemeenskap moet aktiewe beskermers wees.

Vorige artikels in hierdie reeks het gehandel oor die objek in veediefstal en die gemotiveerde oortreder. In hierdie aflewering is die fokus op die landbouer self as ’n geskikte beskermer. Landbouers beoefen ’n beroep wat deur die meeste mense beny word, maar die werklikheid is heel waarskynlik nie altyd so rooskleurig nie.

Om ’n landbouer te wees, verg ’n unieke mens met uiteenlopende vaardighede om suksesvol te wees – polisieman, verkeersbeampte, prokureur, ambulansbestuurder, gifkenner, huweliksberader, om maar ‘n paar te noem. Die feit dat dit so uiteenlopend is maak dit lekker, maar die teendeel is ook waar. Dink maar aan die vrees en skok as jou instink jou vertel hier is diere weg en jy die slagoffer van veediefstal is.

Op daardie oomblik is jy nie meer ’n landbouer nie; jou sintuie verander jou in ’n speurder, ondersoekbeampte en alles wat jy nie graag wil wees nie. Hierdie opsomming gee aan ons ’n belangrike blik op die verantwoordelikheid van die landbouer as ’n beskermer van dit wat aan hom/haar toevertrou is.

Lees meer oor die statistiek rondom veediefstal hier.

Die geskikte beskermer wat die sentrale element van die teorie van roetine-aktiwiteite is, dra by tot misdaadvoorkoming deur die kriminele gebeurtenis (veediefstal) direk of indirek te ontwrig, en deur die interaksie tussen ’n gemotiveerde oortreder en ’n geskikte objek te belemmer.

Die omskrywing van die geskikte beskermer word nie omvattend verstaan nie, maar behels die fisiese teenwoordigheid van geskikte persone, in die daaglikse lewe, wat dit moeiliker maak vir oortreders om ’n misdaad te pleeg (net soos die afwesigheid van die geskikte beskermer dit makliker maak).

’n Voorbeeld van ’n geskikte beskermer wat redelik algemeen is, is die moederfiguur in ‘n normale gesin. Die essensie is die teenwoordigheid van ’n menslike element om as ’n beskermer te kwalifiseer. Hierdie is een voorbeeld van die geskikte beskermer se vele waarneembare dimensies, aangesien die beskikbaarheid en teenwoordigheid van ’n geskikte beskermer nie outomaties omskep word in aktiewe toesig nie.

In die landbou-omgewing is dit duidelik, omdat ’n boer teenwoordig kan wees by die boerderybedrywighede. Boerderytipe, ’n uitdagende terrein en topografie, die ligging van die plaashuis in verhouding tot die posisie van die diere en die afstand tussen kampe, is egter veranderlikes en daarom kan hy/sy nie oral op dieselfde tyd wees nie.

Die uitbreiding van boerderye oor groter afstande versterk hierdie dilemma verder. Aktiewe toesig is dus dikwels nie ’n opsie nie. In die voorafgaande is dit duidelik dat mense deur mense verhoed word om misdaad te pleeg, maar dit is nie altyd moontlik nie. Dus moet ons kyk na daardie aksies wat die landbouer kan onderneem om veediefstal as ‘n beskermer te verhoed.

Veediefstalvoorkoming

Ons onderskei tussen primêre en sekondêre beskerming wat uit vyf hoofkategorieë bestaan (Tabel 1). Elke kategorie het vyf onderafdelings van misdaadvoorkoming. Die elemente aangedui onder elke onderafdeling is nie uitgeput nie en u kan u eie byvoeg waar nodig.

Tabel 1: Situasionele veediefstalvoorkomingstegnieke.

Maak dit moeilik om te steelVerhoog die risikoVerminder moontlike monetêre voordele van misdaadVerminder provokasieVerminder verskonings
Teikenverharding Merk diere reg.Voltooi identifikasie- en vervoerdokumente.Waar moontlik, gebruik verskuifbare/verwyderbare veehanteringskrale.Verhoog voogdyskap/menslike teenwoordigheid Verminder misdaadgeleenthede. Sigbaarheid is belangrik.Versteek moontlike teikens Dit is moeilik en spesie-spesifiek. Boerderytipe speel ‘n rol, byvoorbeeld intensief versus ekstensief.Verminder frustrasie en stres Veediefstal is nie ’n openbare geleentheid nie, so hierdie is nie van toepassing nie.Verseker volhoubare reёls Diere-identifikasiewetgewing.Polisieer ‘n naspeurbaarheidstelsel. Bewegingsbeheerreёls. Registrasie van agente en afslaers.
Toegangsbeheer Sluit alle hekke en kampe.Krale nie naby paaie nie.Ondersteun natuurlike observasie Beloon informante.Rapporteer misdaad. Bewegingskameras.Geslotebaan-TV. Observasietoerusting soos nekbande.Verwyder teikens Diere moenie naby paaie wei in tye van verhoogde veediefstal nie.Vermy dispute Veediefstal is nie ’n openbare geleentheid nie, so hierdie is nie van toepassing nie.Vertoon instruksies Druk en versprei Artikel 6- en 8-dokumente aan produsente.
Beheer uitgange Voltooi Artikel 8-dokumente voor voertuie die plaas verlaat.Verminder moontlikheid van anonimiteit Geen beweging van diere sonder persoon se ID-dokument of bestuurslisensie nie.Identifiseer eiendom Merk alle diere. Merk alle eiendom.Oorweeg elektroniese oorplaatjies.Verminder geleentheid om te steel Moenie rondlopers toelaat nie.Bevorder nakoming Kennisgewingborde “Veediefstal sal nie geduld word nie”, op strategiese punte en nasionale roetes. Kennisgewingborde oor kameramonitering.
Deflekteer die oortreder Padblokkades.Spesiale operasies met strafregstelsel.Breek ongebruikte krale en geboue, asook murasies af.Gebruik plekbestuurders Werkers/bestuurders moet ’n waarnemingsrol vertolk.Gebruik werkers vir nagdiens.Natuurlike beskermers soos volstruise.Ontwrig markte Besoek veilings op veilingsdae.Besoek abattoirs.  Neutraliseer groepsdruk As georganiseerde misdaad is dit moeilik om groepsdruk te verminder.Speel op mense se gewete Bied insentiewe om te verseker dat wetgewing nagekom word.
Beheer gereedskap/vuurwapens Streng beheer oor vervaardiging/verkoop van brand-/tatoeëertoerusting.Verbeter formele waarnemings Tel diere gereeld. Formele observasie deur plaaswagte, polisie,veiligheidswagte.Verhinder voordele van misdaad Vestig goeie verhoudings met abattoirs en veilings.Ontmoedig nabootsing Drade en hekke moet altyd in ‘n goeie toestand wees. Skarniere moenie verwyderbaar wees nie.Beheer drank en dwelms Drankverkope/gebruik op veilingsterreine moet ten sterkste afgekeur word.

Maak dit moeilik om die diere te steel. Die mense wat in 1923 die eerste veediefstalwet in Suid Afrika geskryf het, asook ordonnansies in die ou kolonies en boererepublieke in die 1800’s, het toe al aangedui dat diere gemerk moet wees – dit word beskou as die eerste manier om ’n teiken moeiliker te maak.

Die enigste wettige maniere om vee in Suid-Afrika te merk, is met ’n brand- of ’n tatoeëermerk. Enige ander metode, soos oorplaatjies, halsbande, en dies meer, is nie ’n wettige merk nie. Hoewel al hierdie identifikasiemetodes weliswaar die teiken moeiliker maak, is dit nie wettig nie en skep dus probleme met die bewyslas vir die aanklaer, en oortreders besef dit. In opnames wat in 2012 gedoen is, is bepaal dat 87% van gesteelde vee nie gemerk was nie. Dit is sekerlik die beste aanduiding dat, naas menslike teenwoordigheid, die bemoeiliking van die teiken een van die belangrikste hulpmiddels vir die landbouer is.

Die verantwoordelikheid om veediefstal te voorkom val nie net op die individuele boer se skouers nie – die hele gemeenskap moet aktiewe beskermers wees. In hierdie aflewering het ons slegs gekyk na primêre beskerming wat binne die landbouer en sy/haar gemeenskap gesetel is. In die volgende aflewering kyk ons na die verantwoordelikhede van sekondêre beskermers soos veilings, abattoirs en daarna die polisie en sekuriteitsgemeenskap. – Willie Clack, senior lektor, Skool vir Strafregspleging, Unisa

Popular stories