Estimated reading time: 7 minutes
- Die doel van aanplanting van mielies op veeplase het oor tyd ontwikkel na hoofsaaklik twee mikpunte, naamlik graanproduksie vir eie gebruik of vir kuilvoermaak.
- Wat ook al die doel van ‘n mielie-aanplanting is, is daar ’n paar basiese beginsels wat geld vir suksesvolle produksie.
- Dit is uiters belangrik dat produsente heel eerste ’n kultivar sal kies wat gepas is vir sy betrokke streek.
- As kuilvoer die mikpunt is, speel die groeilengte van die kultivar ’n belangrike rol.
- Weimielies is ’n uitstekende alternatief vir winterkleingraanweidings wat van wispelturige winterreënval afhanklik is, of waar besproeide weidings nie ’n opsie is nie.
Die doel van aanplanting van mielies op veeplase het oor tyd ontwikkel na hoofsaaklik twee mikpunte, naamlik graanproduksie vir eie gebruik of vir kuilvoermaak. ’n Derde mikpunt, naamlik weimielies, het tot ’n groot mate verdwyn en min produsente plant vir hierdie rede nog mielies.
Wat ook al die doel van ‘n mielie-aanplanting is, is daar ’n paar basiese beginsels wat geld vir suksesvolle produksie. Die eerste hiervan, sê De Bruyn Myburgh, Pioneer se landboukundige in die KwaZulu-Natal-streek, is kultivarkeuse.
Kies die regte kultivar
“Dit is uiters belangrik dat produsente heel eerste ’n kultivar sal kies wat gepas is vir sy betrokke streek,” sê hy, “want produksie-omstandighede verskil soos dag en nag in verskillende dele van die land.”
Die oostelike dele van die land ontvang heelwat meer reën as die westelike dele. Daarom is daar verskille in rywydtes en plantpopulasies. Plantpopulasies in die westelike somerreënvalgebied is baie laer per hektaar as die oostelike reënvalgebiede.
Weens die laer plantpopulasies word groter klem daarop geplaas om meer koppe per plant te produseer; met ander woorde, die plante se meerkoppigheidsindeks moet groot wees of daar moet meer as een kop per plant wees. Aan die ander kant, in die oostelike dele, word hoër plantpopulasies geplant en die plante moet swaarder kopgewigte (graan per plant) hê om by die graanpotensiaal van die area te hou.
As kuilvoer die mikpunt is, speel die groeilengte van die kultivar ’n belangrike rol. Die produsent se praktykbehoefte beïnvloed die keuse. Sommige praktyke vereis dat die kultivar vinnig moet groei weens ’n opvolgvoergewas wat direk ná die oes van die kuilvoer gevestig moet word. Ander praktyke vereis nie daardie voorkeur nie. Weereens is daar ’n kultivarkeuse wat die produsent moet maak om die regte kultivar vir sy produksie-area te kies: ’n westelike teenoor ’n oostelike produksie-area.
Wanneer mikotoksiensensitiwiteit ter sprake kom, kan kultivarkeuses ook op grond van beide graan en kuilvoer gemaak word. “Mikotoksiene word geassosieer met Fusarium-swam en graanvrot wat veral vir enkelmaagdiere negatiewe gevolge kan inhou. Hoewel herkouers minder sensitief vir mikotoksiene is, kan dit ’n groot negatiewe invloed op produksie hê. Dit is iets wat noukeurig bestuur moet word.
“By kultivarkeuse is dit belangrik dat produsente kultivars oorweeg wat algemeen goed presteer in proewe in hulle spesifieke streek. Steek dus kers op by suksesvolle produsente in jou streek.”
Lees meer oor die riglyne vir weimielies hier.
Die regte kultivars vir kuilvoer
Kuilvoerkultivars moet groot volumes van goeie gehalte produseer. Goeie gehalte kuilvoer het ’n positiewe invloed op die produksie van diere en groot volumes kan die produsent vir ’n langer tydperk dra. Die volume of bulk-vermoë van kuilvoer word sterk gedryf deur die kopmassa van die genetika.
“Uit proewe is gesien dat die kopmassa byna 50% tot die volume bydra. Wat verskillende groeilengtes by kultivars betref, het proewe gewys dat dit kultivars vanuit ’n kwaliteits- en volume-oogpunt beïnvloed. ’n Goeie aanbeveling op grond van proefresultate moet dus die produsent se keuse lei.”
Ander parameters by kuilvoerkultivars kan wissel na gelang van die spesifieke behoeftes van die produsent. Party produsente is sterk gefokus op volume en nie soseer gehalte nie; ander fokus weer sterk op gehalte. As ’n produsent oor die nodige graan- en proteïenhulpbronne beskik, sal hy waarskynlik meer op volume fokus en die meng van die rantsoen dan sodanig bestuur dat dit wat aan sy diere gebied word, optimaal gebalanseerd is.
“Daar is egter basiese riglyne wat help om te bepaal of die gehalte van kuilvoer goed is. Die kuilvoer moet eerstens teen die regte droëmateriaal (DM)-vlak gesny word. Tweedens is die kultivar se styselpersentasie van belang, aangesien daar ’n korrelasie tussen styselpersentasie en produksiepotensiaal van gemaakte kuilvoer is.
’n Goeie maatstaf vir styselpersentasie in kuilvoer is tussen 35 en 38%, sê Myburgh. “As die energievlakke na 40% of hoër begin neig, word die kuilvoer as hoë-energieryke kuilvoer beskou. Dit kan potensiële metaboliese steurnisse soos suurpens (asidose) by vee veroorsaak.” Daar is ’n plek vir hierdie tipe kuilvoer, maar dit moet reg bestuur word wanneer dit by die rantsoen ingesluit word.
Snytyd en berging
“Dit is baie belangrik dat kuilvoer gesny word wanneer die DM optimaal is, omdat dit tot goeie preserveringsvlakke aanleiding gee. Proewe het gewys dat die optimale snytyd tussen 35 en 40% DM is.
Kuilvoer is tradisioneel op twee maniere geberg, naamlik bunkers in die grond en hope op die grond wat met plastiekseile toegemaak word. ’n Dekade of drie gelede het kuilvoersakke die land binnegekom en word ook met groot sukses gebruik. Die mees onlangse bergingsmetode, sê hy, is ronde bale wat in plastiek toegerol word.
Die bergingsmetode wat gekies word moet goed verstaan word, omdat dit ’n sterk drywer in goeie kwaliteit kuilvoer is.
“Die toerol van bale in plastiek is ’n ou tegniek vir grasbale, maar die toerol van gekerfde mielies is relatief nuut. Met die regte masjienerie is hierdie ’n baie handige metode, omdat die verliese in hierdie stelsel ook potensieel heelwat minder is.”
Weimielies as alternatief
Weimielies is ’n uitstekende alternatief vir winterkleingraanweidings wat van wispelturige winterreënval afhanklik is, of waar besproeide weidings nie ’n opsie is nie. Dit kan alleen of aanvullend tot ander winterweidings of oesreste gebruik word, en kan ook vir oorbrugging later in die winter aangewend word.
Volgens dr Erika van Zyl, ’n weidings- en veldspesialis by die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in KwaZulu-Natal se Dundee-navorsingstasie, kan weimielies die wintergaping in ’n voervloeiprogram met groot sukses vanaf herfs, nadat die mielies ryp is, tot en met die eerste reën in die lente oorbrug, afhangend van die hoeveelhede wat beskikbaar is.
Dit is moontlik om reeds vóór die winter ’n betroubare beraming van die hoeveelheid voer wat beskikbaar is, te maak. Met die hoë drakrag van weimielies kan baie diere op ’n beperkte oppervlakte aangehou word, wat natuurlik ook sekuriteitsvoordele inhou.
Die drakrag van weimielies word deur graanopbrengs bepaal. Vir elke een ton graan is daar 1 000 kleinvee-eenheid (KVE)-weidae (45 tot 50kg skaap) – maak dus voorsiening vir ’n inname van 1kg mielies per skaap per dag.
Met ’n graanopbrengs van byvoorbeeld vyf ton/ha is die drakrag ongeveer 55 skape/ha vir 90 dae. Die drakrag kan verhoog word deur spaarveld aangrensend te laat bewei. Hierdie praktyk verhoog nie net die drakrag van weimielies nie, maar voorsien ook bykomende ruvesel om suurpens te beperk.
’n Voerkraal op die land
Weimielies is eintlik in wese ’n laekoste voerkraal. Mielies, die belangrikste energiebron vir afronding, word net so op die land gelaat vir die vee om op te wei. Geen stroop-, wegry-, opberg- of terugvoerkoste is nodig nie. Verder is geen maal- en mengkoste nodig nie, en ook nie voerkraalfasiliteite nie.
’n Geskikte lek met die nodige proteïene, minerale, spoorminerale en medisyne om suurpens en die vorming van blaasstene te voorkom, is noodsaaklik.
Die oorwintering van lammerooie op weimielies het nie net goeie melkproduksie tot gevolg nie, maar help ook dat die ooie die weiding ná speen in ’n goeie kondisie verlaat. Dit is hoogs bevorderlik vir ’n suksesvolle volgende teelseisoen.
Leer hier van die vereistes van ‘n voerkraal op jou veeplaas hier.
Kultivars vir weimielies
’n Hoë-opbrengs mieliekultivar en die toepassing van dieselfde bewerkings- en bemestingpraktyke as vir graanproduksie, word aanbeveel. Die kultivar wat normaalweg in ’n gebied vir graan en kuilvoer aanbeveel word, sal ’n goeie keuse vir weimieliedoeleindes wees. Oor die mediumtermyn, sê dr Van Zyl, moet gewasrotasie op sulke landerye oorweeg word, want intensiewe beweiding met baie diere daarop, kan moontlike grondverdigting veroorsaak. – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak De Bruyn Myburgh by 082 698 8117 of dr Erika van Zyl by 082 321 3960.