Estimated reading time: 6 minutes

Yusuf Ravat het ’n passie vir data. Dit help hom om sy drie stoeterye optimaal te bestuur en die akkuraatheidsvlak van sy kuddes se genetiese teelwaardes te verhoog.

Hy het sy werkers spesiaal laat oplei om daagliks elke dier op die plaas noukeurig dop te hou en alle besonderhede wat nodig is, aan te teken. Met die hulp van SA Stamboek word die data verwerk en noulettend toegepas om sy teeldoelwit na te jaag en uitmuntende diere te teel.

’n Familie van besielde boere

Sy oupagrootjie het vroeg in die vorige eeu na Suid-Afrika gekom en ’n sakeonderneming in die destydse Nylstroom gevestig. Hy was goed bevriend met die Afrikaanse digter, Eugene Marais, en in die Waterberge het hulle saam hul stokperdjie beoefen, wat Marais laat dig en sy oupagrootjie in tale laat spreek het, skerts Yusuf.

Sy voorouers het uit ’n boeregemeenskap in ’n streek baie soortgelyk aan die Waterberg gekom. Sy oupa het sy liefde vir boerdery op huurgrond in die Waterberg-gebied beoefen, terwyl hy ook ander produsente se produkte gekoop en in die stede gaan smous het. Sy pa, Sadek, het die sakebedrywighede uitgebrei.

’n Passie vir data laat die Yari-stoeterye gedy
Yusuf Ravat by die elektroniese skaal wat aan sy rekenaar gekoppel is, terwyl hulle verse in die plaasgroeitoets weeg.

Dié boerderybloed het van jongs af in Yusuf se are gevloei. Hy was in die Settlers-landbouskool voor hy bestuurswese gaan studeer het. Hy het tien jaar as polisieman (forensiese ondersoeke en bomopruiming) gewerk en daarna mynbou-ingenieurswese gestudeer. Dit alles het sy belangstelling in die insameling, verwerking en verifikasie van data bevredig en sy vaardigheid daarmee verbeter.

Vandag boer hy op 240ha tussen Modimolle en Vaalwater met sy Yari Hugenoot-, Dorper- en Boerbokstoeterye. Hy het dié drie rasse gekies, sê hy, omdat hy lief is vir Suid-Afrika.

Wetenskaplike teling en seleksie

Die meting en insameling van feite, asook die gebruik en evaluasie daarvan, word streng in die boerdery aangewend, met die hulp van Andries Riekert, SA Stamboek se tegniese raadgewer in die streek.

“Ons gebruik die beste tegnieke, genomiese ontledings en DNS-toetse in seleksie en telingsbesluite, om die kudde en ras te verbeter. Die oogmerk is om die wetenskap te gebruik om diere te teel wat oral in die land doeltreffend kan produseer en reproduseer,” sê Andries.

Die omgewing is van die strafste in die land en diere wat hier aangepas is, sal op enige plek floreer. Trouens, daar word vertel dat wanneer oud-president Paul Kruger een van sy Volksraadslede wou straf, hy hom Waterberge toe gestuur het om daar te boer, gesels Yusuf.

Hugenootbeeste is geharde diere wat goed reproduseer, aangepas is, goed groei, gehalte vleis produseer en ’n hoë uitslagpersentasie het. In hierdie omgewing moet diere loop én bergklim om kos te kry, en dié wat nie aangepas is en goeie loopvermoë het nie, sak gou uit.

Bestuur van groot- en kleinvee

Die beeste, skape en bokke loop elke dag minstens 3km om te gaan wei, met twee wagters per kudde. Die werkers is spesiaal vir hul werk opgelei en woon minstens een opleidingskursus en twee boeredae per jaar by om op hoogte van nuwe verwikkelinge en tegnieke te bly. Van hulle het al junior beoordelaarskursusse voltooi en is opgelei om dragtigheidsondersoeke en kunsmatige inseminasie te doen.

’n Passie vir data laat die Yari-stoeterye gedy
Yusuf (middel) het die toekenning van Elite Unieke Teler van die Jaar ontvang vir sy unieke bydrae tot die Hugenoot-beesras en die beesvleisbedryf. By hom is Schalk Greyling (links) en Andries Riekert (regs), beide van SA Stamboek.

In die veld hou hulle die diere dop en teken kondisie, gesondheid, onderhoud en so meer aan. Dié inligting word dan in ’n rekenaarprogram ingevoer om ontledings oor die diere te rugsteun.

Al die diere word saans gekraal en daar is drie redes hiervoor. Yusuf sê hy glo eerstens dat die diere nie groei as die boer nie tussen hulle loop nie. Só word diere se toestand elke dag gemonitor en kan vroegtydig opgetree word as iets skort.

Tweedens is roofdiere soos luiperds, rooikatte en jakkalse volop in die omgewing. Veral vervangingsdiere word daarom nie onthoring nie, sodat hulle hul kalwers teen roofdiere kan beskerm. Die derde rede is dat die diere, met gereelde hantering, rustig en gemaklik is wanneer met hulle gewerk word.

Omdat noukeurige rekords van elke dier gehou word, gebruik Yusuf nie ’n dekseisoen nie. Die bulle loop deur die jaar by die koeie, met een bul by sowat 35 koeie. Soos wat SA Stamboek maandeliks nuwe genomiese ontledings verskaf, skuif Yusuf van die koeie voortdurend na ander bulle, namate die ontledings nuwe rigtingwysers vir teelbesluite gee.

Met parings word gewaak dat inteling nie hoër as 6,25% styg nie en besluit hy watter bul en koei se ontledings die beste pas, sodat die beste eienskappe van elke dier benut word om genetiese vordering te versnel.

Bestuur van jong kalwers

Sowat twee weke voordat ’n koei moet kalf, word sy in die kraal gehou. Die kalwingsgemak word ook aangeteken. Nadat die kalf aangekom het, bly sy nog drie dae in die kraal om seker te maak die kalf suip sterk. Sy word dan na ’n kamp naby die krale geskuif, totdat die kalf ’n maand oud is, waarna hulle dan veld toe gaan en die kalf daagliks saam weidings toe moet loop.

Die kalwers word in groepe op ongeveer sewe maande oud gespeen. Al die verskalwers ondergaan ’n plaasgroeitoets en die bulkalwers gaan almal na die Bufland-toetssentrum naby Mookgopong, waar hul voerdoeltreffendheid onder meer gemeet word. Daarna word die bulle gekeur.

Enige dier wat in enige opsig te kort skiet, word geslag. Verse wat nie uitgeskot of as vervangingsverse gehou word nie, word aan kommersiële telers gebied of geslag. Verse wat behou word, word op 18 maande gedek en moet minstens 350kg weeg.

Yusuf sê die Yari Hugenootstoet, met nagenoeg 150 teelkoeie, is die enigste kudde van dié ras waarin alle diere genomies getoets en DNS-ontledings van elke dier gedoen word, waar alle verskalwers ’n plaasgroeitoets ondergaan en al die bulkalwers by ’n geregistreerde toetssentrum getoets word.

Die kleinveestoeterye

Die Yari Dorperstoet het sowat 300 teelooie, wat met tussenposes van sowat twee maande gesinkroniseer word, sodat lammers regdeur die jaar aankom en ooie drie keer in twee jaar lam. Die lammers word op drie maande gespeen, wanneer hulle gemiddeld 34kg weeg.

Lees van nog ‘n stoetboerdery.

Die skape word dieselfde as die beeskudde bestuur, deur wagters opgepas en saans gekraal. Die skape aard baie goed in die omgewing en Yusuf sê hulle gaan eers soggens ná tienuur veld toe, wanneer die dou afgedroog het. Haarwurms oorleef in die doudruppels en vandat hy dié aanpassing gemaak het, spaar hy sowat 80% op doseermiddels. Die Yari Boerbokstoet, met sowat 100 teelooie, word net soos die skape bestuur.

Die kleinvee is ’n waardevolle vertakking van die boerdery en sorg vir goeie kontantvloei, omdat diere elke twee maande bemark kan word.

In die Yari-stoeterye, sê Yusuf, is gehalte en akkurate syfers belangriker as getalle. Hy sorg dat inligting oor sy diere korrek is en streef daarna om die akkuraatheid van die genetiese syfers so hoog as moontlik te kry.

Vir meer inligting, kontak Yusuf Ravat by 082 569 7743 of yandaravatinvestments@gmail.com.

Brahman, Boer Goat, predasiebeheer
,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom