Estimated reading time: 6 minutes

Talle produsente in die Kalahari en die Noord-Kaap het die afgelope sewe jaar onder ’n erge droogte gebuk gegaan, en sommige was al op die punt om die handdoek in te gooi. Vanjaar het groot landbougebiede in die somer reën gekry, en verskeie plase kort voor die winter, wat die veld deur die wintermaande kon dra.

Read it in English.

Wanneer kom die reën?

Vir die volgende reënseisoen blyk daar ’n silwer randjie om die donker wolk te wees. Volgens Johan van den Berg, ’n weerkundige wat die wêreld van boerdery verstaan, wys aanduidings sedert verlede jaar daarop dat ons in ’n natter siklus inbeweeg. Hy sê die temperature in die Indiese oseaan het koeler begin raak en ons kan ’n La Niña-fase verwag, wat baie positief vir reënval in Suidelike-Afrika is.

Volgens Johan sal die reënval tussen Augustus en November vanjaar nog nie wonderwerke verrig nie, en kan ons effens ondergemiddelde reënval verwag, maar vanaf November behoort dit aansienlik te verbeter. In die somerreënvalstreke, waar sowat 70% van die jaarlikse reën tussen November en April val, word buitengewone goeie reën voorspel, hoewel die verspreiding oor tyd dikwels die landboutoestande bepaal.

Figuur 1 toon die waarskynlikheid dat die gemiddelde reënval tussen September en November 2021 oorskry sal word, en Figuur 2 die waarskynlikheid daarvan van Desember 2021 tot Januarie 2022.

Waarskynlikheid van bogemiddelde reënval: September tot November 2021. (Bron: Regering van Queensland, Australië en die Southern Queensland-universiteit, www.LongPaddock.qld.gov.au)
Figuur 2: Waarskynlikheid van bogemiddelde reënval: Desember 2021 tot Januarie 2022. (Bron: Regering van Queensland, Australië en die Southern Queensland-universiteit, www.LongPaddock.qld.gov.au)

Siklusse en klimaatsverandering

Die landboukundige dr Louis du Pisani het by geleentheid gesê produsente, veral dié wat in die droë streke met gereelde droogtes boer, behoort vir elke jaar te beplan asof daar ’n droogte gaan wees. Johan voeg by dat dit noodsaaklik is om kennis te neem van die natuur se siklusse en vroegtydig vir droogtes én nat jare te beplan.

Reënsiklusse en temperature loop hand aan hand. Oor die jare is bogemiddelde warm siklusse gereeld deur koue jare gevolg, en dit hou verband met die droogtes van die verlede. Aardverwarming is ’n werklikheid. Sedert die 1980’s het die aarde se temperature skerp begin styg en word beraam dat dit vandag meer as 1°C warmer is as ’n eeu gelede.

Klimaatsverandering kom egter op verskeie maniere tot uitdrukking. In die Noord-Kaap styg die dagtemperature oor tyd, maar die nag- of minimumtemperature toon ’n daling, veral in die wintermaande, met meer intense winters die afgelope dekade of meer. Die verskille tussen dag- en nagtemperature raak ál groter.

“Oor die afgelope 150 jaar het die planeet begin om hitte op te bou en sedert die 1980’s het oseane begin warmer raak. Dit veroorsaak dat siklone meer gereeld kan voorkom, veral naby die ewenaar,” sê hy.

Lengtes van droogtes en nat jare

Johan het die reënvalsyfers vir Askham in die Noord-Kaap bestudeer. Sedert 1915 moes produsente verskeie droogtes trotseer (Figuur 3). Hy het die volgende lengtes (duur) van droogtes aangeteken:

  • Een nege-jaar droogte (1959 tot 1967).
  • Twee agt-jaar droogtes (1926 tot 1933, 1981 tot 1988).
  • Een vyf-jaar droogte (1945 tot 1949).
  • Twee vier-jaar droogtes (1952 tot 1955, 1970 tot 1973).
  • Sewe twee-jaar droogtes.
  • Dertien een-jaar droogtes.

Die duur van die natter jare sedert 1915 is as volg aangeteken:

  • Een nege-jaar tydperk (1917 tot 1925).
  • Een agt-jaar tydperk (1911 tot 1918).
  • Een sewe-jaar tydperk (1974 tot 1980).
  • Twee ses-jaar tydperke (1989 tot 1994, 1997 tot 2002).
  • Twee vyf-jaar tydperke (1940 tot 1944, 2005 tot 2009).
  • Dertien een-jaar tydperke.
Figuur 3: Seisoenale reënvalafwykings van die gemiddeld in Askham tussen 1916 en 2020.

Wat bepaal ’n droogte?

Johan sê aardverwarming is ’n gegewe, maar nie alles kan daaraan toegeskryf word nie. Daar is verskillende definisies van droogtes, afhangend vanuit watter oogpunt jy daarna kyk. Weerkundige droogtes is wanneer ondergemiddelde reënval voorkom. Vir landbouprodusente is daar ook landboudroogtes. Dit gebeur wanneer die regte hoeveelheid reën nie in die groeiseisoen val nie.

Daar is ook ’n hidrologiese droogte – wanneer die oppervlakwater nie voldoende is nie. Redelike reën kan val, maar daar is nie noodwendig genoeg afloop om damme vol te maak nie. ’n Sosio-ekonomiese droogte is wanneer produsente nie meer volhoubaar kan boer nie. Dit het weer ’n groot invloed op water- en voedselsekerheid.

Verskeie faktore moet in ag geneem word. Aan sommige kan niks gedoen word nie – dit moet bloot bestuur word. Dit sluit klimaatsverandering, demografiese veranderinge en veranderende ekostelsels in. Daar is ook sekere faktore wat ’n droogte kan vererger, maar waaraan jy wél iets kan doen. Om voorbereid te wees op die weersveranderinge en nie hoër verwagtinge te koester as wat realisties is nie, sal produsente baat. Wees ook versigtig vir oorbenutting van veld, sny jou lewenskoste en verstaan die risiko’s op jou plaas.

Bestuur van droë en nat jare

“Boere is onder baie druk om meer te produseer en volhoubaar te boer. Hulle moet groter gaan, hoër opbrengste realiseer, tegnologie moet verbeter en so word ál hoër eise aan boerderye gestel. Die geringste verandering in die klimaat kan enige boer se beplanning deurmekaar krap. Boere ervaar die droogte dan droër as wat dit werklik is. Daar moet betyds beplan word met die oog op ’n verandering in die klimaat en reënval,” verduidelik hy.

’n Studie oor reënvalpatrone in die Bo-Karoo deur Hannes Gerber van die Noord-Kaapse departement van landbou toon dat dié gebied, wat ook dikwels onder droogtes gebuk gaan, die afgelope agt dekades eintlik meer reën as in die verlede gekry het. In die laaste 30 jaar was die reënval hoër as in die tydperk vóór 1989.

Hannes kom tot die gevolgtrekking dat produsente in dié gebiede egter nie oorgerus moet wees nie, maar eerder elke geleentheid moet gebruik om vir die volgende droogte voor te berei. “Produsente in droë streke het al geleer om by moeilike omstandighede aan te pas, maar ook om in beter omstandighede uit te brei.

“Dit is belangrik vir landbouers om weerpatrone en -siklusse te verstaan, en om bestuurspraktyke by die omstandighede aan te pas, soos om met aangepaste veerasse te boer, getalle betyds te verminder sodat hulle steeds op die beskikbare veld kan oorleef, en volhoubare weidingsbestuur toe te pas. Alle droogtes word deur nat seisoene gevolg, en in baie gevalle, uitermatige nat seisoene,” sê hy.

Johan stem saam dat produsente gereed moet bly. Planne moet vroegtydig gemaak word vir die droër siklusse wat dikwels ná ’n goeie, nat jaar volg.

Hy is egter positief oor die goeie jaar wat landbouers kan verwag, maar waarsku dat reën nie die enigste faktor vir volhoubare boerdery is nie. Goeie reën het ook nadele waarmee produsente moet tred hou. Peste, plae en onverwagte dieresiektes kan maklik kop uitsteek en moet reg bestuur word.

Vir meer inligting, kontak Johan van den Berg by 082 374 4692 of epos wjvandenberg1959gmail.com.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene
,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom